Die trek van ‘n sneller

‘n Paar minute gelede lui my telefoon; ons seun se stem is dik, en ek skryf dit toe aan sy verstandtande wat gister uitgesny is.  Die nuus is egter veel erger.  “Arina, is gisteraand doodgeskiet,” sê hy.  “Arina?” vra ek verslae.  Haar beeld is duidelik voor my… laggend en vol lewe.  “Wat het gebeur?” ek dink nie ek wil hoor nie.  “Sy het by haar ma hulle se huis aangekom, twee mans gesien wat wou inbreek, en toe sy skreeu om haar ouers te waarsku, skiet hulle haar in die bors, en hardloop weg.”

Sondag met die ontbyt waar ons skoondogter as ‘n finalis vir Mev Suid Afrika aangewys is, was Arina ook daar.  Hoe dan anders, sy en ons skoondogter is beste vriendinne.  Om die groot ronde tafel het ons gesit, en kort-kort uitgebars van die lag vir Arina se sêgoed.  Sy het ons op haar komiese manier vertel van haar stryd om gewig te verloor.  “Was jy oorgewig?” vra ek verbaas aan die kort mensie, wat nouwel nie ‘n wilgerlat lyf het nie, maar vêr van oorgewig is.  “Dit was voor tannie my leer ken het,” sê sy, “ek het 140 kg geweeg.”  Sy slaan ons seun op die skouer, “hierdie seun van julle help my baie, hy het my nou in die gym, en dril my omtrent.”  Sy demonstreer hoe hy die gewigte oppak, en wanneer sy sê; “ek kannie,” vir haar sê, “natuurlik kan jy.” 

Sy straal toe ons skoondogter in die finale aangewys word, en verklaar dat ons almal Kaap toe gaan wanneer die kroning plaasvind.  Voordat ons groet om te vertrek laat Arina almal weer skater deur ‘n kwikslag.  My seun “high five,” haar vir dit wat sy kwytgeraak het.  Soos altyd is haar soengroet hartlik.  Ek druk die kort mensie vir ‘n rukkie teen my vas, en groet dan my kinders; die “jongmense,” gaan by my seun hulle aan huis kuier.  Min wetende dat ‘n lewe so vol potensiaal oor twee dae deur die trek van ‘n sneller uitgeblus gaan word, ry ek en Ken huistoe.

11 thoughts on “Die trek van ‘n sneller

  1. Ai. Ek het sopas die storie in Beeld gelees en nou weer hier. My hart sak in my skoenne. Ek wens so vir ‘n antwoord om al die sinnelose barbaarse moorde te stop. Sterkte. Woorde is nie genoeg om die hartseer te laat verdwyn nie. Jammer.

    Like

  2. My vriendin het twee jaar gelede haar seun aan die dood afgestaan. Toe ek haar vandag van Arina vertel het sy net uitgebars van die huil en gesê “haar arme, arme ouers.” Daar lê vir hulle ‘n swaar pad voor.

    Like

Gesels saam, asseblief!