Wanneer die Sani-pas roep

Die Midlands – oppad Natal toe – het sy eie bekoring;  Draai jy van die snelweg af, en ry deur “Nottinghill,” klink dit nie net asof jy in ‘n ander land is nie, maar dit voel of jy uiteindelik Utopia bereik het; Met hulle oorspronklike name wink die gastehuise jou nader, en die winkeltjies en stalletjies vra mooi jy moet hulle kom besoek.  Dit voel skoon na sonde om verby te ry.  Maar vir Ken was daar net een pad en een naam wat hom soos ‘n magneet getrek het… “Sanipas!”  Met sy avontuurlustige gees, het hy hom nog nooit deur paaie wat vir 4×4 voertuie bedoel is, laat afskrik nie;  (wat vir ‘n paar benoude oomblikke in ons huwelik gesorg het.)  Dus kon ek nie sy “respekte,” vir die betrokke pas verstaan nie.

‘n paar weke gelede bied skoonseun wat die verlange in Ken hart ken, sy 4×4 vir hom aan, en ‘n paar oggende later – terwyl die mis nog laag oor die aarde lê – ry ons suidwaarts.  Die afdraai na die Sanipas is ‘n hoogtepunt; die grondpad mooi, en die natuurskoon, soos dit maar altyd in die wêreld is pragtig.  Ek “oe,” en “a,” oor die herfskleure, die pragtige wolke, en mik en druk sommer so in die ry die kamera se knoppie.  Stadig maar seker begin die pad slegter word, maar definitief nie so dat Ken nie met sy kar daar sou kon ry nie.

Ons bereik die Suid Afrikaanse grenspos; binne minute is ons deur en klim opgewonde terug in die bakkie.  Dit is mooi hier tussen die berge en ons is vuur en vlam om te sien wat die pad vorentoe vir ons inhou.  Hoe beskryf ‘n mens ‘n agt kilometer pad wat jou een uur en twintig minute neem om te ry? 😯  Gelukkig is dit so groots en mooi om ons, dat ek nogsteeds “oe,” en “a,” met tye oor die prag van God se skepping; ander kere oor die pad wat weggespoel het, en ek wonder wanneer ons die dieptes gaan afrol.  Hier en daar is daar ‘n spatsel geel blomme wat die lug ‘n soet geur gee, en soos balsem op die senuwees inwerk.  My senuwees natuurlik; Ken geniet elke stamp en gat, en klip.

‘n Laaste u draai, en ons is bo 😆  Ons is in Lesotho; en dit is net hier waar ons die nag gaan deurbring.  Ek is seker die koue het gewag dat ons eers veilig ons bestemming bereik, voordat hy toegeslaan het.  Ons weerstaan die ysige vingers, en gaan drink diep van die skoonheid om ons.  Terug in die rondawel trek ek twee stelle klere, en ‘n baadjie aan, en bibber nogsteeds.  Om die vuurtjie wat aanhoudend hout vra, drink ons koffie en tee, voordat ons die bed, die beste plek vir so ‘n ysige middag, opsoek.

Daardie aand eet ons heerlike “trout,” in die restaurant, en neem fotos waar ons by “The highest pub in Africa,” sit.  Dit is heerlik warm in die vertrek, dus kuier ons sommer daar.  In die gesels vertel een van die gaste ons van die Katsedam, en dat hy die volgende dag verder Lesotho gaan inry om daarna te kyk.  Ek weet Ken brand om die pad verder aan te durf, maar skoonseun het sy bakkie vir ‘n fietsresies nodig. (Dit is om die fietse te vervoer, darem nie om die resies mee te ry nie!!)

Die volgende oggend is dit nogsteeds yskoud, en die mis lê laag.  Gelukkig het die vorige aand se reën opgehou, en ons sug dankbaar toe die son sy gesig vir ons wys.  Met die kameratjie stewig in my hand vasgeklem begin ons die terugtog.  Ek “oe,” en “a,” weer oor die pragtige natuurskoon;  en terwyl ons die steiltes af hop, wip, en stamp, “mik” en “druk” ek dan die kant, dan daardie kant toe; gelukkig trek dit my aandag van die skerp draaie, en diep klowe af.  Aan Ken se praat kom ek agter dat hy diep dankbaar is vir die ondervinding, maar dat die Sanipas sy avontuurlustigheid nou eers aangewakker het 😯  “Africa, watch out here we come!!”

By die huis aangekom plaas ek ‘n paar fotos van ons “avontuur,” en net daar byt die gogga vir Toortsie.  Van wat ek kan aflei het hulle nie bo-op die berg geslaap en omgedraai nie…. maar Lesotho in twee dae probeer platry…. berge en al. 😆

4 thoughts on “Wanneer die Sani-pas roep

    1. Dit is pragtig daar tussen die berge!!! Ek sê altyd daar is nie ‘n mooier plek as die Kaap nie…. maar hierdie is ‘n “close call.” ‘n Mens voel klein tussen die grootsheid van daardie berge.

      Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s