Kry ‘n mens iets soos ‘n ongeduldige persoon?

Kameel se opmerking, en ook Sonlig s’n het my ‘n bietjie laat dink. Kry ‘n mens iets soos ‘n ongeduldige persoon? As jy dit vir my vra, sal ek onmiddellik sê JA! Ek ken baie ongeduldige mense. Onmenslik ongeduldig.

As ek na my ma kyk – sy is haastig. Als moet gou gebeur. En as sy ‘n idee in haar kop het, duld sy nie teenkanting nie. Jy moet die opdrag vinnig uitvoer en perfek ook! Maar gee vir haar (in haar jongdae) ‘n bos blomme, sal sy met die grootste geduld daardie blomme rangskik tot iets moois. Of ‘n koek kon sy fantasties versier.

Ek weer, het nie die geduld om ‘n bos blomme mooi in te steek of ‘n koek mooi te versier nie. Koeksisters is uit. Enige iets wat ek vandag aan moet werk en môre ook nog. Tog het ek die geduld om ‘n trui te brei, of iets agter die naaimasjien aanmekaar te flans. Of vir maande en jare aan ‘n musiekstuk te oefen, of ‘n bybelkunde taak te doen…

Waar lê die antwoord? Het ons almal nie maar dinge waarmee ons meer geduldig is en ander waarmee ons minder geduld het nie? Ek het die wêreld se geduld met ‘n dom kind wat regtig nie weet nie en nie kan help dat sy ma te veel gedrink het toe sy hom verwag het en hom nie gestimuleer het in sy grootwordjare nie. Maar ek het GEEN geduld met ‘n slim kind wat hom slim hou nie! En ‘n onopgevoede kind met swak maniere wil ek sommer van die tafel afvee.

Het ons ‘n keuse? Is dit aanleerbaar waarmee ons geduld het? Ek is nie goed met siek mense nie, veral nie as hulle kla nie. Die ander persoon kan weer dae en dae klagtes hanteer…  Ek glo tog ons kan geduld in ‘n mate aanleer. Maar ek glo die meeste van als dat dit ‘n gawe van God is. Ek het nie gekies om ‘n liefde vir sukkelende kinders te hê nie, ek dink God het my so gemaak! Netso kies die een wat ekstra mooi met ou mense kan werk, dit ook nie! Of doen hulle? Is dit ‘n gawe wat ‘n mens ontwikkel oor jare? Of was dit dalk altyd daar, jy het dit net dalk op ‘n later stadium in jou lewe ontdek?

Toortsie

18 thoughts on “Kry ‘n mens iets soos ‘n ongeduldige persoon?

  1. Ek en my vriendin het Dondnerdag die nege vrugte van die Gees, uitmekaar getrek. Wat is dit en in hoe ‘n mate is dit teenwoordig in ons lewens. Geduld is natuurlik een van hulle…. en oor die algemeen is ek geduldig. Daar is egter dinge wat my laat kook soos hardhorende kinders, en ryk mense wat glo die wêreld behoort aan hulle, en daarom moet hulle voorkeur geniet. Ek dink tog party mense is van nature meer geduldig as ander, en sal swaarder kry om dit onder beheer van die Gees te bring.

    Like

  2. Ek dink jy’s reg Toorts. Ek dink nie enigeiemand is sommer net bloot met alles ongeduldig nie. Almal het met sommige dinge geduld en ander dinge g’n niks.

    Ek sal byvoorbeeld weer eerder die koek versier as om ‘n trui te brei. Inteendeel, ek het al twaalf jaar lank aan dieselfde ding gebrei en toe dit klaar is, was dit vir my nie eers mooi nie! Ek het nie geduld met ‘n legkaart nie, maar sal ure lank aan ‘n prent inkleur. Ek het nog nooit met kinders gewerk nie, maar het nogal onlangs gedink ek sal daarvan hou om kinders te help wat leesprobleme het – bloot omdat ek self ‘n boekwurm is. Ek weet nie hoe ek sal vaar nie – dis dalk nou net weer die “midlife-crisis-I-wanna-save-the-world”-ding.

    “Slim” kinders en “slimmer” grootmense irriteer my ook. Ook kinders wat saam met die grootmense probeer praat. Daar is ‘n tyd en ‘n plek vir alles en almal – ek jaag baie maklik my eie kinders om hulleself te gaan besig hou as ek en ‘n vriendin wil gesels.

