Wanneer hou ek stiltetyd

Vir enige vriendskap of verhouding is dit nodig dat die persone in die verhouding/vriendskap tyd met mekaar sal spandeer. As ek nooit iets saam met my vriendin doen, nooit vir haar bel of met haar gesels op een of ander manier nie, verloor ons later mekaar. Net so is dit belangrik as ek ‘n verhouding met God wil bou, ek tyd met Hom sal spandeer. Anders weet ek later net van Hom, maar ken Hom glad nie. Ek kan Hom selfs vergeet as ek nie tyd saam met Hom spandeer nie…

Daar is so baie mense wat sê dat ‘n mens moet vroeg opstaan om die eerste ure van jou dag aan God af te staan. Dit het seker meriete, maar as MY verhouding met God en My stiltetyd moes afhang van die eerste ure van die dag, sou daar min gebeur het. Die eerste ure van die dag is nie my BESTE ure nie. Ons almal verskil mos!

Daar was ‘n tyd wat ek op die dorp gewerk het. Ek moes die kinders al 25 oor 7 by die skool aflaai, maar ek moes eers 8 vm by die kantoor wees. Nadat ek baie maniere probeer het om my stiltetyd by die huis in te pas en na baie frustrasies, het ek my Bybel begin saamneem en in daardie tydjie nadat ek die kinders afgelaai het, rustig iewers onder ‘n boom gaan sit en stilwees by God.

Op rowwe dae gebeur dit dat ek in die oggend net vinnig stiltetyd hou, iets in die Bybel lees en bid, maar vanaand wanneer ek rustig is, tyd met Hom spandeer.

Ek het ook baie keer as ek Maandagoggende my dogter skooltoe moes neem, haar eers geneem, en as ek terug is en almal rustig is, my stiltetyd gehou.  In my program werk dit beslis beter as ek dit ‘n bietjie later in die oggend doen, wanneer alles rustig is.

Ek is ‘n absolute voorstander daarvan dat elke persoon in sy eie program moet kyk waar dit die beste gaan inpas. Doelgerig kyk en dan daardie afspraak met God nakom.  Ek glo al hoe meer dat dit nie saakmaak WANNEER, of watter tyd van die dag dit is nie. Wat saakmaak is DAT dit gebeur. Dat wanneer jy stil word, jy op God kan fokus en net stil wees en Sy wonderlike nabyheid en krag en liefde kan ervaar. As jy dan jou Bybel oopmaak, sal jy Sy stem hoor, en wat is wonderliker as dit??

Geniet jou tydjie saam met Hom. Dis die beste, beste tyd van die dag! My hart word net stil as dit stilword in U. Daar is niks so bevredigend as ‘n “lekker stiltetyd” nie.

Groete

Toorts

2 thoughts on “Wanneer hou ek stiltetyd

  1. Wanneer die huis rustig geword het,in die oggende het ek by die Here se voete gaan sit. Ek het hierdie tyd so broodnodig gehad; dat die eerste ding wat my man my gevra het is ek die dag ‘n bietjie omgekrap is: “Het jy vandag jou stiltetyd gehou?” Volgens hom kon ek nie ‘n dag hanteer sonder my tyd saam met God nie….. wat natuurlik waar is.

    Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s