“Daar is Mara,” (skuilnaam) sê Ken, en beduie na ‘n motor wat by die petrolpomp staan. In verwondering staar ek na die vrou agter die stuurwiel. Haar mondhoeke rem ondertoe; die geplooide gesig ‘n harde masker van verbittering. “Sien jy nou wat ek bedoel het,” vra Ken. Ek knik my kop, en staar die motor agterna toe dit wegtrek. “Waarom is sy so verbitterd?” vra ek sonder om ‘n antwoord te verwag. Die vraag bly in die lug hang.
Met haar ligte vel, blonde hare, en blou oë was Mara ‘n aantreklike vrou. Sy was die enigste kind van welgestelde ouers, en is met Ken se oudste broer Ross, getroud. Alhoewel sy nie ‘n warm hartlike persoonlikheid gehad het nie, was sy beskaafd genoeg om ons ordentelik te ontvang wanneer ons by hulle aan huis gekom het. Behalwe vir Ken se pa, het die res van die familie nie veel ooghare vir my gehad nie; dus het ‘n koue skouer my so af en toe nie veel gepla nie.
Maar dit was vir ons eienaardig toe hulle sonder om Ken te laat weet, of groet Suidkus toe trek. Nie lank nie of ons verneem so padlangs dat Ross se familie nie daar welkom is nie. Die deur is in ons gesigte toegemaak, en die “hoekom?” was ‘n raaisel. Wie die sondebok in die verhaal was het ons nie geweet nie, maar ek het myself getroos dat die enigste sonde waarvan ek bewus was onmoontlik so ‘n drastiese stap tot gevolg kon hê. Dit was toe ek sonder toestemming die sjokoladekoek se bak uitgeeët het. Mara het daar en dan haar misnoë uitgespreek; dus was ek seker sy het klaar daarmee gedeel.
Vyf jaar gaan verby, en toe ontmoet broers, en suster mekaar weer by my skoonma se begrafnis. Daar is geen omhelsing, of eers ‘n handdruk nie. ‘n Kopknik, en ‘n “how are you,” is al wat hulle vir mekaar het. Ross en Mara se stilswye pla Ken, maar hulle het ‘n skeidsmuur gebou wat nie sommer afgebreek kan word nie. Vyf jaar later, en die storie herhaal homself weer. Hierdie keer is dit by my skoonpa se begrafnis, en asof dinge nie sleg genoeg is nie veroorsaak die testament ook probleme. Ken het rede tot bitterheid, maar hy kies om dit te laat gaan. Dit het egter die wig nog dieper tussen Ross, en sy familie ingedryf.
Jare later trou Shane, en gaan bly aan die Suidkus. Ons ry dikwels verby die dorp waar Ross en Mara bly. Op ‘n dag draai Ken in, en gaan soek na die winkel waar Mara ‘n besigheid bedryf. Hy stap die leeukuil binne, en klim ‘n ruk later terug in die motor, “Jy gaan nie glo hoe Mara lyk nie,” sê hy, “oud, verrimpeld en absoluut verbitterd.” Op my vraag hoe die ontvangs was skud hy net sy kop, “yskoud, maar ek weet darem waar om vir Ross in die hande te kry.” Ek bly weer in die kar sit toe Ken sy broer by ‘n hardewarewinkel gaan “verras.” Die twee broers stap ‘n ruk later uit. Ross sien my maar groet nie. “Ek het gedoen wat ek gevoel het ek moet doen,” sê Ken toe ons wegtrek. Hy het sy broer omvergifnis gevra indien hy die oorsaak was vir die kloof tussen hulle.
Die muur het ‘n krakie in. Ken moedig sy suster aan om Ross te bel, en met hom te praat. Die daaropvolgende jare is daar nou en dan ‘n oproep van Ken of sy suster na Ross toe. Antwoord Mara egter, weier sy volstrek om hom telefoon toe te roep, en sit die foon neer.
‘n Paar jaar gelede het Ross ‘n beroerteaanval gehad. Toe ons weer Suidkus toe ry, besluit Ken om hom by die huis te gaan besoek. Sewe en twintig jaar het verloop vandat hulle Suidkus toe getrek het. Met huiwering druk ek die knoppie by die hek, en is dankbaar toe Ross mank-mank vir ons die hek kom oopmaak. Ek sug van verligting toe ek hoor Mara is nie tuis nie. In die huis groet haar drie en tagtig jarige ma my vriendelik, en dit is gou duidelik dat sy uitgehonger is vir geselskap. Tussen die lyne lees ek dat diè huismense ook nie die sweepslae van ‘n verwronge en verbitterde gees vrygespring het nie. Mara het almal weggedryf, tot haar ma se suster wat elke Vrydag vir haar kom kuier het, is die huis belet.
‘n Uur later groet ons, klim in die motor en ry weg. Ken trek by ‘n vulstasie in, en dit is hier waar ons vir Mara in die motor by die petrolpomp sien sit. “Waarom is jy so verbitterd Mara?”
Pursue peace with all people, and holiness, without which no one will see the Lord: looking carefully lest anyone fall short of the grace of God; lest any root of bitterness springing up cause trouble, and by this many become defiled. (Hebrews 12:14-15)
Naamgee is so belangrik. Die vrou se identiteit is bepaal die dag toe haar ma haar naam vir haar gegee het. As my naam Mara was, het ek dit gaan verander. Op my skoonpa se begrafnis het twee broers vrede gemaak en een dogter met haar pa (na hulle na Wyseman se boodskap oor ‘reconciliation’ geluister het en hy ‘n oproep gedoen het dat mense verhoudings moet regstel voor dit te laat is.) Die een broer het toe 3 weke later ‘n hartaanval gehad en is dood.
LikeLike
Jammer vir misverstand Vega, ek gee skuilname wat so na as moontlik aan die oorspronklike naam is. Why do people allow themselves to become so twisted and bitter that even their countenance change? Verwag darem nie dat jy nou vir my die antwoord moet gee nie 🙂
Groot stuk Genade dat daardie broers vrede gemaak het by jou skoonpa se begrafnis!!!
LikeLike
Ai, as ons toelaat dat ons seer of iets wat ons aangedoen is, selfs dalk onwetend aangedoen is, in ‘n woede ontwikkel, en ‘n wrok raak, haat, bitterheid…….
Dis hoekom God ons vra om mense te vergewe, sodat onsself nie in bitterheid sal verval nie…. Dis om ONSSELF te beskerm…
LikeLike
Hoe hartseer om jou lewe so sonder vreugde te lewe Toortsie. Soos jy sê vergifnis spreek vry… nie net ander nie, maar jouself ook.
LikeLike
Dis so vreemd dat familie, veral sibbe, so onverskillg teenoor mekaar kan wees. Is bloed nie dikker as water nie? Gaan bloed nie deurdring waar geld, posisie en besittings vashaak nie? Sal een mens ooit ‘n ander kan verstaan? Sulke bitterheid maak jou meer ongelukkig as die persoon wie daarvoor “verantwoordelik” is.
LikeLike
Ek verstaan dit ook glad nie. Ons familie is baie erg oor mekaar!
LikeLike
Dit is vir my net so ‘n raaisel hoe bloedfamilie in sulke onmin kan lewe. Mara het so alles in die lewe gehad, en haar bitterheid slaan my dronk…. en ja, ek dink sy is die “victim” in hierdie verhaal.
LikeLike
Ja, sy is. ‘n Victim van haarself.
LikeLike