    P.S. Ek het darem ‘n babakombersie gemaak waarop ek BAIE trots is! Dit het net 5 jaar geneem. 😳

    Like

    1. WOW!! VIR DIE BABAKOMBERS!! Yes!! 🙂 Aan die einde sê almal dis mooi, en niemand vra hoe lank dit geneem het nie. Probeer daai lees-ding. Dalk hou jy daarvan, want in die proses bou jy sommer ‘n verhouding ook met die kind, en kinders het dit tog deesdae so nodig. En was dit nie werk nie…. so what??
      Ek kon nooit mooi inkleur nie, altyd oor die lyne. Ek het altyd vir my kinders ook gelag, hul was ook nie lief daarvoor nie. Meisiekind sou gou sê die rok is “wit”, die kleur van die bladsy! 🙂

      Like

  3. Ook maar geduld met partygoed en ongeduldig met ander. Het nou bietjie gedink en dink dat die goed waarvoor ek glo Vader het vir my ‘n passie gegee dis asof ek daarmee “meer” geduldig is 🙂

    Like

      1. Jajaja! Julle ‘ouhande’ moenounie vir my lag nie, maar dit het my meer as 5ure!! gevat om bokbaaivygie te word. In die proses is ek deur 3 gmail adresse, verskeie usernames en displaynames dan wil hy nog steeds nie vir my bokbaaivygie laat word nie. Ek is soos een met ‘n split personality en weet nie meer wie ek is nie. Intussen ontdek ek toe my blog wat iemand met ‘n liggie (raai wie) vir my geskep het!
        Maar nou weet ek weer nie, want gisteraand was ek bokbaaivygie met bokbaaivygie@gmail.com as email adres – dis nou wie ek wil wees op die blogwêreld en nou sê die link hieronder weer ek is annetjie kompaan uit my vorige lewe! Red my van tegnologie! Iemand help?

        Like

        1. Ag, hoe bekend voel dit nie!! Dis maar hoe ons ALMAL begin!! Join the club!
          Goed, as jy jou “reply” getik het, kyk onderaan die blokkie staan Toortsie of Bokbaaivygie of Annetjie. Tussen hakies staan “log out/Change”
          Kliek op Change.
          Dan tik jy by die eposadres die adres in wat jy wil wees. Middelste blokkie Bokbaaivygie. Laaste blokkie: https://toortsie.wordpress.com, want dis mos jou blogadres!
          As jy by enige iemand anders reageer, net dieselfde. maar dit sal so bly tot jy dit weer verander.
          Groete!

          Like

          1. O vaderland, ek kry skoon hoendervleis as ek hierbo lees. As dit nie vir ‘n liggie was wat die pad aangewys het nie, het ek nou nog in die duister gesit en swoeg…. en sweet.

            Like

          2. Jy is te slim vir woorde!! Baie dankie! Ek gaan my identiteit weer terugvind! Ek is ‘n verdwaalde in ‘n woud, maar ‘n liggie lok my voorwaarts …..
            Right, ek tik my reply; maar Toorts hiers geniks van hakies met “log out/change” by my nie. Net hardkoppige annetjie kompaan met ‘n email adres wat nie bestaan nie!
            Het wel by gravatar of so iets uitgekom. Moet ek iets daar doen?

            Like

  4. Ek is met sekere dinge geduldig, en met sekere dinge nie! Ek het ook vroeer in die week daaroor geskryf. http://slakkelak.wordpress.com/2012/03/12/geduld-is-n-relatiewe-begrip/

    Oor die algemeen het ek nie geduld met mense nie, en ek het dit al aangeleer, want ek staan nou in ‘n beroep waar dit van uiterste belang is. Ek het net GEEN geduld met ‘n kind wat lui is, nie oplet nie, nie huiswerk doen nie, en dan kerm wanneer dit by eksamentyd kom oor punte nie. GEEN geduld daarmee nie. Maar met ‘n kind wat PROBEER, veral die wat minder slim is, vir hulle het ek baie geduld.

    Like

    1. Jou laaste paragraaf – ek ook nie! Daardie kinders wat dink die wêreld skuld hulle iets – geen geduld met hulle nie! Maar hulle wat probeer en wil iets bereik, al is die iets wat hulle dalk bereik nie naastenby waar die ander een is nie, vir hom/haar sal ek baie moeite doen.

      Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s