Oorsig

Gedagtes aan emigrasie is nie vreemd nie. Ons ken almal mense wie ge-emigreer het.

In 2002 het ons die eerste keer vir ons familie in Australië gaan kuier. Toé was die hoofgesprek die verskille tussen hier en daar, hoe goed dit met hulle gaan, hoe goed hulle inpas en aanpas. Moeite is gedoen om ons met verskillende mense in aanraking te bring – “regte” Australiërs wat suksesvol boer, Suid-Afrikaners wat met niks soontoe is en as ‘n “farmhand” ‘n sukses maak, ‘n boerevriend wie nie so suksesvol is nie…. Ná die kuier het ons gesê: “Baie dankie, dit lyk wonderlik, maar Australië is ‘n bitter droë land en as dit nie nodig is nie, gaan ons nie ons eie droogtes wat ons so goed ken, verruil vir die droogtes daar nie.” Die veiligheid was oorweldigend. Huise word nie gesluit nie, vrugte word langs die pad verkoop met geen mens in sig nie. Jy sit net die geld daar neer…

Desember 2004 het ons weer gaan kuier. Ons was nog méér beindruk met hoe wonderlik hulle aangepas het. Weer eens die veiligheid. Ons gesels baie oor op watter maniere ‘n mens kan toelating kry tot Australië – “sponsership”, of “business owner”, of die “puntestelsel”, wat nog als!

Ek maak somme, wil so graag ‘n agterdeur oophou vir ás dinge regtig erg raak hier en ons vinnig moet glip, maar ek wil nie ‘n verpligting op onsself lê, soos om twee jaar daar te móét gaan werk nie. My man is haaks, maar ek begin toe korrespondeer met ‘n agent in Perth.  Die gedagte was om as “business owner” aansoek te doen. Op daardie stadium sou dit só werk: Wanneer die aansoek eendag goedgekeur is, wat langer as ‘n jaar kan duur, het jy 4 of 5 jaar om dit toe te pas. Als gaan goed met die onderhandelinge, tot ek R35 000 moet neersit, net om aansoek te doen, en geen versekering dat jy goedgekeur kan word nie. 😯 Net daar stop ek dit, want met soveel geld kan ek baie doen, dis mos nie dat ek beslis wil gaan nie!

Nou, na my derde keer, is ek so dankbaar dat ons so bevoorreg is om steeds hier in SA te wees. Dit gaan regtig goed met die Suid-Afrikaners daar. Dit voel amper of jy maar net in ‘n ander SA dorp woon, so tussen al die Suid-Afrikaners. Maar dit gaan regtig goed met ons hier ook. Dankie dat ek my kinders nog hier kon grootmaak. Dankie dat hulle nog na Stellenbosch Universiteit toe kan gaan. Dankie vir hulle vriende.

Ek weet nie wat die toekoms inhou nie. Sou dit ooit oor my pad kom dat ek móét skuif, sal ek dit doen. Maar tot dan bly ek trots en dankbaar net hier!

Ns. Ek besef dat hier soveel dele in ons land is waar dit onuithoudbaar geword het. Ek het regtig geen probleem met enige persoon wie voel om eerder te emigreer nie.

19 thoughts on “Oorsig

  1. Ja, hul sê die gras is groener aan die anderkant van die draad, maar daar is meer “poef” ook! Elke land het maar net soveel probleme soos ons, ons weet net nie daarvan nie! Jong ek voel net soos jy – ons bly nog lekker hier waar ons is, ander plekke sukkel dalk meer met roof en misdaad ens. En ek het begrip as iemand wil skuif, want elkeen het ‘n ander rede vir sy besluit! Mens moet net die beste maak van dit wat jy het!

    Like

  2. Ek sien weer hoe goed dit met die Suid Afrikaners in Holland gaan, ( en hier is baie)hoe mooi en rustig en veilig die omgewing is, hoe die lewenskoste laer is as in SA.

    Like

  3. Dankie – dis goed om vir ‘n verandering uit die perd se bek, by wyse van spreke, te hoor hoe jy dit ervaar. Van ons kinders bly ook oorsee, maar hulle kom kuier elke geleentheid wat hulle kry in SA.

    Like

  4. Ek stem saam met die vooreg van kuier- ek doen dit nou. En skype help baie, maar ai, ‘n mens mis die drukkies van die leinkinders as mens ver is. Gelukkig kom my kinders darem ook dikwels SA toe..

    Like

  5. Toortsie,ons bly in die land van melk en heuning.Suid-Afrika is ‘n ryk land.Ons het alles hier.Ons regering moet net sy prioriteite agtermekaar kry.Om ‘n dorp,stad en land te bestuur,het jy kundigheid nodig en jou hulpbronne moet reg en effektief aangewend word.Die regte mense moet aangewend word waarvoor hulle opgelei is.Ek glo ons het die kundigheid in hierdie land,maar dit moet reg bestuur word.Om oor iets te praat is een ding,om iets te doen en reg te doen is ‘n ander ding.Ek glo dat hierdie land nog ‘n groter sukses kan wees as huidiglik,as elkeen net sy verskille op sy skuif en doen wat elkeen moet doen in belang van ons geliefde Suid-Afrika.
    Groetnis.

    Like

  6. Ons se altyd die lekker van in die buiteland op die oomblik wees, is om vakansie in SA te gaan hou :-). Ons is net hier oor ‘n werkkontrak, maar huis is nog altyd SA en so het al my kinders ook by die huis gaan leer. Dis veilig, partygoed is goedkoper, hier is duisende Saffers … maar dis nie huis nie :-).

    Like

  7. Ek het rooimiere as dit by reis kom, maar ek het net een huis – aan die suidpunt van Afrika. En g’n niks of niemand gaan my hier weg werk nie, oor my dooie liggaam indien nodig.

    Like

Gesels saam, asseblief!