Dwelms en trane….

“Carlo is dood, my kind is dood,” snik my vriendin oor die telefoon.  My liggaam word lam, “Net nie dit nie, net nie hierdie ‘hart se punt’ seun van haar nie!!”  Vrae gaan deur my kop, maar my tong wil nie saamwerk nie.  “Ek kom,” sê ek vir haar, en druk die selfoon dood.  Soos ‘n slaapwandelaar trek ek skoon klere oor ‘n vuil lyf, borsel my tande, en vat die kar se sleutel.  “Hoe is dit moontlik, hy is dan net gisteroggend van sy ma se meenthuis af weg Kaap toe.  Was dit ‘n motorongeluk?

Voordat ek klop maak haar kleindogter vir my die deur oop.  ‘n Paar treë agter haar staan die gebroke figuurtjie van haar met wie ek die afgelope sewe jaar so ‘n nou pad saamloop. Ek maak my arms oop.  Gewilliglik loop sy daarin en snik haar roukrete teen my bors uit.  Oor haar kop ontmoet haar kleindogter se oë myne.  In haar oë lees ek dieselfde vraag as diè waarmee ek worstel, “Hoe gaan hierdie sagte mens wat lyk asof sy eerder in ‘n kas saam met porseleinware toegesluit moet word, hierdie slag oorleef.”

Woorde in die aangesig van dood is nutteloos; dit breek uitmekaar en val grond toe.  Ons sit op haar bed; haar hand in myne.  Met tye hang daar net ‘n swaar stilte in die kamer.  Wanneer haar liggaam begin ruk, en sy pleitend uitroep dat dit nie waar kan wees nie, trek ek haar teen my vas, en op my beurt roep ek sonder woorde tot God vir vertroosting.  “Watter pad gaan die grootste hel wees,” wonder ek stilweg.  “Die een van ‘n moeder se jarelange stryd en smart oor ‘n dwelmverslaafde seun.  Of die een wat nou vir haar voorlê?” 

Haar man is op veertigjarige ouderdom oorlede.  Toe sy huilend die hospitaalkamer uitstrompel was haar hulproep tot God, “Hoe gaan ek Carlo grootkry?”  Daar was nog twee kinders; haar oudste seun in matriek, en ‘n dogter in standard agt.  Maar dit was die fynbesnaarde, en kunstige Carlo, in standard sewe, wat ‘n beklemming om haar hart gebring het.

Deur sy tienerjare het hy vir baie slapelose nagte gesorg.  Maar het tog goed presteer, argitekwese gaan swot, en hom as ‘n bekwame argitek gevestig.  Geld was nie meer ‘n kwessie nie.  Hy het ‘n pragtige vrou getrou, twee dogters gehad waarvoor hy hartstogtelik lief was, eiendomme besit, en ‘n avontuurlustige lewe gelei.  Die “mooi” prentjie het egter van kleur begin verander.  Langs hierdie pad van sukses het dwelms ‘n houvas op hom gekry.  Sy huwelik het verkrummel, sy eiendomme is ingesluk, en party nagte het my vriendin hom by die Nigeriërs gaan loskoop, deur sy dwelmskuld by ‘n woonstel in gevaarlike Sunnyside te gaan betaal.

Saam met hom het my vriendin en haar gesin hoë golwe gery, om net weer die dieptes ingetrek te word.  Dit was ‘n alleenstryd.  Min mense verstaan hierdie hellepad, dus is dit nodeloos om daaroor te praat.  Toe ons paaie kruis het ons aanklank bymekaar gevind.  Sy was die ma van ‘n dwelmverslaafte kind, en ek was die ma van ‘n dogter wat met ‘n dwelmverslaafte getroud is.

By my kon sy huil wanneer hy vir dae aaneen verdwyn, en sy nie weet of hy nog lewe nie.  Sy naam en trane het hand aan hand geloop.  Ons het die taal en tekens van dwelms verstaan.  Die wegsteek van handsakke en kosbare besittings wanneer hulle in die omtrek is.  Die leuens, en leë beloftes.  Die ronddwalery weens slaaploosheid in die nag, Woedeaanvalle.  Gewigsverlies.  Rehabilitasie sentrums.  Hoop, wanhoop.  Bid, bid, bid.  Vrees om ‘n telefoon te beantwoord.  Verligting as die nuus goed is.

Carlo het besluit om ‘n inplanting teen drankmisbruik te kry.  “Nie lank nadat ek drank in my liggaam het nie, soek ek dwelms,” het hy vir sy ma gesê.  Dat hy sy lewe wou uitsorteer was seker.  Hy het ‘n nuwe liefde in sy lewe gehad.  Om weg te kom van die stad, en ou vriende af, het hy sy besigheid Kaap toe verskuif.  Dit het gelyk asof hy nou op nege en dertig jarige ouderdom uiteindelik die stryd gewen het.  Sy lewe het rooskleurig voor hom oopgelê.

