Besoek aan die plaas

Vyftig jaar val van my af, en ek is weer die dogtertjie wat padvat treinbrug toe.  Die poeletjie water waar ons klei uitgehaal het om klei-osse te maak, lyk nog net so.  Swart spinnekoppe met geel strepe, hang ook nog volop teen groot spinnerakke.  Al wat kort is ‘n stoomtrein om bokant my kop verby te dreun terwyl ek onder die brug staan; maar ek weet dit is te veel gevra.  “Dit is die brug, die plaas lê net oorkant die pad,” sê ek vir my man.

Die grootpad is nou ‘n teerpad, en is dieper plaas se kant toe verskuif, dus soek ons ‘n rukkie na die ingang.  Toe ek die ou hek oopstoot borrel die bloed deur my are… DIT is die grond van my voorvaders.  Maar nou is dit ‘n ander man se land, dus trap ons maar versigtig.  Twee sandspore draai links – na die plaas wat vroër jare aan my oupa se broer behoort het, af – maar ons hou reguit aan.  Van die huis en sy tuin, die vrugteboord, groentetuin, en netjiese plaaswerf is daar niks te sien nie.  Net ‘n geroeste doringheining hang nog half slap aan sy ou pale.  Die veld het alles oorgeneem, en dit is te dig om presies te sê waar die huis gestaan het.

Ons ry verby groot doringagtige plante, en ek herken dit as die plek waar die beeskrale was.  Dit is so bekend, dit voel asof ek net gister op die paal gesit en kyk het hoe die koeie gemelk word.  “Kom ons ry eers met daardie ander pad af, en sien of ons nie mense kry wat hier boer nie,” sê my man.  Alhoewel ek haastig is om by die plaashuis – of dit wat van hom oor is – uit te kom, besef ek dit is ‘n goeie idee.  Ons sal meer gerus voel as ons die eienaar se toestemming het om op sy plaas rond te krap.  En dan soek ek ook inligting, maar die moontlikheid daarvan is maar skraal.  My oom Stoffel se rondawel-huis staan nie meer op die erf nie, net ‘n oninteressante platdakhuis, en ek mis ook die pragtige tuin, en suurlemoenbome van daardie jare.  Ons sug van verligting toe ‘n vrou uit die huis uit kom, en kar toe stap.

Van vêr af het sy jonger gelyk, maar toe sy buk en by die motorvenster in loer sien ek sy is verrimpeld, en die blou oë stokoud.  Sy lyk versukkeld maar tog netjies.  Ek weet nie wat om van die prentjie te maak nie.  “Hello,” groet ek haar, “dit is die plaas waar oom Stoffel  gebly het?”  Tot my grote, grote blydskap knik sy haar kop, en begin name noem wat so deel van my kinderdae was.  Die plaas se naam het nie verander nie.  Binne ‘n rekord tyd, weet ek nie net alles van die plaas nie, maar ook alles van die kontrei se mense af.  Dit is duidelik dat sy uitgehonger is vir geselskap.  Sy bied aan om ons te gaan wys waar die fondasie van my oupa se huis, asook my oupa-grootjie se graf is.  Iets rondom hierdie versukkelde mens roer my hart, maar maak my ook bang.  As kind, en later as grootmens het ek hulpeloos staan en toekyk hoe ‘n vrou onder die ysterhand van haar man, in ‘n skaduwee van ‘n mens verander.  Dit voel asof dieselfde duiwel vir my loer.

Sy klim in die kar; ‘n klein entjie se ry verder stop ons by stalle sodat sy vir haar man kan vra of sy ons mag gaan wys.  Die man wat sy verskyning maak is bot, maar wat ons opval is dat hy in sy middel veertigs moet wees.  Hy lyk blakend gesond, en is netjies aangetrek – niks aan hom spreek van armoede en verwaarlosing nie.  Soos die man uit my kinderdae praat hy op dieselfde bars manier met haar.  Ek wil my arms om haar slaan, en die tingerige mensie beskerm, maar weereens staan ek as buitestaander en toekyk.  Terug in die kar gesels sy weer aanhoudend, en in die praat vind ons uit sy is net drie en veertig.

