Die avontuur

Hulle sit voor my.  Die drie meisies het elkeen ‘n blommekrans in hulle hare.  Die twee seuntjies is aangetrek soos Captain Hook, en Peter Pan, met onderskeidelik ‘n swaard en pyl en boog as wapens.

Ek het die vorige aand tot twaalfuur aan die storie geskryf, en die oggend vroeg rondgesluip om skatte, en geheime boodskappe op strategiese plekke weg te steek.  Die sukses van die avontuur gaan afhang of dit hulle aandag gaan hou; ‘n moeilike taak aangesien die oudste elf en die jongste vyf is.  Dan natuurlik of hulle sonder baklei sal kan saamwerk, om die take uit te voer.

Ek vertel hulle van die “Mooivrou,” wat as jongmeisie deur die reus gevange geneem is, en dat niemand haar tot dusvêr kon bevry nie.  Sy is nou oud, en het ‘n laaste pleidooi die wêreld ingestuur vir dapper helde en heldinne om nog eenkeer te probeer om die reus se kasteel binne te dring, en haar te red.  Toe ek vra of hulle kans sien vir die taak, is daar nie een onwillige onder hulle nie.  Ek lees vir hulle die reëls voor, waarvan een is dat niemand mag baklei, stry of skreeu nie.  Met ‘n “Dit is ‘n baie gevaarlike reis, geniet die avontuur!  Ek hoop julle kan die “Mooivrou,” red, en julle beloning ontvang,” wuif ek hulle totsiens.

Wat ek nie verwag het nie is die erns waarmee hulle binne in die avontuur geklim en dit uitgeleef het.  Captain Hook is met ‘n bootjie oor die swembad om die draak wat by die fontein waghou te veg, en die geheime boodskap op die voëltjiegraf terug te bring.  Spring-spring is hulle oor die vuurklippe.  Skatte word gevind en in ‘n mandjie gesit, take uitgevoer, en geheime boodskappe gelees.  Hand aan hand en sing-sing kom hulle “Gruwelwoud,” (my tuin) ingestap.  Toe ek as die “Kwaai ouvrou,” van die woud; in my japon, strooihoed op my kop, met n groot paplepel – amper net so lank soos ek – op die dek uitkom, en met ‘n bulderende stem vra wat soek hulle, kyk hulle my grootoog aan, maar hou aan sing.  Volgens die geheime boodskap paai sang die kwaai ouvrou, en hulle moet haar guns wen sodat sy vir hulle die volgende leidraad kan gee.  Na nog ‘n paar hindernisse kom hulle by die standbeeld van ‘n vrou uit.

Tjoepstil gaan sit hulle op die grasperk by haar.  Die liefdelose vrou met haar kliphart, is die reus se vrou, en sy kan kinders nie verdra nie. Kinders wat haar steur, verander sy in klip.  Ek en Rika loer deur die venster na die prentjie, en verkneukel ons van lekkerte.  Ek vergeet skoon om die cd te speel.  Die musiek sou as teken dien dat hulle die klipvrou kan nader om na die skat, wat in die bos by haar weggesteek is, te soek.  Toe die musiek uiteindelik hulle ore bereik, staan die jongste dogtertjie op, en gaan lê in doodse erns die blou blom – wat hulle vroër by die groot rots gepluk het – aan die vrou se voete neer.  Daarna kan daar na die skat gesoek word.  Dit geskiet in doodse stilte.  Fluisterend word die geheime boodskap vir die volgende deel van die avontuur gelees.

Hulle nader nou die kasteel.  Met hulle lywe styf teen die huis se muur vasgedruk, drink hulle die versterkwater wat hulle die krag sal gee om deur die kasteel se ysterhek te breek.  Peter Pan het die leeu wat oor die versterkwater waghou geveg, en sodoende die volgende geheime boodskap ook verower.  Koppe gebuig, en met hulle oë op die grond stap hulle na die palmbome toe.  Sou hulle die “Palmvrou,” op hul pad soontoe sien, sou diè hulle krag steel, daarom die neergeslane oë.

