Trourokke

imagesAs dogtertjies veronderstel is om oor hulle prins te droom, en nie kan wag vir die dag waarop hulle in ‘n wit wasigheid die kerk afstap, om ‘n belofte van trou af te lê nie – was ek nie ‘n gewone dogtertjie nie.  Die prins en die belofte aflê was nie die probleem nie, dit was daardie wit wasigheid waarvoor ek nie kans gesien het nie.

My ma het nie net trourokke gemaak nie, dit was haar passie.  Van kleintyd af is ons deur satyn, kant, net, krale en hooftooisels omring.  Alles rondom daardie wit rok – wat partykeer my handewerk in krale ingesluit het – was vir my pragtig, solank dit nie ek is wat dit moet aantrek nie.  Wanneer die bruid – vergesel deur haar ma – kom pas, het ek ingeglip en stilletjies eenkant gaan sit om die skouspel dop te hou.  Die voornemende bruid stralend voor ‘n vollengte spieël.  Haar ma wat haar van alkant soos ‘n skouperd bekyk.  My ma blinkoog, met spelde in haar mond wat hier vat, en daar stywer trek, en dan voor die bruid op haar knieë rondkruip om die lengte van die rok te bepaal.  Onder gelag en gesels word die rok oor die bruid se kop gelig, en versigtig neergelê.

Die eindproduk was altyd sprokiesmooi, maar nie eers toe ek as jongmeisie ontwaak het, het daar by my ‘n begeerte opgekom om eendag in so ‘n rok te trou nie.  Inteendeel, ek was smoorkwaad toe ek op sestienjarige ouderdom gedwing was om my ousus se strooimeisie te wees, en het soos halstarrige perd vasgeskop wanneer daardie gehate rok gepas moes word.  Jy kon my dus met ‘n veer omtik die dag toe ek my ma hoor sê; “Ek droom oor die dag wanneer jy gaan trou; jou rok gaan my mooiste skepping ooit wees.”  Eers staar ek haar net aan, en bars toe los, “Vergeet dit, daar is nie ‘n manier waarop ek in ‘n trourok sal trou nie….. NOOIT!!”  Sy laat haar nie afskrik nie, “Jy sê nou so maar gee tyd, jy sal nog anderste daaroor voel.  My ma kon droom maar een ding het ek verseker geweet; ek wil nie, en ek sal nie in ‘n trourok ‘n kerkpaadjie afstap nie…. hulle kan my met osse sleep maar gewilliglik… NOOIT.

Van my ma se drome het daar niks gekom nie; ek is ‘n paar jaar later in ‘n roomkleurige jas, en ‘n hoed van appelkooskleur, in die hof getroud.  Dat ek bereid was om ‘n hoed op te sit was ‘n wonder.  Behalwe vir die oomblik toe my ousus ‘n foto wou neem, en die “flashcube” uit die kamera spring, en voor die regter op die lessenaar beland, onthou ek van daardie geleentheid niks.  Sou ‘n wit rok, ‘n kerk vol mense, en ‘n kansel ‘n verskil gemaak het?  Ek weet nie.

In haar gryse ouderdom het my ma dikwels – met pyn in haar oë – oor die trourokke gepraat; “My handewerk van al die jare het so min betekenis,” sou sy sê.  “Ek het mense in hulle sonde gehelp…. so baie van hulle is weer geskei.”  Haar woorde het bekend gelui; “Vanity of vanities,” says the Preacher; “Vanity of vanities, all is vanity.”  What profit has a man from all his labour in which he toils under the sun?  Maar wie is ek om te praat, miskien het elke vrou ‘n dag in wasige wit nodig om op terug te kyk.

15 thoughts on “Trourokke

  1. Loop ek nou wragtig vanaand ‘n sielsgenoot raak. Ek het ook verseg om in ‘n wit rok te trou. siende dat ek my ma se kind is, het sy geweet, ek sal regtig eerder ‘n oujongnooi word as om in ‘n wit rok te gaan trou. Sy het my laat begaan. Weet jy wat my die meeste afpis van troues? DAARDIE DONN…. speeches.

    Like

    1. Dit is lekker om te weet iemand verstaan presies hoe jy voel. Daardie weet dat jy weet dat ‘n wit rok nie jy is nie 🙂 Ek gun elke vrou haar rok…. en ‘n mooi troue, los my net uit.

