Nou? Of toe?

Ons is maar lief om nostalgies te raak oor hoe dinge in die ou tyd was, of toe ons kinders was. Xena het vir Klippie uitgedaag om te skryf oor dinge wat nou beter is, en ek kon nie help om ook lus te raak vir skryf nie. Ek hoop nie ek en Klippie skryf nou dieselfde dinge nie, of dat ek nou uit my beurt uit praat nie??

Eskom krag! Ek het groot geword met ‘n enjin. Eers ‘n 32 volt enjin, later ‘n 220v. As die enjin afgesit was, was die liggies flou. Roomys het nie goed gehou in ons paraffin yskaste nie, dit het so uitgesak. En Gaslampe. Ag, dit was romanties!  Dankie vir vrieskaste wat goed koud is om ons ware koud te hou! Dankie vir krag wat die meeste van die tyd werk. En vir al die wonderlike elektriese ware waarmee mens kan werk. Elektriese klitsers, elektriese blikoopmaker. ‘n Elektriese strykyster! Ek hoef nie meer ysters op die stoof warm te maak nie!

Skottelgoedwasmasjien! Omdat ons mos nou nie meer so baie huishulpe het soos in die verlede nie, maak ‘n skottelgoedwasser en ‘n outomatiese wasmasjien die lewe net soveel makliker.

Internet! Wat ‘n verskil in my lewe is dit nie! Voorheen moes ek dorp toe ry om geld vir iemand te gaan inbetaal. Of die ou moes wag tot ek weer op die dorp kom. Ek kan nou vir ‘n persoon ‘n faktuur epos of faks, en hy kan dit binne minute met die internet oorbetaal. Oor die wonder van facebook het ek al geskryf.

Klere het beslis gemakliker geraak.

Koerierdiens! Wat ‘n plesier is dit nie! Om nie nodig te hê om self iets in die Kaap te gaan haal nie, of die wêreld vol te bel om iemand te soek om iets saam te bring nie. ‘n Pakkie is net ‘n telefoonoproep ver en môre is die pakkie afgelewer!

Weggooidoeke. Is daar ‘n vergelyking tussen lapdoeke vir ‘n baba en weggooidoeke?

Eetplekke! In my kinderdae was daar ‘n kafee en ‘n restaurant. Jy kon ‘n “mixed grill” bestel wat bestaan het uit ‘n vetterige stuk wors, bacon, drillerige gebakte eier en dalk ‘n stukkie vleis? Wat ‘n voorreg om deesdae te kan kies waar jy wil eet, en WAT jy wil eet!

Blogs! Ag hoe lekker!!

Watter verbeteringe ervaar julle in julle lewe, as julle so terugdink na die ou dae?

Groetnis

Toortsie

Toortsie se Faceboekblad

 

18 thoughts on “Nou? Of toe?

    1. Maankind, ek sien daar GEEN nostalgie in nie. Al wat ek weet is dat dit STINK!! en dat my broer se graad een seuntjie se tekkie daarin afgeval het toe hy moes aantrek vir LO.
      Ek het gedink jy kan vertel van E-boeke – ek weet daar niks van af nie, maar sal nog leer!!

      Like

    2. Ons familie het ‘n huis op die Puntjie ( ‘n oord tussen Witsand en Stilbaai – naby Blombos ) wat steeds voorgeskrewe longdrops het. Behalwe vir die huisies en jou braaiplek is daar geen luukshede nie. Geen krag of lopende water OF spoeltoilette nie. Jy gaan bad sommer in die rivier en werk met gasstowe, -yskas, – ligte. Die Puntjie is egter ‘n stukkie hemel op aarde en ons pas ons reg tot ons huisie soos goud op.
      N.S. Ons het darem die longdrop bietjie gemoderniseer. Daar is ‘n regte toilet op die gat geplaas met ‘n gieterjie water wat ons gebruik na die tyd. Verder gooi ons ensieme in die gat wat voorkom dat daar onaangename reuke is. Dis nouwel nie lekker om in die middel van die nag uit te gaan buitentoe om die toilet te gebruik nie.

      Like

  1. As ek nou moet sê wat my lewe verander het sal dit beslis wees selfone en GPS. Ek is altyd op die lug en sal nooit weer verdwaal nie – hehe.
    My e-reader is ook ‘n gunsteling EN waar was die internet toe ek skooltake moes inhandig?
    Kyk net na al die deurbrake in die mediese bedryf. Selfs die landbou is soveel meer gespesialiseerd as 50 of selfs 20 jaar terug.
    Die slotsom is dus tegnologie!
    Maar is ons lewenskwaliteit rêgtig beter as ons ouers s’n van 50 jaar terug? Dit is ‘n vraag wat baie debateerbaar is.

    Like

    1. Sjoe! Jy noem ‘n klomp goed!! Ja, die boere boer beslis meer effektief as selfs 10 jaar gelede! 🙂
      Lewenskwaliteit? Dit moet elke ou maar vir homself besluit… of hy toelaat om aan te storm agter als wat nuut is en so lewenskwaliteit inboet, of HOE en WAT hy as lewenskwaliteit sien.
      Dankie vir jou lekker kommentaar!

      Like

  2. Die motorvoertuig tegnologie het ook geweldig verbeter.Neem die gewilde volkswagen beetle van die sestiger jare wat vir sy tyd seker nie sleg was nie,maar wat teen vandag se tegnologie eintlik maar met ‘n bokwa vergelyk kan word.Die cd musiek kwaliteit is ook baie beter as die ou plate wat n mens gekry het.Vir hulle tyd seker ook nie te sleg nie.Hoe trek my hart se punt nou na Stilbaai wat hier bo genoem word.
    Groetnis.

    Like

    1. My ma het ‘n beetle gehad. maar dit het nie so goed op die grondpad gewerk nie. Ag, ons het gereeld gaan staan. Een keer het die fanbelt gebreek en al wat ons gehad het om ons by die huis te kry, was my ma se sykous!! Sy moes dit daar en dan uittrek sodat dit vir ‘n part gebruik kon word!! 🙂

      Like

      1. Ek is miskien te jonk hier om te weet, maar ek is meer ‘n sosiale blogger as ‘n intellektuele blogger. Dis nie asof mens ‘n staande applous verwag nie maar as mense die moeite doen om kommentaar te lewer en aan te dui dat hulle van iets hou, beteken dit dat hulle mens waardig ag.

        Like

  3. Die internet, e-boeke (alhoewel ek nogal nostalgies terugdink aan die ou Encyclopedia Brittanica wat nou nie meer in boekvorm gaan verskyn nie), cd’s. Skottelgoedwasmasjiene! Wat ek wel mis van die ou dae is die feit dat families nader aan mekaar gebly het. Skype is nou wel daar, maar dit is darem baie lekkerder om jou kinders en kleinkinders in lewende lywe te sien.

    Like

  4. Dit kom maar seker weer terug by jou internet Toorts, maar eletroniese bankdienste het die lewe vir my soveel makliker gemaak. Om geld per internetbankdiens te betaal is net…wel…tjoef en dis daar. Ek het dit geháát om bank toe te gaan en rekenings te gaan betaal.

    Ek wens nou net ek kon brandstof in my motor gooi op ‘n makliker manier, want ek hou ook nie daarvan om na ‘n vulstasie te gaan nie.

    My pethates…..banke, poskantore, drankwinkels en vulstasies!

    Like

Lewer kommentaar op Sonlig Kanselleer antwoord