Goud werd (vervolg)

Die swart gat het my ingesluk, ek het die stryd teen migraines, angsaanvalle en alles wat PMS simptome nog oor jou pad kan bring, verloor; diep in die maag van die depressie-monster het ek tot die dood toe moeg gelê.

Dae en maande het by my verby gegaan, en toe sit ek weer eendag voor ons huisdokter.  Daar is magteloosheid in sy oë wat in my leweloses kyk.  Die volgende oomblik skiet sy oë vol trane, hy slaan met ‘n vuis op sy lessenaar en bulder die woorde uit: “My God, die vrou het hulp nodig!!”  So dood is alles binne my dat ek emosieloos die noodkreet gadeslaan.

‘n Jaar na die dag daar voor die stoof kom sê my man ‘n vriendin van ons het vir my ‘n afspraak by ‘n dokter – drie ure se ry van ons af – gemaak.  Willoos laat ek my lei, en so sit ek weereens in ‘n dokter se spreekkamer.  Die diplomas teen die mure is iets om te aanskou.  ‘n Vraelys word in my hande gedruk, en die suster vra dat ek dit asseblief so noukeurig as moontlik sal invul.  1. Kry jy migraines? “Ja.” 2. Lei jy aan slapeloosheid? “Ja”. 3. Ruk jou bene onwillekeurig? “Ja,”  Slinger jy as jy loop? “Ja,”…. aan en aan gaan die vrae, en op so te sê elkeen is die antwoord “Ja.”  Dit is verstommend dat die dokter my so goed beskryf, dink ek.

My naam word gelees, en ek volg die suster na die dokter se kamer toe.  Agter die lessenaar sit ‘n imponerende gryskop man.  Soos ek verstaan het is hy al diep in sy sewentigs, en moes al afgetree het, maar die passie vir sy werk en navorsing oor die “vrou,” dryf hom nog al die jare voort.  Vir ‘n lang ruk kyk hy na my waar ek voor hom sit.  “Antwoord vir my die een vraag,” sê hy, “hoe sit jy nog hier voor my, en het jy nie lankal jou eie lewe geneem nie?”  Ek vertel hom nie van die dag toe ek by die dood omgedraai het nie.  Dan verduidelik hy aan my die vraelys wat ek moes invul, en hoe dit werk.  “Ek verkies dat daar geen “Ja,” by hierdie vrae sal wees nie, maar tot op twaalf “Ja’ s,” glo ek ‘n vrou kan nog redelik funksioneer…. Maar enige telling hoër as dit en die vrou is in groot moeilikheid.”  “Hulle het al vroue hier ingedra wat probeer selfmoord pleeg het, wat se telling vyf en veertig is, en ek verstaan dit heeltemal,” toe blits sy oë, “jou telling is agt en sestig, en ek vra jou waar was jou dokters terwyl jy in so ‘n toestand moes aansukkel?”  Hy skud sy kop en vra, “Hoe het jy so geleef?”  “Ek leef lankal nie meer nie,” sê ek in my toonlose stem.

Terwyl hy vir my vyf estrogeen, en een testosteroon ryskorreltjies inplant, vertel hy my van sy stryd met Suid Afrikaanse dokters wat nie aan hormoon aanvullings wil byt nie.  “Ek gaan gee wêreldwyd lesings oor die vrou en haar behoeftes, maar in my eie land druk hulle, hul ore toe.”  Hy berei my daarop voor dat ek groot teenstand van die dokters gaan kry oor die hoeveelheid inplantings wat hy my gee, en wat ek van nou af elke vyf maande moet kry.  “Oor twee weke gaan jy beter begin voel,” sê hy, “en stadig maar seker gaan jy jou lewe terugvat.”  Daar is ‘n vonkel in sy oog toe hy sê, “en ek gaan vir jou ