Kameel – Die Wegraping

Die laaste leksel kinders was so te sê uit die huis uit, toe ek vir ‘n paar maande by my ousus gaan bly het, om my as fotograaf te bekwaam.  Dit was kompleet of ek was terug in my ouerhuis.  Alles netjies georden; etenstye op presiese tye, met gesonde borde kos.  Toebroodjies gepak, net reg vir vat in die oggende – indien jy in jou haas daarvan vergeet – ‘n telefoonoproep van my bekommerde sus wat vra hoe ek toebroodjieloos deur die dag gaan kom.

Dus was my verbasing groot toe ek een Saterdagmiddag laat van die werk af kom, en niemand is tuis nie.  In die sitkamer staan ‘n bank skeefgetrek.  Dit is duidelik dat my swaer aan die bank gewerk, en toe onderbreek is.  Daarvan getuig die oop gereedskapskas, en ‘n hamer wat op die vloer lê.  Ek stap deur kombuis toe, en dieselfde verlate prentjie begroet my daar.  Op die stoof ‘n pot met ‘n paar stukke groente in.  Die res van die groente lê ongeskil op die tafel, met die groentemessie daarnaas.  Ek gaan loer in die mikrogolfoond.  Leeg.  Dit is teenstrydigheid met ‘n huishouding soos my sus s’n.  Diep binne my roer daar ‘n onrustigheid.  Die groot huis voel meteens so totaal verlate dat ek vinnig omdraai, my handsak van die tafel afgryp, en vinnig kamer toe stap.

Ek gaan sit op die bed, haal my selfoon uit my handsak en druk die nommer van my sus se oudste dogter.  Ons verskil sestien jaar, en is soos sy sal sê, “groot pêlle.”  Dit gaan onmiddelik oor “Voicemail,” toe; so ook haar mansvriend se nommer.  “Eienaardig” dink ek.  Ek weet vir ‘n feit dat sy by haar vriend se huis gaan braai het.  Dan maar sy huisnommer bel.  Die telefoon lui, en lui, en lui.   ‘n Uur later, en ek is nog niks wyser as toe ek vroeër ingestap het nie.  Die vriend se telefoon bly nogsteeds net lui.  Die onrustigheid van vroeër het vrees geword; in my agterkop maal ‘n vraag wat ek bang is om aan myself te erken.  Dit is te verskriklik om eers daaraan te dink.

Buite draai die dag hom in sy nagjas toe.  Ek gaan lê op die bed, en spits my ore vir tekens van lewe.  Dit is doodstil; my hart klop in my keel, en so raak ek aan die slaap.  ‘n Horde mense – so groot soos miere – staan en opkyk na die hemelruim.  Ek staan tussen hulle.  ‘n Massiewe klok vul die uitspansel.  Stadig maar seker tik dit die minute af.  Dit is twaalfuur middernag.  ‘n Harde stem roep vanuit die hemel, “Te Laat.”  Die klok verdwyn, en wolke trek soos ‘n gordyn weg.  Die hemelruim vul met die heerlikheid van Jesus.  Vir ‘n kort oomblik vul sy gesig die lug, en dan trek die wolke toe.  Ek kyk na die verslae gesigte van die mense om my.  Dan sê iemand “Die wegraping het gekom, en ons het agtergebly.”  In agssweet skrik ek wakker; ek is bang – baie, baie bang.  Ek probeer dit nie meer wegsteek nie.  “Wat as die wegraping gekom het, en jy het agtergebly?” hamer dit deur my.  Ek wil nie antwoord nie.

My selfoon wys halftien.  Ek stap deur die donker vertrekke, en sit ligte aan; maar dit verdryf nie die groot verlatenheid in, en om my nie.  Ek probeer weer my sus se dogter of haar vriend in die hande kry.  Niks.  Paniek neem van my besit.  Ek moet iemand bel wat ek verseker weet saamgegaan het, as die wegraping wel plaasgevind het.   “Rose!!”  Net ‘n wonderwerk sal maak dat sy nie om tienuur op ‘n Saterdagaan by die huis is nie.

