Wanneer ek probeer verslank, is dit vir my belangrik dat ek dieselfde kos eet as wat my gesin eet, bloot omdat ek beslis nie op die lang duur sal kan volhou as ek aanmekaar ander kossies maak nie. Ek konsentreer maar net meer op groente, kook dalk ‘n bietjie gesonder, en almal eet lekker saam.
Ons eet gewoonlik ‘n groot middagete, maar baie dae werk dit anders. As ek die hele dag dorp toe gaan, is dit nogals moeilik. Ek pak maar ‘n paar geelwortels, appels en ‘n toebroodjie in, maar as ek by die huis kom, wil ek net als gryp wat voorkom. Selfs as ek meer broodjies inpak, is ek maar honger as ek by die huis kom. (Ek dink dis sielkundig).
Terwyl ek nou van brood praat. Ek weet dat dit die een groot item is waaroor mense verskil. Toe ek en ‘n vriendin nou die dag praat oor begin punte tel, is dit iets wat iemand dadelik sê: “Stysel is mos gif, né?” Ek verskil nog steeds van daardie opmerking. Want as jy na die voedseldriehoek kyk, is stysel die item waarvan ‘n mens die heel meeste moet eet. En dit maak vir my sin, want dis die item wat die vinnigste in energie omgesit word. Ek glo dat ‘n mens altyd gebalanseerd moet eet, dat daar nie een voedselgroep is wat ‘n mens heeltemal moet uitskakel nie.
My grootste probleem is gewoonlik nie dat ek ‘n voedselsoort uitskakel nie, ek konsentreer dalk net te veel op sekere voedselsoorte. Jy sien, as ek vleis en brood het, is dit mos genoeg, of hoe? 😆 Die grootste uitdaging op hierdie stadium is om nie aan alles te knibbel nie, en as ek wel iets wil kou, dit ‘n vrug sal wees, verkieslik ‘n appel of so iets wat net ‘n halwe tel. Maar ek ly beslis nie honger nie. 🙂 En om op groente te konsentreer. Ek is mal oor groente maar vergeet soveel keer om dit gaar te maak!!!
En natuurlik, om nie meer in te neem as wat ek verbrand nie….
Dankie vir almal se bemoediging en aanmoediging met die vorige skrywe oor die gewig.
Lyniehongertoorts
27/01/2016: Hierdie bloginskrywing is oorspronklik in Julie 2012 geskryf. Intussen het ek met Banting begin en my siening hieromtrent het totaal verander. Deesdae vermy ek alle stysels en konsentreer op vette. Ek word net nie meer tussenin honger nie, vergryp my glad nie meer aan kos nie, lyk en voel baie goed. Vir meer inligting omtrent Banting, volg my faceboekblad, Toortsie se Bantingboerekos.
Toortsie se faceboekblad.
ALLES in moderation, is hoe ek redelik konstant bly.
LikeLike
Sien, mens moes net daardie heel eerste keer nie die roetine verbreek het nie. Jy moet dit net nooit doen nie, jy sal lewenslank slank bly.
LikeLike
Moenie die oefening vergeet nie!
Na ‘n epiese gesukkel hier deur die winter om nie al my vordering sedert Maart ongedaan te maak nie, het ek half uit desperaatheid begin om elke oggend te gaan stap. Die-een-wat-gehoorsaam-moet-word reken ek probeer elke more wegloop van die huis af, maar kom dan terug wanneer ek honger raak 😉
Ewenwel…Ek stap nou net minder as 4 weke en by vanmore se inweeg is ek ‘n hele 4 kilos ligter.
Ek is nog net nie heeltemal seker of dit die oefening is, of bloot die feit dat ek vir 90minute elke dag nie naby die koskaste is nie, maar dit lyk of dit werk.
LikeLike
Ja, ek en my woef., sien woef het oef nodig. Het mooi gehou maar toe land ek in club mykonos saam met vriende.
LikeLike
Ek is bly dit is my in die lewe gespaar; maar ek bewonder die deursettingsvermoë van mense wat hulle koppe ingestel het om gewig af te SKUD!! Die oefeningding is baie belangrik…;)
LikeLike
Vir my is Shape Magazine een van die beste tydskrift ivm fiksheid / gewig verloor. Ek het vier jaar terug met hulle hulp begin draf en nog nooit weer teruggekyk nie 🙂 Wat regtig vir my help as ek probeer om gewig te verloor (na die winter!) is daai ding van iets eet elke 4 uur – al is dit dan net ‘n eier of ‘n appel of so tussen etes. Dit help! En: Good luck!!
LikeLike
Haai toortsie, daai tabel is net vir vet Hollandse mense! As hulle wou hê ons Afrikaners moet dit volg sou dit in Afrikaans gewees het. Ek hou van jou nes jy is. (-;
LikeLike
Ek het so ‘n mooi Afrikaanse een gehad wat geplak was op my yskas…. maar helaas…. En dankie vir die hou soos ek is!!
LikeLike
sug…
LikeLike
My voedingsdriehoek is ‘n T-bone wat regop in my bord staan.
LikeLike
Ja Twakkies, of ‘n skaap saaltjoppie!
LikeLike
Het vandag ‘n program gesien oor gesond eet en gewig en als, en daar het die dokter gesê koolhidrate (aartappels, rys, pasta) moet 50% van jou daaglikse dieet uitmaak, net soos op jou piramide. Dit bevat eerstens energie (sodat jy kan oefen) en minerale en vitamine (vir gesonde kraakbeen), so moenie dit weglaat nie! (meer vir ander mense wat meen koolhidrate is sleg, as vir jou toorts). Doe so voort!
LikeLike
aaaaagggggg dankie!!! 🙂
LikeLike
Moet by jou bieg – moeilike eerste dag terug by die varsity gewees; die oggend sommer begin met twee videos oor diere wat geslag word … Vanmiddag toe ek by die huis kom het ek eers 10 jelliebeertjies (sonder gelatien), een string liquorice, ‘n piesang en drie blokkies sjokelade geëet! Skokkend. Hoop jou dag was beter as myne!
LikeLike
My dag was beter, maar nie die naweek nie! En ek sou ‘n hele blok sjokolade geëet het as ek daardie videos gekyk het! Dink jy het goed gedoen!
LikeLike
Ek is nou sommer ook lus om oor my onlangse gewigverlies en veranderde maaltye te skryf. En die oefening.
Jy is reg, mens moet steeds uit al die voedselgroepe uit eet.
LikeLike
Skryf daaroor!! Weet jy, dit help myself geweldig baie as ek daaroor skryf. Dit voel of ek ‘n bietjie meer moet vasbyt, want hier is mos nou ander wat daarvan weet dat ek probeer maer word. En dalk help dit ook vir ons as ons sien wat jy gedoen het, dalk doen ons sommer net soos jy!!
LikeLike
Ok, ek sal gou ‘n inskrywing daaroor gaan doen. Ek dreig al lankal om dit te doen.
LikeLike
Uitstekende plan.
LikeLike