Lief en leed van ‘n swaai

Kenneth was nog klein toe ons by my skoonsus ‘n tweesitplekswaai gekry het.  ‘n Mens kyk nie ‘n gegewe perd in die bek nie, maar party van hierdie perd se tande het net aan een skroef gehang, terwyl daar op ander plekke net gapings was.  Ken het die swaai onder hande geneem, en kort voor lank toe swaai Kenneth hoog op die perd se rug.  Toe Marlè bykom gaan dit eers rof, en al klaend – soos net ‘n swaai kan kla – dien die swaai die twee kinders getrou, en trek saam met ons tussen die mielielande in.

1979 -0009Die twee langbeenkinders gebruik hom nou as klimraam, maar kort voor lank is daar weer korter beentjies op die erf, en hy hervat klaend sy werk as ‘n swaai.  Met tye kreun hy onder die gewig van kinders wat soos vinke aan hom hang, maar hy vra nie veel nie, net so af en toe ‘n lagie verf, of die toemaak van ‘n gaping.

Een middag is daar ‘n klop aan ons voordeur.  Ek maak die deur oop, en daar staan buurvrou – dieselfde een wat oor die haan gekla het –  met ‘n oliekan in haar hand.  Ek word plegtig meegedeel dat sy gekom het om die swaai te olie.  Ek nooi haar in, en stap saam met haar tot by die agterdeur.  Sy storm die agterplaas binne, boender die kinders van die swaai af, en takel die niksvermoedende swaai met mening.  Alles wat uit- of afgehaal kan word, word uit- en afgehaal en met olie gesmeer.  In sy naaktheid staan die swaai daar, en om hom grootoog kinders wat die petalje oopmond gade slaan.  Toe sy klaar is draai buurvrou om en verdwyn sonder woorde om die hoek van die huis.  Versigtig klim die kinders terug op die swaai, en tot hulle bittere spyt is hy stil.  Maar die swaai se skrik, of is dit skaamte… het nie lank gehou nie, ‘n dag of twee later was hy sy ou klaende self.

Met kinderpartytjies word hy deel van ‘n hindernisbaan, en dit is op sy bankies waar die dogters in hulle rooihakskeentydperk, giggelend geheime in hulle vriendinne se ore fluister.

En toe op ‘n dag is dit ek wat grootoog, en heeltemal verdwaas by die swaai staan en staar.  Dit was weer sulke tyd, die swaai het TLC nodig gehad.  Ek vra Jan, ons tuinman om die swaai vir my reg te maak, en gaan wys hom in die motorhuis die hout wat hy daarvoor kan gebruik.  Ken het oor die telefoon instruksies gegee dat Jan die uitgekerfte deurtjies, en kopstuk van die oukas wat hy by sy oupa geërf, en besig was om te restoureer, moet uitlos. So gesê, so gedaan, en daarmee los ek Jan om die werk in vrede te doen.  Heelwat later word ek geroep om sy werk te “ok,” voordat hy dit verf.  By die swaai aangekom word ek yskoud; Waar daar eers gapings in die sitplekke en voetstuk van die swaai was, pryk daar nou van die oukas se pragtige handuitgekerfte stukke hout.

Ek weet nie waar die swaai vandag is nie; miskien het sy klaaglied stil geword, maar hom vergeet die kan ek nie.  Nie terwyl die oukas kroonloos hier in ons huis staan nie.

6 thoughts on “Lief en leed van ‘n swaai

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s