tuimel

Dat ek nou sowaar 50 moes word voor ek ‘n tuimeldroër aanskaf! 😯 As my vriendin, Liomé, dit hoor, sal sy op haar rug val van verbasing. Sy weet hoe ek in my jongdae oor ‘n tuimeldroër te kere gegaan het!

My teësin in ‘n tuimeldroër het in 1981 ontstaan, toe ek ‘n jong student op Stellenbosch was. Die koshuis het sulke groot industriële wasmasjiene en tuimeldroërs gehad, soos hulle seker vandag nog het. Wasgoed was 20 minute in die wasmasjien en 20 minute in die tuimeldroër. Dan, ná die 20 minute het die wasgoed kliphard, stomend uit die tuimeldroër gekom. Panties was die ergste. Die rek het lettelik begin kook en as dit dan uit die tuimeldroër kom, het dit heeltemal verbrokkel. Maar die ergste was my ondervinding met my splinternuwe tweedehandse Matie sweetpak. Dit het seker nog wol ook bevat daardie dae. Dit was ‘n Netjiese Sweetpak! Hý het na die eerste was by my knieë gesit!! 😦 Ek het dit vir ‘n meisie gegee vir wie dit kort en breed genoeg was! 😉

Wel, toé het ek besluit: Nie weer met my klere in ‘n tuimeldroër nie. In elk geval, daardie vesels wat jy uit sy filter uithaal, is JOU KLERE!! 😯

Ek het my kinders grootgemaak, lapdoeke en tweeling en al, sonder ‘n tuimeldroër. Sans Souci se huis het so ‘n lang stoep gehad, waarvan die volle lengte ‘n wasgoeddraad gehad het. Kommin of nie, ek het dit GEBRUIK. As die eerste reënbui uitsak, begin ek wasgoed was en hang dit dan op die stoep. My huidige huis het nie binne ophangplek nie. So daar is ‘n staander waarop ‘n paar goed kan hang. Alles wat op hangers kan droog word, hang aan die veiligheidshek. En dan is daar so ‘n kort draadjie waarop ook ‘n paar goedjies kan hang. Dis nou as dit reën. Anders maak ek gebruik van die sonlig wat so vrymoedig en in oorvloed aan ons geskenk word.

Toe die seuns universiteit toe is, het ek so ‘n waaier-bedryf aangeskaf, wat op sy manier tog die goed droog gekry het. Maar toe die winter vanjaar begin, en my dogter kom huis toe, kan sy net nie meer nie. “Ma, kan ons nie ASSEBLIEF ‘n tuimeldroër koop nie?” Net daar doen ek toe die REUSE stap. Dis soos Nokia mense wat skielik ‘n Blackberry koop. Amper heiligskennis! 😉

Al wat ek wil sê, dis HEERLIK! Ek gebruik dit steeds net in nat weer en noodgevalle. Ek glo steeds die son maak klere vinniger droog. En ja, ek gooi die vesels, wat my KLERE is, weg…

tuimeltoorts

 

18 thoughts on “tuimel

  1. El maak AL die gastehuis se beddegoed in daardie industriële droërs droog. En AL my klere gaan ook eers vir 10 minute in. Alles hou vorm, en ek stryk net beddegoed. Eintlik hoef ek nie, maar dit moet gestryk LYK.

    Like

  2. Hehehe, lekker storie. Ek het groot geword met ‘n tuimeldroër by die huis. Dit was heerlik in die winter om gou die oggend voor skool jou klere daarin te gooi en dan lekker warm aan te trek. Waar ons nou bly het ek 10 jaar laas ‘n tuimeldroër gebruik. Ook in die winter hang ons klere in die kelder, en word op die ou end droog 😉 Maar ek mis dit nie (ook nie oor die kreukels nie, want ek stryk ook nie), want ek is skrikkerig dat dit te veel elektrisiteit gebruik.
    ‘n Skottelgoedwasser is my swak plek. Amper twee jaar uitgehou sonder een, toe moes ons een koop.

    Geniet dit!

    Like

  3. Toe my oudste baba was, en dit het gereen, het ek die doeke in een van Johannesburg se launderettes gaan tuimeldroog. Ek was seker oorywerig met die vaseline( dit was my eersteling!), want toe ek die doeke uithaal, voel dit so kokend warm. Toe trek daar ‘n rokie en di hele spul doeke bars in vlamme uit. Net daar verbrand al my kosbare doeke voor my oe.
    Sent from my BlackBerry®

    Like

  4. Toortsie, het jy ook ‘n tweeling – ek het 3 seuns waarvan 2 ‘n tweeling is! Nee, die tuimeldroer was – toe hulle almal klein was – een van my 2 beste vriende – die ander was die wasmasjien!

    Like

  5. Lag ek nou vir seegogga se vlammende doeke 😯 Wasgoed wat uit die tuimeldroër kom is hemels…. ek kan amper ‘n advertensie maak so in ekstase raak ek. Enigste probleem is dat ek nou op my oudag nie meer ‘n tuimeldroër het nie 😦 Moenie vra hoekom nie, dit is ‘n seer punt.

    Like

  6. Daars niks so lekker as die sonreuk in wasgoed nie. Ek het net ‘n tuimeldroeer gehad toe die kinders klein was, toe dit breek, het ek dit nooit vervang nie. Maar die huis waar ek nou bly se wasgoedlyn kry nie baie son nie, ek oorweeg nou weer sterk om ene te kry.

    Like

        1. Oor die Gobii. Dink mooi. Dis ‘n heerlike ding om te hê maar die Gobii (myne en ek het al gehoor van ander s’n ook) vries, en gooi jou soms uit die program uit. As jy nie gereeld “refresh” nie, verloor jy dan jou plek.
          Ek is baie baie lief vir my Gobii maar ek wonder of jy nie ‘n ander E-reader moet koop nie. Wat natuurlik lekker is van die Gobii is dat jy Kalahari boeke daarop kan lees. Kalahari boeke se formaat is EPUB, so, as jy ‘n ander E-reader koop, maak net seker of hy EPUB kan lees. Ek is maar dom met die goed. Son het een keer geskryf oor een wat sy gekoop het. https://kouevuur.wordpress.com/2011/07/12/my-nuwe-speelding/

          Like

          1. Dankie Toorts – ek gaan gou bietjie daar lees. ‘n Mens lees mos oor die goed maar voor jy nie dit self in jou hand het nie, kan hulle mos vir jou kop se snert vertel en jy sal dit glo ook nog.

            Like

  7. Hallo Toorts! Lanklaas saam gekuier… Ek is nou al jare sonder my tuimeldroeër en kom goed reg. Ek verkies ook maar buite ophang. Hier by ons is ‘n lekker groot motorhuis wat vier motors en nog kan berg. Daar staan so twirly wat nie twirl nie en ek hang maar daar op as die mis of sand alles onplesierig maak. Ek het lank in ‘n woonstel gebly waar ek nie anders kon as om die droeër te gebruik nie; ons wasgoed het verdwyn van die lyne af. Ek het eendag op die vyfde vloer gestaan en kyk hoe die wind ‘n hele lyn wasgoed van die dak afgewaai het (21ste vloer). Daar het ek gly gekry in die ding – die woonstel kon maar lekker bedompig raak met vier mense se klere, skoolklere en weermag uniforms en linne. My ou slaaf van 22 jaar staan nou by my dogter in die Kaap – sy het hom nodiger as ek. Hy werk nog mooi, kerm net as hy aangesit word so in die eerste paar draaie.

    Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s