Met bewende vingers druk ek my vriendin – daar vêr tussen die mielielande – se nommer.  Ek voel so ontsaglik klein en nietig soos ek daar op die bed sit.  Die foon lui, en lui….. en dan antwoord ‘n slaperige stem, “Hello,”  Die bekendheid van daardie stem spoel deur my, en bring verligting vir my angsbevange hart.  “Hello Rose, is jy nog hier?”  Ek gee nie om hoe krom en skeef enige vraag nou uit my mond uitkom nie, ek het antwoorde nodig.  ‘n Oomblik se aarselende stilte, “As jy bedoel by my huis, dan ja ek is by my huis.”  “Dankie tog, jy is nie weggeraap nie!!” roep ek bly.  My vriendin is nie weggeraap nie, dus het ek nie alleen agtergebly nie…. of nee, die wegraping het nie plaasgevind nie!!!

19 thoughts on “Kameel – Die Wegraping

    1. Een van haar dogters en diè se man het daar opgedaag, en haar baie teen haar sin saamgesleep om iets te gaan besigtig, en het hulle daarna uitgeneem vir ete. Was my sus ‘n meer impulsiewe mens sou die huis, en geen kos nie, my nie so onkant betrap het nie. Die telefoon wat net gelui, en gelui het by die vriend se huis hoor ek het hy laat die aand toe hy bed toe stap half op, en half af op sy mikkie gekry.
      Voel amper asof omstandighede saamgespeel het om my groot skrik op die lyf te jaag.

      Like

  1. Ek het nou lekker gelag vir jou angs. Sorry. Maar Kameel, ek wil vir jou iets vertel wat ek sien in jou inskrywings. Jy het die vermoee om ‘n mens te boei met jou vertellings, en dit raal AL beter 🙂

    Like

    1. Jy mag maar lag Slakkelak…. ek lag ook met tye as ek daaraan dink; maar altyd met so ‘n tikkie “respekte” daarby. Ek sal nie weer daardie angswekkende, en verlate gevoel vergeet nie. Dankie vir die inspirasie!!

      Like

    1. Dankie lekkerjeuk. As dit net ‘n voorsmakie was van hoe dit voel om agter te bly, wil ek nie weet hoe die ware Jakob gaan voel nie 😉

      Like

    1. Bly jy verstaan charlene 😉 Ek dink ‘n rolprent wat ek baaaaie jare vroeër rondom die wegraping gesien het, het bygedra tot my angs. Dit begin in ‘n kombuis waar ‘n koekmenger staan en draai, en draai, en draai, maar daar is geen teken van lewe in die huis nie 😯

      Like

  2. Dit laat my dink aan ‘n e-pos van my man wat ek bewaar – geskryf op 21 Mei 2012, die dag toe die (eerste?) wegraping sou plaasvind. Hy skryf vir my “Die wegraping was nie vandag nie – Mollie is nog hier”. Dit verwys na ons jongste kat. Sy is die pragtigste dingetjie op aarde, en is ons hemelkindjie (klink raak, maar sy’s net vrek cute en het sulke maniertjies – moeilik om te verduidelik). Ons dag toe as daar wraggies ‘n wegraping gaan wees, is sy die eerste een wat hemel toe gaan. So, as sy saam jou in die huis was, sou jy geweet het 😉

    Like

    1. Sal vir my ‘n Mollie vir die toekoms moet kry 🙂 Dink nie omstandighede sal ooit weer so perfek saamspeel om my so ‘n groot skrik op die lyf te jaag nie!!

      Like

  3. ha-ha – ek het nou lekker gesmile. ek was op skool lekker van die wa af gewees – en ek het ‘n hele paar keer opgestaan op ‘n saterdagoggend en dan is my ouers nie daar nie – en dan het ek rondgebel om seker te maak dat ek nie agter gebly het nie … 😉

    Like

    1. Presies Toortsie. Alles rondom daardie gebeure was so teenstrydig. Miskien het ek so ‘n skrik nodig gehad om my weer in pas te kry 😉

      Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s