Top Secret

Ek draf kafee toe en bel my ma  “Mammie, hoe kook ek rys?” met die nuutgevonne inligting draf ek stoof toe.  Dan weer kafee toe om te hoor van boontjies….. terug stoof toe…. en na al my moeite, verbrand die spul in elk geval.  So tussen die drawwery deur het ek ‘n belofte aan myself gemaak; “Wanneer ‘n kind van my die huis verlaat, sal hy of sy selfversorgend wees… Punt!!”

Behalwe vir Ken, het almal in ons huishouding dus kombuisbeurte gekry.  Die resepteboek, ‘n leêr waarin al ons gunsteling disse uit die verlede, of Huisgenootresepte wat ‘n “thumbs up,” gekry het, gebêre was, is gebruik, en misbruik.  Later het dit so gehawend soos ‘n kind se gunsteling teddiebeer gelyk, maar vir oormaak het ek nooit kans gesien nie.

Die kinders verlaat die nes, maar soos klokslag kom ‘n oproep; “Wil mammie nie asseblief vir my die sjokoladekoek, of fluweelkoek, of pannekoek, of Granny se drop scones….. se resep tik, en e-pos, of sms nie.”  “Ek het hom dan laas vir jou gestuur….”  “Ek weet, maar ek het hom iewers neergesit, en het nie nou tyd vir soek nie.”  Dan word die leêr uitgehaal, en die dofverbleikte resep afgetik, en gestuur.

Erens op verlede jaar se pad, kry ek toe moed vir die onooglike leêr.  Ek trek my “lap top” nader, en so met die tik van die eerste resep kry ek ‘n blink gedagte.  Die ewige oortik en wegstuur van resepte na die kinders toe sal net stop, wanneer elkeen ‘n eie “resepteboek” het.  Die besluit word geneem; “Ek gaan ‘n gedrukte hardeband resepteboek, met nie net die resepte nie, maar ook ons huisgesin se kombuisgeskiedenis, met fotos, kwikslae en vermanings, die lig laat sien.”   

So word projek “Top Secret,” gebore.  Dit hou my vir die res van die jaar, tot in die nuwejaar toe besig.  Ek herleef die jare in ons kombuis, en vang dit op papier vas. Op ‘n bladsy; “Dedicated to the Eves in our family,” herinner ek my dogters, “It is better to dwell in a corner of a housetop, than in a house shared with a contentious woman,” en “A word fitly spoken, is like apples of gold in settings of silver,”

Die dag toe ek die swart hardeband boekie, met die woorde “Top Secret,” in goud op die buiteblad gedruk, vashou, voel ek so trots soos ‘n ma oor haar pasgebore baba.  Dit het tyd geword dat ek ons Portugese dogter in my vertroue neem.  Sy is ons kombuis fundi, en ek het haar oog nodig met die redigering van die boek.  Die Sondag ry Ken en ek platteland in, om die boek vir haar te neem.  Eers nadat sy plegtig beloof het om die inhoud van die pakkie as hoogs vertroulik te hanteer, oorhandig ek dit aan haar.  Opgewonde oor die boek, wil sy weet hoe kan ek aan haar wat so baie praat, en die nuuskierigste van die lot is, met so ‘n geheim opsaal.

Ses weke later laat druk ons die ander boeke.  “Top Secret,” word ‘n prettige geheime speletjie tussen die klomp.  Elkeen wat ‘n boek ontvang moet eers ‘n belofte van geheimhouding aflê, en net diè wat boeke het mag met mekaar daaroor praat.  Die res word geterg met “ons weet iets wat julle nie weet nie,”  Hulle vra vir “clues,”  “As ek vir jou vertel sal ek jou om die lewe moet bring,” sê Ken vir een so ‘n nuuskierige.  “Hoekom?” kom die verbaaste vraag.  “Hoogs geheime informasie,” antwoord Ken.  Uiteindelik het elkeen ‘n boek, en ek laat almal duidelik verstaan; “Bewaar die een se siel wat my weer vir ‘n resep bel.”

