My man is so oulik! Dis skeertyd hier by ons en ek kon nie daarby uitkom om foto’s te neem nie. Toe het hy geneem!
Eerstens is dit uiters belangrik dat die skape se wol heeltemal droog is. Hul word dus gewoonlik al die vorige aand onderdak gebring sodat hulle nie in die nag nat dou nie. Ons kry skeerspanne wie uitstekend is in hulle werk.
Die skape word in kleiner groepies in kampies gehou. Die skeerder kom vang dan ‘n skaap wat hy wil skeer.
4 Skeerders kan tegelyk skape skeer, elkeen by sy eie skeermes. Eers word die skaap skoongeskeer onder sy maag. Dan volg die res van sy lyf. Die hele vag wol word as ‘n eenheid afgeskeer, nie stukkie-stukkie nie.
Twee tot vyf minute later is die skaap skoon!
Solank die skeerder ‘n volgende skaap gaan haal, kom die sorteerder en neem die hele vag weg om sorteer te word.
Dit word op die sorteertafel oopgegooi en gesorteer volgens lengte, kwaliteit, vuil wol, ens.
Dan word dit in groot hokke gegooi, soort by soort. (Dis waar ons as kinders so graag wegkruipertjie gespeel het, so tussen die wol!!)
As daar genoeg van ‘n soort is, word dit gebaal. Eers word die sak in die baalmasjien gehang, en dit word ingegooi en getrap deur ‘n mens. Dan word dit gepars tot die baal baie styf is, en toegemaak.
Die wolbale, elkeen gemerk met die boer se nommer, en ook die soort wol, en die volgnommer van die baal (die hoeveelste baal dit is).
4 Mense skeer saam 350 tot 400 skape per dag! Ons skeer elke 9 maande sodat die skape se wol nie te lank raak en hulle te swaar daaraan dra nie.
Skoon skapies
Meeeeeeeee……Toorts
Kry daai skape nie koud gedurende die winter nie ? Dankie vir die blog synde dat ons nou skape gehad het nie , was dit blerend leersaam.
LikeLike
Nee wat, hulle skeer mos nie als af nie. Daar bly nog genoeg oor. Die skape kry swaar as dit droogte is by ons en hulle is honger, maar as hulle magies vol is, is hulle heeltemal okay
LikeLike
Soos Dirkie sê… “blêrend leersaam!” Daar word omtrent op daardie plaas van julle gearbei 😉
LikeLike
Mens noem dit “gemengde boerdery”
LikeLike
My liewe man vra na jou melktertvermoëns…?
LikeLike
Wanneer wil julle kom? Skeertyd is al weer verby, maar julle is BAIE welkom.
LikeLike
Kewl!!
LikeLike
🙂
LikeLike
Ek is uiteindelik weer half op die lug, en wou vir jou sê ek vind jou plaasinskrywings vrek interessant! Wat ‘n voorreg om so saam diere te kan lewe – maar jy ken my mos, by my sou die beeste en skape op my bed slaap en ons almal saam oud word!
Wat en van waar koop julle vir voer as dit droogte is?
LikeLike
Voer is ‘n PROBLEEM!!! My man is ‘n regtig konsensieuse voermaker. So, as hier kos is, maak hy bale en bale en bale. Maar ons moet tog maar aankoop. Die probleem is ruvoer omdat in droë jare is daar ook nie strooi om te baal nie. Ander voer kan ons by voermaatskappye soos Meadows koop, ten duurste natuurlik! Mielies word vragte aangery uit die Vrystaat uit, as daar is!!! Want ook HULLE het soms voer en ander tye nie. Dis altyd beter as dit ‘n nat jaar is.
Die mooiste van my “plaasinskrywings” is dat my man wie nie veel gevoel het vir my blog nie, nou al met foto’s by my aankom. “Jy moet kyk, ek het die skeerdery afgeneem, maar daar is foto’s ook van die spuit, as jy dalk daaroor ook wil skryf.” 😆 en deesdae sal hy vir mense vra: “Het jy al die goed gesien wat toorts opsit oor die boerdery? toorts, wys gou vir hulle.”…. om te dink ek moes 27 jaar getroud wees om dit te beleef!!! 🙂 Daar is ALTYD hoop!
LikeLike
oe, ek sal my dood bekommer as my diertjies moet honger ly!
jou man is seker in sy noppies dat sy vrou sulke mooi stories van die plaas vertel. en wonderlik dat hy nou so deel van jou blog is. great stuff 🙂
LikeLike
Dis baie sleg as die diere swaar kry. Hulle word maer en dan kan mens hulle ook nie verkoop nie. Baie baie sleg as dit regtig vir lank droog bly. Ons het dit al gehad. Meermale.
LikeLike
Baie interessant. Dankie vir die verwysing.
LikeLike
Ek is bly jy het dit gekry! 🙂
LikeLiked by 1 person
So bly jy het dit gekry en gereageer, toe is dit vir my weer maklik om net dit weer te share.
LikeLiked by 1 person
Verlang na skeertyd, maar is baie bly dat ek nou in ‘n deel is, waar droogtes, feitlik, onbekend is. Dankie vir die plasing.
LikeLike
Ja die droogtes is angswekkend.
LikeLike