Haar naam is Chantè

Nege en twintig jaar gelede het die welsynswerkster ‘n weekoue baba met die woorde, “Haar naam is Chantè,” in my arms gelê.  “Waar is haar klere?” vra ek toe sy aanstaltes maak om te ry.  Sy wys na die vyf  flenniedoeke, en klein blikkie Nan wat op die bloukas lê.  “Dit, en die klere wat sy aanhet is wat sy het.”  “Dit kan ontmoontlik waar wees,” skreeu ek sonder woorde.

Drie dae gelede was ons lewe nog heel normaal – of beter gestel – so normaal soos die omstandighede rondom die stil kind dit toegelaat het.  Dat die elf maande waarin sy in ons sorg was my totaal uitgeput het, het ek die Woensdagoggend by die bybelstudie besef toe die ander vroue om ‘n verwagtende vroutjie koer.  ‘n Lamheid het oor my kom lê, en ek het dankbaar by myself geprewel, “Dankie tog, dit is nie ek wat daardie baba moet grootmaak nie.”  Later die middag kry ek weer daardie beklemmende gevoel toe die dokter met ‘n vrou wat in kraam is, oor die telefoon gesels.

In my stiltyd die Donderdagoggend, raak ek diep bewoë.  My hart word aan flarde geskeur en ek verstaan nie hoekom nie.  “Here,” bid ek, “laat my nooit myself voor ander stel nie.  Help my om altyd ‘n oop hart, en ‘n oop huis te hê vir die wat my nodig het.”  Dit was nie ‘n oppervlakkige gebed nie; nee diep, diep binne my het gees met Gees gepleit.  Vrydagoggend kniel ek in dieper gebrokenheid voor God.  Die omgee wat trane oor my wange laat loop, verstaan ek glad nie.  Woorde stort oor my lippe; dit is dieselfde gebed as diè van die vorige dag.

‘n Uur later lui die foon.  Dit is ‘n welsynswerkster uit ‘n ander dorp, en onbekend aan my.  “Jammer om jou te pla, maar ek sit in groot nood.”  begin sy die gesprek.  Dadelik skreeu ‘n stem binne my “BABA!!,” en dan weergalm dit deur my “NEE, NEE, NEE!!!!”  My hele wese is in oproer.  Golf na golf slaan teen my vas, en ruk my binneste asof ‘n aardbewing dit getref het.  “Asseblief Here, asseblief Here, net nie dit nie,”  pleit ek na Bo.  Erens in die chaos binne my hoor ek ‘n stem bid.  “Here, laat my nooit myself voor ander stel nie. Help my om altyd ‘n oop hart, en ‘n oop huis te hê vir die wat my nodig het.”  Nog nooit was die stryd tussen vlees en gees so fel in my nie.

Ek word bewus van die welsynswerkster se stem.  “Haar ma is net veertien jaar oud, en wil graag die kind behou.  Ons soek ‘n huis waar die baba vir vyf jaar in pleegsorg geplaas kan word.  Wanneer sy (die ma) klaar is met haar skoolloopbaan, en gevestig is sal sy die kind kom haal.  Ek belowe jou, ek het oral probeer, maar niemand wil help nie.  Jy is ons laaste uitweg.  Sondag moet ek die baba uit die hospitaal gaan haal, maar weet nie waarheen om haar te neem nie.  Die oupa sê sy bring die baba onder geen omstandighede saam met haar huistoe nie.”  Ek luister na die welsynwerkster se stem en dink, “Ek wil ook nee sê, maar hierdie saak is nie uit myself nie.  Ek ken God se wil hier in.“   Tog gryp ek na ‘n strooihalm.  “Julle kan haar bring,” sê ek vir die haar…. “maar net totdat julle ‘n ander huis vir haar kry.”

En nou, seweuur op ‘n Sondagaand – more is vakansiedag, en al die winkels gesluit – vertel die welsynswerkster vir my die baba kom met net ses flenniedoeke, en ’n klein blikkie Nan.  Rika, sien my paniek en vat die baba by my.  “Gee jouself ‘n rukkie tyd om tot verhaal te kom, dan sal jy weet wat om te doen.”  Dankbaarheid wel in my op dat sy, en haar gesin die langnaweek vir ons kom kuier het.