      Like

  2. So het elkeen maar sy eie idees en behoefte. Geluk dat jy sterk genoeg was om nie teen jou sin in wit te trou nie. Dalk moet ek jou navolg en oor my rok ook skryf.

    Like

  3. Omtrent 10 jaar lank het ek die sjampanjekleur rok se prentjie gebere en die dag toe ek trou moes ek net keer of my glimlag het om my kop gegaan. My tannie het die rok gemaak en geen wyl of kroontjie nie. SO MOOI gevoel. Toe elkeen van my 3 dogters trou het hulle droomrokke gehad (wel binne ons budget :-), heel tradisioneel / ‘vintage’ en ek kan vir jou eerlik sê, elkeen van hulle het soos ‘n prinses gelyk, soveel so dat Wyseman begin huil het toe hy in die aantrekkamer kom om elk kapel toe te vergesel. Hulle troues was tweeledig, ‘n groot ‘celebration’ van God se liefde en genade en ook familiefees. Dit is baie spesiaal en daardie wonderlike memories gaan vir altyd gekoester word. Net jammer dit werk nie maanskyn en rose uit vir almal nie.

    Like

    1. Dankie vir die deel vega, dit is pragtig – het trane in my oë gebring!!!
      Ons vier dogters het ook in volle glorie getrou, en elkeen was uniek, en pragtig, en ek het my in hulle verlustig.
      Maar dan kry jy mense soos ‘n kameel wat eerder sal dood as om in ‘n trourok gesien te word 😦

      Like

      1. Vega, ek dink nou; ‘n Mens soos jy moes in my ma se oudag oor haar pad gekom het. As jy vir haar gesê het wat jy hierbo geskryf het, sou daar nie die pyn in haar oë gewees het wanneer sy oor haar lewenswerk gepraat het nie. Ek het nie geweet hoe om vir haar vertroosting te bring nie want ek konnie uit ondervinding praat nie.

        Like

  4. hehe, dis nou interessant, die witrok-fobie. my trourok het R30 gekos sovêr ek kan onthou. het die mooiste groen katoen sis-lap (shi-shi, of wat noem mens dit nou weer?) by ‘n indiër in pretoria gekoop, en my ma se vriendin het ‘n lang wye romp daarvan gemaak (wat ek saam my beste vriendin se “rompnet” gedra het, (wat ‘n week na my getrou het), anders was dit nie uitskop nie). ek het dit saam ‘n wit spaghetti band bostuk gedra en natuurlik kaalvoet getrou. kyk, noudat jy dit noem, ek sal die spierste wit rok dra wat jy my kan bring, maar ek WEIER VOLSTREK om trouskoene te dra!! jare na die troue het ek die van die romp se voue laat uitsny dat dit soos ‘n gewone romp gedra kan word want die lap is net te mooi (dis nog bietjies te wyd, sal nog moet sny). ek is MAL oor rompe, het seker 20, en net twee langbroeke!

    Like

    1. Sien Karen, jy was ook jou eie mens…. en het dit op jou manier gedoen. Het jy op die strand getrou so kaalvoet? Vertel, vertel!!!!
      Ek loop altyd kaalvoet, as ek kan, en dink ek sou op my gemaklikste gevoel het om so natuurlik as moontlik te trou. Die jas en hoed was nie ek nie, maar iewers moes ek skiet gee 😉 Jy weet ek het mos in die jare toet grootgeword, en alles was baie prim and proper daardie jare 😦

      Like

  5. Kameel, ek wou ook nie in ‘n trourok trou nie, en nou – jare later – het ek ‘n ‘ding’ oor trourokke ontwikkel en voel dit vir my so bietjie ek het wel uitgemis op iets spesiaal. Ek het nou 2 ou trourokke (van veilings af) en beplan om eendag een aan te trek en uit te ry na ‘n railway siding hier in die omgewing met die naam “Dwaal”. Want “Dwaal” klink vir my na die soort plek waar ek wil rondloop in ‘n trourok (al is dit dan sonder die troue!) 🙂

    Like

    1. Vreemdeling nou het jy my lekker laat glimlag 🙂
      Ek hoop van harte jy doen dit 😆 en skryf vir ons ‘n storie oor jou trourok dwalery op “Dwaal!!!” Gits nou klink dit vir my so spokerig 😯

      Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s