Nou dat ek weet waar die fondasie van die huis is, verlaat alle haas my.  Rustig gaan sit ek en bekyk elke vertrek in die huis; die mure is nie rêgtig nodig nie, daarvoor leef alles te helder binne in my.  In elke vertrek vertoef ek, en herleef die stories wat hulle daar afgespeel het.  In die leefvertrek sien ek my oupa in die lamplig met die groot familiebybel voor hom.  Ouma se helder stem sing; “Uit dieptes gans verlore, van redding vêr vandaan….” en wanneer die ander stemme saam inval ruk my hart van die groot verlang.  Ek lê weer in die stoepkamer en perskes eet van die boom voor die kamervenster, en lees die liefdesbriewe van my tannie wat toe nog op universiteit was. Die nag met die siek lammer wat ek uit die stoor gaan gaps het om by my te kom slaap, en wat toe nie tot rus kon kom nie, laat my glimlag.  Ek hoor die stories uit die dae in die konsentrasiekamp; My oupa, wat op twaalfjarige ouderdom so siek en uitgeteer was, en toe dood verklaar is.  Sy ma het geweier om te glo hy is dood, en het die predikant gaan haal om vir hom te kom bid.  Met ‘n veertjie voor sy neus het sy die dokter bewys hy lewe nog, en hom so gespaar. Ek swem saam met my susters en broer in die plaasdam vol slyk, en waai vir die drywer van die stoomtrein.

Terwyl ek so sit en in my gedagtes op die plaas rondhardloop stap my man êrens in die veld rond; hy gun my hierdie tyd om te reflekteer en “totsiens,” te sê aan ‘n plaas waar my voetspore so diep lê.  Oppad uit stop ons by my oupa-grootjie se verwaarlooste graf.  “Dankie,” sê ek vir my man toe ons terug is in die kar; “dankie dat jy my gebring het.”  Uiteindelik is die roepstem in my binneste stil.

Daar is egter ‘n nuwe stem wat vra, “watse erfenis gaan jy aan jou kleinkinders nalaat?”

Advertisements

22 thoughts on “Besoek aan die plaas

  1. Ek het dit so geniet….in my geestesoog my Ouma ook gesien met die sing van “Uit dieptes” dan trek hulle die note so lekker laaaank…koppie eintlik skuins van lekkerte ! Baie dankie hierdie was vir my ‘n fees.

    Like

  2. Dankie! Dankie dat jy gegaan het. Dankie dat jy kom vertel het.
    En, jou dierbare ding! Watter erfenis gaan jy nalaat? As ek so na jou stories luister, kan ek net DINK watter wonderlike, ryk, erfenis dit sal wees! Baie lag, baie vertel wat ouma Kameel als gedoen het!

    Like

  3. Hoe ouer mens word, hoe meer kry jy die behoefte om op jou spore terug te loop en jou erfenis, al is dit net die erfenis in jou geheue, te gaan opsoek. En ja, ek wonder ook, met alles wat so tegnologies en haastig en genieting-vir-die-oomblik is, waaroor gaan ons kinders en kleinkinders eendag nostalgies wees?

    Like

  4. Ai Kameel,hierdie laat my terug dink aan die dae toe ons in die sestigs en sewentigs as Stadsjapies by my ouma en oupa gaan kuier het in Noord Natal op n klein plekkie met die naam van Louwsburg,min of meer 40 km anderkant Vryheid.Dit is mis wereld daardie en baie oggende was die wereld toegemis.My oupa het met omtrent alles geboer nl,hoenders,varke, beeste en die koeie in nog met die hand gemelk, en die melkverdeler wat nog met die hand gewerk is.Dit sal vir my as Stadsjapie altyd nostalgies bly.Dit is lank terug maar voel ook soos gister.
    Groetnis.

    Like

    1. Wonderlike herinneringe Werner; geld kan dit nie koop nie. So van die melkverdeler gepraat, die fondasie van die dairy was ook daar en tot my grote verbasing die sementvoetstuk, solied en sonder enige verweer.

      Like

  5. Dit bring “closure.” Toe ons jonger was, was ons seker te besig met die lewe 😉 Hierdie herfs seisoen bring ander dinge na vore.
    Hoe was dit vir jou… die terugloop in die verlede?

    Like

    1. Ek word WOEDEND as ek dit sien – die man wat floreer, terwyl sy vrou krepeer, haar identiteit, haar persoonlikheid verloor. Net gister stap ek in die winkel verby ‘n vrou. Ek groet haar, sy glimlag amper nie eers nie. My man sê toe sy is net soos haar man. Toe sê ek nee, haar man is ongeskik, en sy is nie so nie. Ek het eerder ook ‘n patetiese gevoel gekry, so asof haar persoonlikheid ook van haar gesteel is.

      Like

  6. Toortsie die saak lê my na aan die hart. In ons familie het ek dit as klein dogtertjie sien gebeur, Die jare het ma en dogter weggevreet. Die man? pronk rond, skatryk en aantreklik.

    Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s