Reën in die oestyd

Net so 3 weke gelede het ek gegrom omdat mense kla oor reën en probeer verduidelik hoekom ons op ‘n gereelde basis reën nodig het…

Boere wil omtrent altyd reën hê – nie te veel nie, nie te min nie. Reën dit te veel, versuip die graan. Reën dit te min, ontwikkel die graan nie tot sy volle potensiaal nie. Maar daar is een tyd in ‘n jaar wat ons nie so baie graag reën wil hê nie, en dis in oestyd. (Seker dié dat daai oom destyds gevra het of die boere toé tevrede was? – na die sondvloed! grrrrrrr 😦 )

Ek het al verduidelik dat dit maar baie kan reën, maar dis beter as dit vinnig reën en die son skyn en die wind waai sodat dit gou weer kan droog word….

Vanjaar het ons die hele jaar wonderlike, genoeg reën op die regte tyd ontvang. Dis iets wat hier waar ons woon, nie so alledaags is nie, alhoewel ons ook verlede jaar ‘n goeie jaar gehad het. ‘n Week gelede het op ons lande die potensiaal vir ‘n rekord oes gestaan.

Toe kom die reën, en dit is nou al dag 6! Op hierdie stadium is die risiko op die goed wat alreeds platgesny is, baie hoog. Onthou, gars word juis gesaai omdat dit gou gis en dan word daar bier van gemaak…. maar daardie proses moenie gebeur terwyl dit nog op die land lê nie! Koring het ‘n manier om uit te loop as dit reeds platgesny is en dit kry reën….

Dis ongelooflik hoeveel emosies en gedagtes gaan deur jou kop as dit in die oestyd vir 6 dae aanmekaar reën. (Nou al ongeveer 5 duim!!) Jy is in voortdurende gesprek met God. Jy vra vir genade. Jy smeek vir genade. Jy smeek dat God die oes sal beskerm want ons het dit so nodig! Jy smeek vir elke pit, ook vir dié wat staan, want hulle wil ook begin plat lê… Jy’s verlig as die son vir ‘n uur deurbreek. En dan kom die besef dat wat ek het, is God s’n. Dis Sy graan! Dis Sy oes! Hy kan daarmee maak wat Hy wil! Hy is in beheer en weet wat die beste is vir ons. En soos my man sê, op hierdie stadium is dit nog nie ‘n mis-oes nie. (Daar is boere wat alreeds als platgesny het! ) Maar ons vrees maar dat ons graadverlies gaan hê, maar selfs dit kan ons nou nog nie sê nie, want ons kan nie in die lande ingaan nie. Jy besef dat dit nie help om te stres nie, want dit gaan niks aan die saak verander nie. Ek glo immers in ‘n God van wonderwerke!!

Op party plekke begin die graan te lê…

Intussen draai Koos du Plessis in my kop….. “wat ek is, is net genade, wat ek het, is net geleen, eintlik smag ek na U waters van rus, lei my, Heer, vanaand daarheen….”,

en saam met Habakuk….. “Al sou die vyeboom nie bot nie,  en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie wn die  beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder!!!   Die Here my God, gee vir my krag, Hy maak my voete soos die van ‘n ribbok, op  hoë plekke laat Hy my veilig loop. Die Here my God, gee vir my krag, Hy maak my voete soos die van ‘n ribbok op  hoë plekke laat Hy my veilig loop.”

God is in beheer!! Wat ‘n genade! Wat ‘n gerusstelling!!

Toorts

20 thoughts on “Reën in die oestyd

      1. Seker omdat dit op jou eie grondgebied is. Ek weet ons kan mense nie van alles beskerm nie, maar ek wens so ek kon dit vir jou makliker hier in die stad gemaak het…. jy weet so ‘n bietjie van die “punch,” weggeneem het.

        Like

  1. Dankie dat jy dit met soveel begrip oordra aan ons wat nie die hele proses so goed ken nie. Ons kan net saam met julle bid dat die Here van die oes ook Beskermer van die oes sal wees.

    Like

  2. dit is seker een van die eerlikste skrywes wat ek in ‘n lang tyd gelees het, en dit is so presies hoe ons liewe mensdom is, ons bid vir iets, en as dit kom weet ons nie hoe om ons geloof te gebruik om te weet God sal net genoeg gee nie, of as dit lyk asof ons moet ingryp, dan wil ons werk maak en nie op ons knieë bly en glo Hy weet presies wat hierdie oes (of enige iets anders) eintlik vir ons as mens beteken nie……….. dit is wat geloof beteken, is dit nie, glo en vertrou, maar ai dit is so moeilik want mens is maar net mens

    Like

  3. Ek hoop die reën het betyds opgehou. En al kla ek altyd oor die koue en reën, verstaan ek darem dat dit nodig is, op die regte tyd. Vat maar my gemoan met ‘n groot knip sout 🙂

    Like

  4. Liefde en drukkies vir julle Toorts. Ons is maar klei in ons Vader se hand. Dis net nie altyd maklik om die beeldjie te wees wat Hy wil he ons moet wees nie. Hy weet. Hy sal voorsien. xxx

    Like

  5. Sommer net vir wie belangstel. Dit lyk my ons gars is als uitgeloop. Selfs die wat nog nie platgesny is nie. Dit reen nie meer nie maar dis baie mistig en bedompig, wat die proses nog meer aanhelp.

    Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s