Uit my dagboek

Vyfuur – ek is vanoggend vroeg wakker, buite is dit nog donker.  Voëlgeluide vul die lug.  Die minute tik verby; die koue kruip met ysge vingers teen my liggaam op.  Die son behoort nou enige oomblik sy kop uit te steek; die koudste tyd is mos net voor sonsopkoms.

Ek staan op, trek die gordyne oop en klim terug in die bed.  Met die komberse tot teen my ken opgetrek lê en luister ek na ‘n wêreld wat besig is om te ontwaak.  Strale van die son val oor die bed, en verdryf stadig maar seker die koue uit my liggaam.  Ek is lief vir winterson maar nie vir winter nie.  Tog is daar iets betowerend aan winter; Pannekoek met kaneelsuiker; bekers warm sop waarom ‘n mens jou hande kan warm maak; snoesige truie en stewels…. en die wonder van ‘n lewe sonder vlieë en muskiete.

Background  (36)Vanwaar ek lê kan ek die bedding varkore buitekant die kamervenster sien.  Op lang stele pronk groot wit kelke statig asof intens bewus van hulle skoonheid.  In die kelk van elke varkoor sien ek Marlè se gesig.  Haar liefde vir varkore verbind haar onafskeidbaar aan die blomme.  Vir haar is hulle ‘n simbool van reinheid en volmaaktheid.  Dan onthou ek Rika se woorde die dag toe die varkore geplant is; “Hulle is met soveel liefde deur Elize aan jou gegee dat hulle nie ‘n keuse het as om mooi te groei nie.”  Is dit hoekom die varkore so besonders groot is?  Ek moet tog vir Elize laat weet hoeveel vreugde die blomme my gee.

Ek het nog een droom rondom die bedding varkore – ‘n fonteintjie om lewe toe te voeg.  Lopende water bring my tot stilstand en praat met my hart.  Dit laat my besef dat die lewe meer is as om asem te haal terwyl omstandighede jou versmoor.  Hy is die Lewende Water, en deur diep te drink uit hierdie fontein van Lewe, kan ons bokant ons omstandighede uitsweef.

Dit is jare later.  Op hierdie wintersoggend lê ek en luister na die water uit die fonteintjie voor die kamerventster.  Die fonteintjie kom uit Rika se tuin; sy het hom nie meer nodig nie – sy sit nou aan die voete van die Bron van Lewe, so ook Elize wat kort na haar aan kanker oorlede is.  Varkore is daar ook nie meer nie; hulle het deur die jare begin kwyn en toe nie weer opgekom nie.  Marlè se liefde vir varkore blom egter voort; sy het ‘n verfkwas opgeneem en skilder hulle nou.

Ek wens die varkore wil net een winter weer blom soos op daardie oggend lank gelede.

12 thoughts on “Uit my dagboek

    1. Marlè sou nou ‘n luide “AMEN” hierop gesê het 😉 Hulle is pragtig. Ek wonder watse blom sou ek kies as ek net een blom uit al die menigte kon kies? Het jy ‘n gunsteling blom?

      Like

      1. Nee, nie spesifiek nie, maar ek het al agtergekom ek hou meer van wit blomme as ander en ek hou meer van die enkel soort blomme( met minder en eenvoudiger blare) as die dubbeles. En jy?

        Like

        1. My oë verlustig hulle in “mooi,” – tot die blomme van onkruid langs die pad. Ek sal baie moeilik ‘n blom kan uitsonder. My ma wou rooi rose op haar kis hê, dit is ook Jay se keuse. Marlè natuurlik varkore. Ekke? aikona moenie my vra nie….. net nie Gladiolus nie asb…. net nie Gladiolus nie.

          Like

  1. Waar ek elke dag vir jare by die eetkamertafel gesit het, kon ek die bedding varkore ook dophou. Nou sien ek hulle net in my gedagtes want ek is nou in ‘n tehuis, gelukkig met ‘n pragtige uitsig oor die tuin – maar geen varkore nie.

    Like

    1. Ai klippie jy het nie ‘n idee hoe bly ek is om van jou te hoor nie!!!! Ek het al so oor jou gewonder. Verlede Donderdag vertel ek my vriendin van al die mense wat ‘n mens deur die blogs leer “ken,” en dat klippie net spoorloos verdwyn het. “Hoe gaan ek nou uitvind wat van haar geword het?” sê ek so ewe…. en hier daag klippie uit die bloute op 😆 Vertrou jy is baie gelukkig in die tehuis, met sy uitsig oor die tuin.

      Like

    1. Hulle is pragtig, en ruik so lekker. Daar was nie veel sprake van tuin by my skoonma hulle nie, maar haar pronkertjies was ‘n gesig om te aanskou. Ek het nog nooit veel geluk met hulle gehad nie…. dus bewonder ek maar ander s’n 🙂

      Like

  2. Kameel, ek het ‘n gunstelingblom en dit is: varkore! Tweede is rose – maar hulle moet lekker ruik. Was een keer by ‘n roosplaas in die Elgin-omgewing, dink ek – sooo mooi!

    Like

    1. Ek dink tog ek verkies wit blomme 🙂 Weet nie of ons van dieselfde roosplaas praat nie, maar hier buite Pretoria is een wat ek en Ken een oggend besoek het. Ek konnie die “mooi,” glo nie… dit was sprokieswêreld. Toe ek tussen al daardie mooi, roosbome vir my tuin moes kies, toe koop ek Icebergs!!!

      Like

      1. Ag wat, Kameel, nou het jy ‘n verskoning om terug te gaan 🙂 Nee, ek dink dis dieselfde plaas nie – hierdie een is naby Grabouw of Elgin iewers. Ek het ongelukkig nie eintlik foto’s geneem nie, was seker te oorweldig deur al die mooi en al die lekker reuke!

        Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s