Ek het geweet die kinders sou bly wees vir ‘n eie resepteboek, maar ek het nie die sentiment wat daarmee saamgaan verwag nie.  Daar was blydskap, en bewoëndheid, en diepe, diepe dankbaarheid; die trane loop vrylik oor die stil kind (ja, sy is terug in ons lewe,) se wange toe sy deur die boek blaai.  Daar word kliphard gelag, en geterg.  “Dit is goed mamma het vertel van die dag toe jy die rys en boontjies saam in een pot gekook het!!”  Aangedaan sê Shane; “This is a precious gift mother, you could not have given us a present of greater worth.”

My raad aan julle… begin aan julle eie resepteboek tik, en sit dan terug, en geniet die vrug van julle arbeid. 😉

26 thoughts on “Top Secret

    1. Dit is die lekkerste lekker om te doen Toorts. Jy laai Fuji se program om albums te maak, en vanuit die program gee jy jou skeppingsvermoë, vrye teuels. Jy kan ‘n CD “burn,” en instuur. Of sommer direk vanaf jou computer dit na Fuji toe stuur, en hulle pos jou boek. 🙂

      Like

  1. Wow! Ek is baie beïndruk en geïnspireer (ek moet nou die ï 2 keer gebruik aangesien ek dit moes gaan opsoek)! Ek glo nie dis so maklik soos jy dit laat klink nie – maar ek gaan sowaar probeer.

    Like

    1. Dit is nie ‘n moeilike program om te gebruik nie hoendersop. Al wat nodig is, is verbeelding en soos ek vir die kinders in die boek gesê het “Let’s go bananas!!!” Geniet jouself, en ek is daar as jy hulp nodig het.

      Like

  2. Kameel! Jy het my nou skoon opgewonde! Ek het onlangs in ‘n nuwe huis ingetrek. Saam met die huis het ons meeste van die meubels gekoop, want die vorige eienaars was op werkspermitte in SA en hul kontrak was verstreke. So kry ek my droomhuis in ‘n pragtige buurt met die mooiste houtmeubels met een fantastiese slag!

    Onder die meubels is ‘n skryftafeltjie en van meet af het ek die gesin laat verstaan dis MYNE. My “creative space”. Net gisteraand dink ek dat ek so oor Saterdag my spasietjie wil “regkry”, want ander helfte gaan rugby kyk op Loftus, …….. maar vir wát? Wát sal ek daar “create”?

    Nou weet ek!

    Like

    1. Ek is so bly vir jou oor daardie huis en meubels wat jy gekry het Sonlig… sluk sowaar nou ‘n knop in my keel weg. Nog blyer is ek oor daardie “creative space,” Ons het elkeen so ‘n plekke nodig. Geniet elke oomblik wat jy aan die boek werk…. en laat my asb van die eindproduk se blaaie sien!!!

      Like

  3. Dis ‘n wonderlike idee. My kinders het Kersfees vir my so boek met familiefoto’s gegee, ek het so gehuil van blydskap, dit was een van die mees kosbare goed wat ek ooit ontvang het. Ongelukkig hou ek nie van kosmaak so dis selde dat hulle my bel vir ‘n resep, hulle epos hulle s’n vir my 🙂 En nou kook 2 skoonseuns beter as ons almal 🙂

    Like

    1. Dan verstaan jy hoe…. oeps amper tik ek aangeklam…. aangedaan die kinders was. Mans het partykeer ‘n slag in die kombuis, wat ons verbaas. Was ons Portugese meisiekind nie so ‘n voorslag in die kombuis nie, was ons seun definitief die ster daar.

      Like

  4. Dis baie oulik, ek is toevallig besig met iets soortgelyks! Ek gebruik net ‘n ander program, hulle is almal baie gebruikersvriendelik, net DUUUUUR! Jare gelede het my sussie vir ons ‘n mini-boekie gegee, sommer met ‘n kleurdrukker.

    Like

    1. Dankie murphy. As ek nou so dink moet ek sê, ek sou ook graag ‘n boek wou hê met ‘n bietjie familiegeskiedenis, en fotos van my dae as kind!! Dit sou natuurlik nie rondom die kombuis kon wees nie 😆

      Like

        1. My dogter het dit by ‘n fotowinkel gekoop. Sal haar vra of dit op ‘n ander manier ook gedoen kan word. Sy het Fuji s’n gekry. Daar is ander programme ook… het een probeer, maar verkies Fuji s’n.

          Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s