tamaties

“Ouma, sê TAMATIE”….. “Tamatie” … “”Oupa doen Karate! :)”

(Gisteraand se storie): Dis al weer planttyd hier by ons. Dit beteken dat manlief later saans huistoe kom. Dit het my nou weer tyd gegee om in die boks tamaties wat ek present gekry het, te spring. 🙂

Terwyl die potjie ertjiesop rustig warm word, is daar twee groot kastrolle besig om hulle kant te bring.  In die een pot maak ek Tamatie-Relish, wat ek meer as 20 jaar gelede laas gemaak het. Dis ‘n tipe sous, en as ek so proe daaraan, het dit nogals ‘n effense byt in. Ek dink dit sal by Hotdogs lekker wees, of oor spaghetti. Die ander resep is Tamatieblatjang, uit die Kook en Geniet. Ek het dit nog nooit voorheen gemaak nie, so ek kan nie eintlik veel vertel nie.

??????????????????????????????? ???????????????????????????????Tamatie Relish (Tannie Bettie Smal se resep)

3 Kg ryp tamaties

1 kg uie, fyn gekap

kwart koppie sout

375 ml asyn

750 g suiker

Kook tot uie redelik gaar is.

Voeg by:

2 eetlepels kerriepoeier

2 desertlepels mosterdpoeier

6 hoë eetlepels Maizena

Maak dit aan met ‘n bietjie asyn en roer in kokende mengsel.

Voeg dan by:

1 teelepel Peper

1 teelepel Naeltjies

1 teelepel Kaneel

1 teelepel Neut

1 teelepel gemmer

Kook alles saam vir 1 uur (stadig) en bottel warm.

??????????????????????????????? ??????????????????????????????? ???????????????????????????????Tamatieblatjang (Kook en Geniet)

1 kg Tamaties

250 g Bruinsuiker

1 k Asyn

250 g sultanas

12.5 ml mosterd

12.5 ml fyn gemmer

12.5 ml sout

2 uie, in dun skyfies gesny

1 ml rooipeper

Skil die tamaties af en sny hulle fyn. Meng al die bestanddele en kook dit stadig in ‘n emaljekastrol tot dit die regte dikte het. Roer dit af en toe om te voorkom dat dit brand.  Bottel terwyl dit warm is en verseël dit sodat geen metaal met die blatjang in aanraking kom nie.

Noudat dit klaar is kan ek sê: Dis HEERLIK!! Ek het dit redelik styf (droog) gekook en sal dit selfs as ‘n bykos by braaivleis bedien.

So, hoe lyk die eindproduk? ???????????????????????????????(Dis groot Mayonnaise potte)

En hoe voel die kok in die oggend daarná? Laat ons liewer nie uitbrei nie.

Daar’s nog tamaties oor, maar nie meer sultanas nie. Ek wonder of swart rosyntjies baie lelik sal wees in daardie blatjang?

probeerkokweestoorts

Toorts se Troutip: Die pad na ‘n man se hart is STEEDS deur sy maag….. maar my man hou nie van tamatie nie!! 😯

Toortsie se faceboekpage

Toortsie se Bantingboerekos faceboekpage (Hierdie twee resepte kwalifiseer beslis nie vir Banting nie!)

Toortsie by Finesse: Kleur

 

Advertisements

About Toortsie

'n Flitsliggie wat oral inskyn, ook waar dit soms ongemaklik is... A Toortsie is a small flashlight, like a torch.
This entry was posted in Kosdinge. Bookmark the permalink.

19 Responses to tamaties

  1. karen sê:

    Oe, dis nou net wat ek later die jaar gaan nodig hê. Het so paar weke terug begin tamaties saai, en ek hoop om baie plantjies te hê wat baie tamaties gaan dra. Maar die vraag is dan altyd, wat doen mens met so baie tamaties. Die tamatie blatjang lyk veral yummy. Dankie vir die resepte!

    Like

  2. d1rki3 sê:

    Ek is gaande oor tamatiekontfyt. Net ek wat dit eet , !!

    Like

    • Toortsie sê:

      Ek is nie ‘n goeie konfytkoker nie. Ek het te veel flops in my jongdae gemaak, dan moes ek dit alleen opeet. Ek was te arm om dit weg te gooi en die ander het hulle neuse opgetrek. So, eerder in die koslyn. Tamatiekonfyt is baie lekker.

      Like

  3. Vlooi sê:

    Ek haal my krimishoed af vir enige iemand wat iets suksesvol kan inlê. Kosmaak is terapie vir my, maar inlê? Not a flip – daardie neem ‘n ander tipe commitment.

    Van tyd tot tyd word ek wel geseën met homemade chillie-sous of soos vanoggend perske-goes-with-anything potjie vreugde. JD het groenvingers en lê in en brou en deel en ek ruil die vreugde met Stella’s Greek Delicatessen vir hom en sy vroulief saam met aandkoffie ( :

    ‘n Ligte histerie het my oorval namens jou Toorts vir die konsep dat jou man nie hou van tamaties nie…..

    Like

    • Toortsie sê:

      Ag, daar sal darem iets anders vir hom wees om te eet! 🙂 Ek lê graag in die vorm van “kos” in, iets wat ek weer later vir ‘n slaai kan gebruik. Dit help my geweldig baie as ons skielik gaste kry vir braai. Maar konfyt? Nee, daarmee is ek baie onseker.

      Like

    • Toortsie sê:

      Vlooi, ek het vandag gou roer-eier gemaak, en van die blatjang saam bedien. My manlief het tog te lekker geëet!

      Like

      • Vlooi sê:

        Dan liefste Toorts kan jy jouself op die skouer klop en breed glimlag dat jy suksesvol blatjang gemaak het!! Ek sou breë bors soos ‘n pronkduif wees nou ( :

        Like

  4. MaanKind sê:

    Daardie relish is heeeeerlik!

    Like

  5. Kameel sê:

    Ek hou van tamatiekonfyt maar daar trek ek die streep 😦 Dink ek moet die resep vir Chantè gee om uit te probeer…. wie weet miskien eet ek hierna tamatie relish.

    Like

  6. Slakkelak sê:

    Klnk my jy moes afgesluit het met fluksetoorts 🙂

    Like

  7. Olga sê:

    Hoekom sal swart rosyne nie werk nie? Ek wonder altyd oor die onderskeid. Gebleikte sultana, sultana, rosyntjie, semantics. Dink ek altans.

    Like

  8. lekkerjeuk sê:

    Genugtig, jy is fluks. Al doen jy party dinge net eenmaal elke twintig jaar. 🙂 My bemindste eet ook nie tamaties nie, ek moet selfs pasop dat dit nie aan ander goed in die slaai raak nie.

    Like

  9. Terug pieng: Inlê lekkerte | Toortsie, Kameel en Bokbaaivygie

  10. Terug pieng: Relish | Toortsie, Kameel en Bokbaaivygie se blog

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s