Die ergste skok is oor en my brein werk oortyd.  Vrydag nadat ek gehoor het van die baba het ek ons pastoorsvrou gebel en gevra of ek die drakot wat ek die Woensdag in ‘n Sondagskoolklas opgemerk het, kan leen.  “Of course,” het sy geantwoord.  “I wondered about it when a strange woman popped in here on Monday and said she feels strongly that the church is in need of this carry cot.”  Die klein gemeente in ag geneem, en die feit dat daar niemand met klein babatjies op die oomblik in die gemeente is nie, het seker haar wenkbroue laat lig.  Die Here het slaapplek vir die baba voorsien.  Maar hoekom ‘n baba sonder klere?

Ek wend my weer na ons pastoorsvrou.  Hierdie keer is daar twyfel in haar stem.  “Oh dear,” sê sy toe sy my dilemma aanhoor.  “I have given all my baby clothes away.  Na ‘n oomblik se stilte. “I will phone a couple of ladies and see if they can help you out until Tuesday.” Ek sit die foon op sy mikkie terug, stap sitkamer toe, vat die baba by Rika, en gaan sit op my pienk stoel.  Sy is mooi, die baba met haar swart ogies, donker haartjies, en blas vel.   Ek vat haar klein handjie in myne en verwonder my aan die breekbare fyn vingertjies.  “Jy is pragtig,” fluister ek vir haar.

‘n Halfuur later is ‘n klop aan ons voordeur die inleiding tot ‘n dolle, heerlike, onvergeetlike aand van mense en baba bewonder, koffie maak en gesels, pakkies oopmaak en uitpak.  Voor ons oë sien ons hoe God die vensters van die hemel oopmaak, en Sy seëninge op ons uitstort.  En Hyself is daar in sy heerllike teenwoordigheid.

Daardie aand gaan slaap ons met ‘n gevoel van absolute verwondering.  In oorvloed het die Here vir Chantè voorsien.  Daar was niks wat ons nog kon byvoeg nie; alles was daar.  Van doeke, doekspelde, poeier, olie, sjampoe, borsels en kamme, krampwater, spiritus (vir haar naeltjie,) medisynebottel, melkbottels en fopspene tot by ‘n bottelverwarmer, ‘n stoeltjie, komberse, lakens kussingslope en kleertjies in oorvloed.  En 24 blikke Nan.

18 thoughts on “Haar naam is Chantè

    1. So dankbaar om te kan sê sy is nog deel van ons gesin Loli. Sy is ons jongste dogter – het in vorige skrywes na haar vernoem as ons Portuguese meisiekind.. Beplan om ‘n opvolg te skryf.

      Like

    1. Nie altyd sonder baklei nie Toortsie, Maar gehoorsaamheid aan God en binne Sy wil is die beste plek. Dan sien ‘n mens Hom aan die werk, en jy staan verstom oor Sy voorsiening.

      Like

  1. Ag ek het sommer nou skaamteloos snot en trane gehuil op hierdie dag wat ek gesit het en wonder of daar nog mense is wat omgee daarbuite.

    Kameel – jy sal nie ooit weet wat hierdie verhaal van jou vandag vir my beteken het nie.

    Like

    1. Dan is ek bly dit was op my hart gedruk om dit nou te skryf. Vlooi, daar is nog baie omgee mense… die wêreld het net so ‘n dolle gejaag geword dat mense by mekaar verby hardloop. Mag God jou in sy liefde toevou. Ai, nou wil ek sommer my arms om jou vou, en jou vasdruk.

      Like

  2. Spesiale kinders kry spesiale ouers. Jy en jou gesin het groot harte Kameel, groot. Ek weet nie of ek in staat sou wees om ander vrou se kind te vat nie. My kinders het eenkeer gese hulle is dankbaar ek het van HULLE gehou! Maar die wee van ons Vader is anders. Ek het ‘n geloofsbesluit geneem om nou ‘n onderwyser te wees. Ek het baie baklei, en doen nog steeds, maar ek probeer Sy Wil aanvaar. Miskien sal my klei eendag so mooi potjie kan wees soos in Maankind se pos vandag.

    Like

    1. Dit is wat God van ons vra Slakkelak, om soos klei in sy hande te wees sodat hy ons kan vorm as “voorwerp” tot Sy eer. Jou potjie gaan pragtig wees wanneer God daar klaar is 😉

      Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s