By die middelste palmboom kom hulle tot stilstand.  Hulle nuwe taak is om diè boom se trane in die hande te kry, en as stringe pêrels om die meisies se nekke te hang.  Tipies meisies ontsnap ‘n “O hoe mooi,” hulle lippe toe hulle redelik hoog teen die stam van die boom, drie lang stringe pêrels sien hang.  Terwyl Captain Hook, en Peter Pan waghou, pluk die meisies die trane, en dans dan tien keer om die boom soos die geheime boodskap hulle beveel het om te doen.

Hulle breek deur die kasteel.  Trappe af, en trappe op, deur gange en vertrekke word take verrig om die skatte en geheime boodskappe in die hande te kry.  Hulle seil op hulle mae, gee ‘n goue eier – waaraan niemand mag raak nie – met lepels vir mekaar aan.  Elke wan en dan moet ek as die “kwaai ouvrou,” op die toneel verskyn.  Op een so ‘n geleentheid is ek so dik van die lag, dat ek werklik sukkel om in erns, en met ‘n kwaai stem my rol te speel.  Dit was nadat hulle “soetasemlekkers” geeët het sodat die reus, met sy goeie reuksintuig hulle nie kan ruik nie.  Gedweë staan hulle met hulle monde wawyd oop sodat die kwaai ouvrou kan ruik of hulle asems soet ruik.

Vir twee ure is hulle in binne in hierdie avontuur waar hulle sovele dinge doen, en beleef, en dan bereik hulle die toring waar die “Mooivrou,” opgesluit sit.  Hier het ek vir Rika ingespan.  Sy sit op die bank met goue geskenklint as boeie om haar nek, polse, en enkels.  Manhaftig stap hulle een vir een die vertrek in, en sny ‘n boei los.  Asof uit ‘n droom word hulle wakker, en wil nie hê die avontuur moet eindig nie.  Ek verdeel die skatte – waarvan meeste eetbaar is – onder hulle, en laat die feesviering begin.

Die twee seuns in hierdie verhaal is Rika, sowel as my kleinseuns.  Ons het dit nie toe geweet nie, maar hierdie was die laaste langvakansie waar sy kinders kom help oppas het, waarin ons pret gehad het.  Twee weke voor haar dood het sy weer gekom, maar met die inflammasie in haar voet was sy in erge pyn.  Partykeer, soos in hierdie afgelope paar dae, wonder ek oor die ooreenkoms tussen die storie en haar lewe.

11 thoughts on “Die avontuur

    1. Ek mis werklik my en Rika se tye saam. Om ‘n suster as skoonsuster te hê, het groot voordele. Kan myself nie met enige van my ander skoonsusters soveel pret sien hê nie 🙂

      Like

  1. Wat ‘n wonderlike, pragtige storie om te kan vertel 🙂 Ek kon my altyd verluister na my drie seuns se “verhale” en speletjies waar alles net so met ‘n “en toe” kon verander. “En toe” was iemand in ‘n oerwoud “en toe” was dieselfde een op ‘n ander planeet “en toe” “en toe”…..
    Baie lekker gelees 🙂

    Like

    1. Ag vreemdeling, daardie “en toe,” stories van die kinders is te kosbaar. ‘n Paar weke gelede klim ons sewejarige kleinseun deur die kamervenster na buite, en ek hoor hom vir sy vyfjarige niggie sê; “En toe hardloop jy venster toe, en roep ‘Spiderman, waar is jy?’ Madam doen soos hy gesê het, en roep ewe dramaties na Spiderman. “En toe, draai jy om en sien die blomme wat ek vir jou op die bed gelos het.” Vanuit die kamer roep madam hartstogterlik, “O kyk die pragtige blomme!!” Spiderman klim terug deur die kamervenster, en dadelik bestorm sy hom met ‘n “Ek soek vier ringe, en nie net een nie.”

      Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s