Waatlemoen!!!

Wat is lekkerder as ‘n soet, sappige, bloedrooi waatlemoen? Waatlemoen spel vir my vreugde, feesvier, vriende, plesier, waatlemoenfees, uitbundigheid. Beslis nie ‘n vrug wat jy skil en stoksielalleen sit en opeet nie.

In ons kinderdae was waatlemoeneet ‘n “geleentheid”. Ons het dit op die gras geëet sodat ons nie die hele wêreld vol sap mors nie. Eers het my pa, op ‘n skinkbord, die skywe gesny. Lang skywe in die lengte. As ons genoeg skywe geëet het, is die kroon gesny, die toppunt van lekkerte.

Later het ons slimmer geword. Groot ronde snye oor die dwarste is gesny. Dan kry jy sommer van die buitenste en die kroon gelyk. Die hele waatlemoen is sommer opgesny en in ‘n groot bak in die yskas gesit, sodat, wanneer jy lus het, jy ‘n stukkie kan neem.

Ek is MAL oor waatlemoen. ‘n Lekker waatlemoen is net baie LEKKER!! In die begin van die somer is waatlemoene by ons maar baie duur, want dit kom dan uit die Transvaal. Een keer was ek baie lus vir waatlemoen, maar voel toe dis nog te duur.  Om my aanvanklike lus te bevredig, koop ek toe net ‘n skyf. Toe ek by die kassier kom, sê sy: “Sjoe, die waatlemoene is darem duur! Almal kan maar net ‘n skyf koop. Net mev xxx kon ‘n hele een koop.” … en ek dink by myself: “Ag dankie tog dat ek nie ‘n hele een gevat het nie, anders het die hele dorp geweet mev … en mev Toortsie kon dit bekostig om ‘n hele een te koop!!! PLATTELAND!!! 🙂

Daar is soveel mense wat sê dat die suikerinhoud van waatlemoene baie hoog is en dit daarom nie so ‘n goeie vrug is om te eet nie. Ek mag dom wees, maar dit maak steeds nie vir my sin nie. Een jaar het ek my behoorlik vergryp aan waatlemoene en toe ek ‘n dag later my suiker en cholestrol laat toets, was dit die laagste ooit. En dit ná ‘n vakansie met braaivleis en als?  ‘n Dieetkundige het een keer vir my goeie raad gegee wat ek probeer navolg:”Moenie ‘n hele skyf op ‘n slag eet nie. Sny dit in blokkies, sit dit in die yskas, en elke keer wat jy daar verbyloop, eet jy net ‘n blokkie sodat jou  liggaam nie op een slag soveel suiker moet verwerk nie.”  So, nou loop ek my beentjies kort agter blokkies waatlemoen aan!! 😉

Ek dink ook dis iets wat ‘n verslanker maar kan eet. ‘n Medium skyf, gelykstaande aan twee koppies vol, tel 2. Ek werk op ‘n lekker stuk (‘n kwart van ‘n ronde?) as ‘n halfpunt.

Nee man, dis daar om te geniet!!!

21 thoughts on “Waatlemoen!!!

  1. Nnnnnaaaaa, Toorts, daai kundige het jou gevang! Dis nie die hoeveelheid waatlemoen op ‘n slag nie – dis daai aanmekaar se bene-kortloop wat die verskil maak!

    Veerkie sit vir Ding ‘n lekker sny chocolate koek neer en sê vir Ding as Ding nou net gou die en daai en die ander doen en hier en daar en oral gestap het, dan kan Ding heerlik lekker kom smul aan daai chocolate koek… Ding val daarvoor en teen die tyd dat Ding uiteindelik klaar is met die lys en net-net genoeg krag oor het om die teelepel met altwee bewende Rakakloue vas te hou om die koek te vervoer na Ding se smagtende lippe, is daai koek so uitgedroog dat Ding darem die Toyotasmile-glimlaggende hond daarmee ‘n ordentlike hou kan gooi wat hom in gelid met Ding laat tjank!

    Daar is kundiges wie net weet hoe! Glo my maar.

    Like

  2. Ek sluk ook die putte in. As kind onthou ek hoe ons hande viervoet gestaan het sodat al die waatlemoen kan afsak. Eet maar jou waatlemoen, soveel as wat jy wil. Hier gaan ons in elk geval nie lewendig uitkom nie!

    Like

  3. Ek is verlig om te hoor dat dit elders net so perperduur as hier is.

    Deesdae kan ‘n mens dit nie meer bekostig om met waatlemoen te mors (al is dit net met die skille) soos van ouds nie!

    🙂

    Like

  4. oeeee nammies, toorts

    ek lief enige vrug waatlemoen, mango, litchies hoe-hoe sakke vol…….

    ek hou daarvan om die waatlemoen so te sny soos jou snappie, want dan kry almal die lekker en die minder lekker, mammie het altyd die skil gebruik en sulke sappige soet waatlemoen-stukke gemaak, hhhmmmmmmmm hierdie suikerbekkie water sommer nou weer van voor af

    Like

  5. Ek eet alleen, so ek koop altyd net ‘n skyf waatlemoen. En dan sny ek dit uit die groen skil uit in sulke blokke en eet so drie dae aan daai skyf. Toe ek swanger was met Megan, was dit hoogsomer en vrek warm en ek het omtrent net waatlemoen geëet. Aan die einde van my swangerskap was ek gesond en het minder geweeg as voor die tyd. Bogger daai storie van te veel suiker. Wag, laat ek daai kosblik waatlemoen gaan haal in die werk se yskas, voor ek vergeet daarvan!

    Like

    1. Son nou dat jy so praat van swanger wees en waatlemoen; met my een seun se swangerskap wou ek net waatlemoen eet. Die waatlemoen in die helfte gesny en sommer met ‘n lepel in hom ingevaar. Dan onderstebo in die yskys teruggesit… en kort-kort deur die dag en tot in die nag opgestaan om ‘n paar lepelsvol te eet. Na my seun se geboorte kom my eks hoog in skik met ‘n stuk waatlemoen kuier…… en net daar word ek naar toe ek die waatlemoen sien. My waatlemoenlus was verby 🙂

      Like

  6. As kind was waatlemoen-eet vir ons ook so ‘n plegtige geleentheid, net soos jy dit so mooi beskryf het. Net Pa kon die ding sny – dit was sy voorreg en reg en daarvoor het hy ook die eerste stuk kroon gekry.

    Like

  7. Mmmm, maak jy my nou lus vir ‘n lekker stuk waatlemoen.
    My gunsteling…sny die waatlemoen in blokkies. Laat dit vir so ‘n paar uur in die yskas week nadat jy vodka daaroor gedruppel het…draai elke blokkie nou in ‘n stukkie parmaham toe…mmmmmm

    Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s