never good enough

Net nooit goed genoeg nie. Is dit ‘n gevoel onder baie van ons afrikaanssprekende Suid-Afrikaners? Of is dit ‘n wêreldwye gevoel?

‘n Vriend skryf op facebook: Ek het vanaand weer The Wall van Pink Floyd gekyk en besef dis ‘n siek fliek oor alles wat mens nie in jou lewe wil hê nie! Toe besef ek, die klein laaitie is, en was wat ek beleef het tot nou toe. Die kamtige moffie wat musiek speel in plaas van rugby! Die ou wat agter die houtwerk-klas sit samet die ander “minderes” Ander mense wat hul ouers of vriende se mag en rykdom, en vrouens wat hul unieke mag, misbruik om “iemand” te wees of te word. Ek was altyd die bang outjie met die arm ouers in ons dorp, maar ek het nog altyd en glo nog steeds in die Woord wat bevestig dat ons eendag gelyk sal wees! Hoogmoed en rykdom sal val, maar eerlikheid en geloof sal bly staan! Toevallig sing ek die liedjie, Pretend your’e happy wen you’re blue! Ek doen dit al vir meer as 35 jaar! Ek sê maar net! Ek is gatvol vir voorgee! Hoekom mis almal altyd iemand TE LAAT? Dankie vir elkeen wat werklik omgee, ek waardeer julle elke dag. Lekker aand vir elkeen!

Net Dinsdag by die bybelstudie het ons ook hieroor gepraat. Daardie ding dat jy altyd iewers iets te kort kom. Daardie gevoel van minderwaardigheid.

Ekself was ook ‘n “odd” ene. Pateties in sport. Alleen in die musiekklas. Kloosterkoek. As al die ander kinders Desembermaande langs die see lê en van die een partytjie na die ander gaan, hou ek stranddienste. Ek het baie gewonder: “Hoekom sou God my so anders maak?” Tot ek uiteindelik besef het dat God nie duplikate maak nie. Hy maak elkeen van ons uniek. Dat hy my spesiaal gemaak het net soos wat hy wou hê. Dat daar baie mense is wat soos ek voel!

Ek het ook geleer dat dit nie is oor hoeveel geld jy besit nie, watter graad jy verwerf het, wat jou laat “in” wees in die “cool” groep nie. Dat jou vriende bepaal word deur jou eie belangstellings, waardes, wat vir jou belangrik is.

Dit het my so vry gemaak, want nou hoef ek nie meer mee te ding nie, ek hoef nie te weet van elke nuutste modegier nie, ek hoef nie by te bly nie. Dis dinge wat in elk geval nog nooit vir my belangrik was nie. En die wonder is – dis ook nie vir my beste beste maats belangrik nie. By hulle mag ek myself wees, ek mag God dien sonder om te hoor ek is skynheilig. Hulle is vir my lief net soos ek is en ek vir hulle!!! By hulle voel ek veilig en tuis.

So, as daardie gevoel van “nie goed genoeg nie” by my opkom, trap ek dit net daar dood. Want voor God is ek goed genoeg. En dis eintlik al wat tel.

En weet jy wat? Jy wat hier lees is OOK spesiaal en heeltemal goed genoeg!

Groete

Goedgenoeg Toorts

16 thoughts on “never good enough

  1. Baie dankie. Dit is lekker om te sien dat ander ook soos jy voel. Beste van alles, dit waarmee jy jouself lewenslank besig gehou het, het ewigheidswaarde.

    Like

  2. As jy maar net kan weet met hoeveel mense jy vandag hier praat. Ek moes eers oud en wys word om vrede met myself te kon hê. En omdat ek nie drink en van raserige kuierplekke en partytjies hou nie, dink baie mense ek is ‘n snob of ‘n pretbederwer. Dis een goeie ding wat die sodiale netwerke my geleer het. Daar is baie ander mende wat ook soos ek is en ons makeer niks nie. Ons is goed genoeg net soos ons is.

    Like

    1. Son, ek dink dat elke persoon op die aardbol maar te doen kry met die gevoel van nie goed genoeg nie. Baie sal dit nooit erken nie en steek dit weg onder bravade, of onttrek of wat ook al. Party mense kry later vrede (ek het!!) terwyl ander dit net nooit kry nie. ek dink dis nogals iets wat ‘n mens in jou kop moet deurwerk.

      Like

  3. Stem saam. Ek stem ook saam met Son dat omrede ek nie ‘n partytjie, drink mens is, was ek maar ook vlgs mense ‘n pretbederwer, maar dit het my net tot op ‘n sekere “ouderdom” gepla :-). Om op ‘n punt te kom waar ek weet dat wat ek doen, doen ek nie vir ander mense nie … dit het vrede gebring. Maar ek dink mens kry nog sulke af en toe dae … Dan moet ek myself net weer daaraan herinner dat ek’s ‘n Koningskind, God-pleaser not a people-pleaser is.

    Like

  4. Die rebellie wat ek gevoer het was juis om my eie unieke self uit te leef. Ek het geweier om in ander mense se vorms ingedruk te word, en sodoende aanvaarbaar te wees. Elke mens is uniek en kosbaar….. As elkeen van ons maar soos Dawid kan weet en sê: “I will praise You, for I am fearfully and wonderfully made.”

    Like

  5. O ja, ek en “aanstaande” skoonseun het gisteraand ‘n gesprek gehad oor presies dieselfde onderwerp 😉 En hier skryf jy vandag daaroor 🙂

    Like

    1. Ek het ook nooit gevoel ek “pas” nie. Manlief was die eerste mens wat my aanvaar het net soos ek is maar dit het my ook lank gevat om te besluit as mense nie van my hou soos ek is nie is hulle nie regtig my tyd en energie werd nie Daar is in elkgeval baie mense wat van my hou oor ek ,ek is en ek gaan vir niemand verander nie

      Like

      1. Die Gees verander ons om meer soos Jesus te wees; dit is ‘n goeie “verander.” Maar vir verkleurmannetjie speel sodat elke mens van my sal hou… (soos my sesjarige kleinseun sê) “TANKS, but No TANKS”

        Like

      2. En dit is natuurlik hoekom juis jy en hy getroud is. Omdat julle “gepas” het, omdat dit nie nodig was om te verander nie. Dit maak ‘n mens moeg om die heel tyd te moet aanpas.

        Like

Gesels saam, asseblief!