Boskamp

Terwyl ek vir 3 dae in die Kruger Wildtuin te voet tussen die bosse en diere deurgebring het, het ek soveel keer die woorde in my kop gehad wat ek hier wou kom skryf. Maar dan het ek nie my rekenaar by my gehad nie en nou het daardie lekker woorde in die bos agtergebly… nes my spore…. 🙂

Al wat ek weet, is dat dit een ding is om in die wildtuin in ‘n motor te ry en die trop olifante kom voor jou verby gestap. Dis ‘n heel ander ervaring om te voet te wees, enkele meters van die olifant af, met net ‘n dunne doringboompie om agter te skuil, dít terwyl die betrokke olifant heeltemal daarvan bewus is dat jy daar staan, én nie lekker voel nie, want hy was in ‘n geveg betrokke en daar is ‘n gat in sy kop…   Dis sulke tye wat jy leer wat is totale oorgawe, want jy weet jy kan op die aarde niks doen nie. Nie hardloop nie. Nie skree nie. Net stilstaan en vertrou in God en in die veldwagters wat duidelik weet wat hulle doen. Video.

Weet julle hoe voel dit om naby naby aan ‘n trop zebras verby te stap, terwyl hulle vir jou kyk, met ‘n kameelperd wat versigtig agter jou aanstap, net om seker te maak jy loop wel weg?

Om in die aand in Etosha in ‘n kamp te sit, veilig agter drade, en die wit renosters baklei voor jou by ‘n watergat wat verlig is, is ‘n ervaring wat jy nooit vergeet nie. Om egter ‘n hele dag lank in digte bos te stap, oral die spoor en merke van renosters te sien, uriene wat nog warm is… om gewaarsku te wees dat ons op swart renosters kan afkom, wat glo in die beste van omstandighede uiters aggressief is… en dan ‘n hele trop van hulle (swartes) raak te loop terwyl twee bulle verwoed baklei…   onbeskryflik!

Om ‘n boskamp in die Kruger Wildtuin mee te maak is iets van die mees spesiale dinge wat ek in my lewe gedoen het. Soveel bederf. Elke aand ‘n ekstra lang nagrit waar diere wat jy gewoonlik nie sien nie, te sien is. Allerhande soorte baie skaars katte. Weet julle hoe lyk 6 jagluiperde by mekaar? Dis ook blykbaar ‘n rariteit om soveel saam te sien. Weet julle hoe fantasties is dit as jy ‘n hele trop wit renosters in die pad kry in die nag? en hulle kom rustig nader en nader aan die voertuig? Sundowners by watergate en uitkykpunte…

Baie baie dankie aan die erewagte van die Oos Rand Streek. Dis al wat ek kan sê. Dankie. Baie baie dankie aan die twee veldwagte, Jannie Jurgen en Scott Walker vir die manier wat julle die diere, die veld en die mense in julle sorg hanteer het. Danksy julle het ons veilig gevoel.

willetoorts

 

14 thoughts on “Boskamp

    1. Ek het vooraf ewe grootmond gesê: “As die leeu my gryp, moenie sê TRAGIES nie. Sê ‘What a way to go’…. ”
      Gelukkig hoef julle dit toe nie te gesê het nie, maar as dit sou wees….. “What a way to go!!”!! 🙂

      Like

      1. Nee maggies Toorts…. that is most definitely NOT the way to go!!!!!!!!! Eerder ‘n Daniël in die leeukuil as brawe Toorts…. of willtoorts 🙂

        Like

  1. Sjoe ek dink dit moet wonderlik wees om dit te doen, maar ek sal dit nooit ooit doen nie, eks heeltemaal te bang. Vir ‘n leeu.

    Like

    1. Ek dink ook nie ek het regtig besef wat ek doen nie. Dit lyk my die leeu is NIE die gevaarlikste een nie. ‘n Hele trop leeus het vir ons gevlug. Blykbaar as hulle kleintjies het, is hulle gevaarliker. Dis meer die groot diere wat nogals erg is. Die veldwagters ken gelukkig hulle werk, hulle ken die natuur en weet presies hoe om dit te lees. Ons het gou gewoond geraak aan die gevoel… 🙂

      Like

  2. Wow Wow! Ek is so bly jy is so dapper. Dit moes wonderlik gewees het! Ek was eenkeer op ‘n dagstappie in die Kruger, maar ons het niks gesien nie, En jare terug het ek en ‘n paar mense te voet die Moremi wildreservaat in Botswana aangedurf – sonder ‘n veldwagter, geweer of enige kennis. Gelukkig het ons net ‘n paar vlakvarke gesien,met stertjies in die lug, en baie troupante, Anders was ek dalk nie hier om kommentaar te lewer nie.

    Like

    1. Praat van dapper!!! Ek dink nie ‘n mens kan hierdie groot diere sommer net aandurf nie. Die veldwagter het vir my gesê: “Die grootste geheim is om in en uit hulle gebied te beweeg sonder dat hulle eers daarvan bewus is.” 🙂

      Like

  3. Soek al die hele week kansie om jou ‘n kloppie op die skouer te gee oor jou dapper daad en boskamp ondervinding. Sou dit vrekgraag self wou doen. Kan net dink wattter heerlike herinneringe jy daaraan het. En ja, te min woorde om die werklike wonder te beskryf.

    Like

Gesels saam, asseblief!