Welkome reën

‘n Gediggie waarvan ek nog nooit gehou het nie, is: “Toe Noag strand op Arrarat, die ark begin in puin raak, toe sê hy: Aarde maar dis nat, nou kan ‘n mens weer tuin maak………” en die laaste sin: was die boere tóé tevrede?”

As boerkind het ek van kleins af geleer: Alles omtrent reën is FANTASTIES! Want ons kan dit nie maak nie, ons kan dit nie koop nie. Dis ‘n GESKENK uit die hand van die Here. Ja, dit kan soms op ‘n ongemaklike tyd reën, soos in oestyd, dis iets waarvoor ons maar altyd so effens vrees. Maar as dit vinnig reën, selfs baie, en dit bly nie vir dae toegetrek nie, die son gou weer skyn en die wind waai, droog dit af en is daar nie skade nie. Daardie reën in oestyd bring weer vir ons goeie weidings in die droë somerseisoen.

Die opwinding en afwagting begin al as die wolke opsteek, daardie in die nag wakker word en jy hoor die reën is onbeskryflik. As dit baie gereën het, ry ons rond en kyk hoe het dit gereën, en waar. Boere bel vir mekaar en deel die vreugde: “Hoeveel het dit by jou gereën?” en is dalk heimlik ‘n bietjie jaloers as die buurman 2 mm meer gekry het! 😉

Veral hier waar ons nie besproeiing het nie maar 100% afhanklik is van reën wat direk op ons grond val, is gereelde reën van uiterste belang. Jy gaan tog nie jou tuin net een maal natgooi en dan vir ‘n maand of 2 los nie? Ons is afhanklik van reën vir weidings vir die diere, anders moet kos ten duurste aangekoop word. Maar vir die graan is die reën van kardinale belang: Eers moet die grond verkieslik nat wees voor ons plant, dan moet dit binne 10 dae reën sodat dit kan opkom, dit het gereelde reën nodig om in gesonde plante te ontwikkel en voldoende te groei. Wanneer dit in die aar kom is dit nodig dat daar genoeg vog is, anders vorm dit swak are, wat later ‘n kleiner of groter oes bewerkstellig. Dan is ons ongeveer in Aug/September wanneer die are vol pitte moet kom. As dit nie in hierdie tyd reën nie en daar kom warm dae, speen die graan van die are af, die graan brand ryp en dood en weer eens is die kwaliteit van die oes in die gedrang. Op hierdie stadium help die reën dat mooi, vet korrels gevorm word, net voordat dit ryp is.

Ek weet dit is nie altyd lekker as dit reën nie, veral as jy in besige verkeer moet ry, of natreën op pad werk toe nie. Maar weet jy, as jy kla oor die reën kan dit vergelyk word daarmee dat ek kla elke keer as jy ‘n salaristjek ontvang. Om te boer kos vir ons enorme bedrae, ek wil nie eers noem wat een jaar se plant, oes, en als wat daarmee saamgaan, kos nie. Ons is 100% afhanklik van die natuur. As ons die jaar ‘n misoes of ‘n swak oes het, en dit gebeur baie, is dit vir ons eie sak. Ons het baie mense in diens, almal wie ook afhanklik is van die reën vir hulle salaris. Ons het die verantwoordelikheid om julle te voed. Asseblief, moenie ons seer maak deur te kerm en te kla oor hierdie gawe wat ons van God af kry nie. Dit maak regtig seer en dan is dit moeilik om nie daarop te reageer nie.

Dankie, Here, vir elke druppel genade uit U hand ontvang!!

boereToorts

10 thoughts on “Welkome reën

  1. Ek onthou van die dae toe my oupa die wolke so dopgehou het…. en die blydskap as dit na reën lyk. Nou voel ek skoon skuldig omdat ek bly was dat die son die kampnaweek geskyn het (bloos)

    Like

  2. Op ons Karoo-dorp is daar mense wat kla as dit reen – hulle is almal van die stad af. Al boer ek nie self nie, krap dit my ook vreeslik om as hulle dit doen. Op ho-erskool kan ek onthou hoe daar ‘n jarelange droogte in die geweste was – met diere se karkasse wat langs die paaie le, geen water in die dam nie, dorp se boorgat wat begin leegloop. En dan – die vreugde as die dam weer oorloop: die hele dorp gaan kyk! So ek stem baie diep uit my hart uit saam: moet asseblief nooit kla oor die reen nie!

    Like

  3. Haai Toortsie, dankie dat jy vir ons stadskinders so mooi vertel hoe werk hierdie ding van wanneer wat gebeur en hoe essensieel rëen op die regte tyd is. Ek besef net eintlik hoe onmoontlik dit is vir ‘n boer om NIE afhanklik van God te leef nie. En hoe boere se geloof regtig getoets kan word…..Dit is eintlik elke keer ‘n wonderwerk as ‘n oes suksesvol is en als van begin tot end reg geloop he, né!
    Ek sê baie dankie vir julle boere wat vroeg op is en fisies hard werk en die risiko’s loop om kos op ons tafels te sit. Ons waardeer julle!
    O ja, en ek is mal oor rëen! Nou, nog meer… en dankbaar.

    Like

    1. Dankie Bokbaaivygie. Ekself het ook al gewonder hoe boer ‘n mens sonder God? En daar is ongelukkig wel boere wat God nie ken nie! 😦 Persoonlik dink ek dit moet uiters senutergend wees sonder Hom. Maar ja, Hy is ons begin en ons einde. Mag ons dit nooit vergeet nie!

      Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s