In die daaropvolgende maande het hy dikwels vir besigheid stad toe gekom, en by sy ma tuisgegaan.  As argitek was hy in groot aanvraag, en daar was baie werk wat nog hier afgehandel moes word.  Diè betrokke week was hy weer by sy ma.  Die oggend van sy vertrek het sy agter hom die gang afgestap.  “Hy het so pragtig gelyk soos hy daar tas in sy hand, voor my geloop het.  Ek het na sy liggaamsbou en bene gekyk en nog gedink hoe ‘n mooi man is hy nie,” het my vriendin een van die vele stiltes verbreek.  Sy sou hierdie prentjie nog baie herroep.  By die kar het sy hom gesoen, en gewaai tot hy uit sig uit is.   

In die Kaap aangekom het Carlo nie dadelik huistoe gery nie, maar by ‘n vriend van hom langs gegaan.  Die omstandighede rondom hierdie kuier is duister.  Gedurende die nag is hy in sy slaap, by sy vriend aan huis oorlede.

27 thoughts on “Dwelms en trane….

  1. Ek ken so baie mense wie se lewens deur dwelms verwoes is. Daar is min suksesstories. Dit breek mens se hart om sulke talentvolle jongmense se lewens te sien verkrummel. Ons enigste hulp is in Jesus Christus, mag Hy julle vertroos en hoop gee.

    Like

    1. Die ding is dat so ‘n stimulant soos dwelms of drank, die persoon se brein oorneem, amper soos “hijack”. Al wil die persoon so graag ophou, is daardie dwelm in beheer. Dis so bitter jammer.

      Like

      1. Net so Toortsie. Onder dwelms het jy heeltemal met ‘n ander mens te doen. Dit is ‘n demoniese mag. Wanneer hulle weer by hulle positiewe is, dan kom die spyt en beloftes.. Ek glo hulle bedoel dit en wil rêgtig ophou, Dit is so ‘n hartseer kringloop.

        Like

    2. My vriendin se trane het nou na amper twee jaar nog nie ophou vloei nie Vega. My dogter is intussen van haar man na ‘n huwelik van nege jaar geskei; hy is soveel keer Rehab toe, maar dit is asof hy elke keer dieper wegval daarna. Jay sê ook sy glo nie daar is baie suksesstories met dwelms nie.
      Ek het hierdie geskryf omdat ons hierdie naweek weer met dieselfde ding gekonfronteer is. Dit is die stil kind se man wat nou aan dwelms verslaaf is, en soveel nonsens aanvang. Die ding loop ook al ‘n entjie se pad, maar die dwelms word al sterker… en die probleme in hulle huis al groter. Dit is net Jesus se krag wat ons deur al hierdie dinge dra.

      Like

  2. Dankie “vreemdeling.” Sorry dat ek jou naam so verkort 😉 En ja, dit is ‘n pad wat jy vir niemand gun nie. Nie vir die verslaafte nie, en ook nie vir die wat vir hom/haar lief is nie.

    Like

    1. Deur te bid, en dag of nag tot haar beskikking te bly is al wat ek vir haar kan doen. Sy mag in my teenwoordigheid huil, kwaad word, en oor hom praat, of net stil wees. Ek kannie haar vrae van hoekom beantwoord nie, daarom is woorde oorbodig. Soos jy sê.. net saamwees.

      Like

  3. N jaar en n bietjie terug bel my vriendin uit Bloemfontein Sy se sy moet my iets vertel wat sy nie sommer net kon sms nie Dan se sy my Brandon is maandag oorlede en terwyl my verwarde brein probeer sin maak uit haar woorde se sy Annalie my kind is dood Kameel jy is reg daar is net geen woorde Haar oudste was agtien en tien maande ouer as my meisiekind
    sy sukkel nou nog met die verlies was tot onlangs baie bitter teenoor God maar sy se sy sien nou weer die predikant wat hom begrawe het vir berading so dit gaan tog beter

    Like

    1. Dit is een van die dinge waarteen my vriendin gedurig waak; om nie toe te laat dat haar seer, en vrae haar verbitter nie. Sy was baie nou verbind aan hierdie seun van haar, en ek dink die wroeging is vir haar erger. Nie dat sy nie haar ander twee kinders lief het nie, maar ek dink tog daar was ‘n verskil in haar gevoel vir hierdie seun.
      Soveel lyding Annalie; en dwelms is so ‘n wrede dief.

      Like

  4. Mag julle familie genade ontvang Kameel. Ek ken ook iemand wie se seun dood is aan ‘n oordosis. Haar magteloosheid om hom te gehelp het is ‘n dolk in haar hart. Sy kon nie meer sy dwelmskuld betaal nie.

    Like

  5. ‘n Vriend van my se seun is ook dood van ‘n oordosis drugs. Dis ‘n scourge in ons land, eintlik in die hele wereld. Sterkte vir almal wat geliefdes het wat daarby betrokke is.

    Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s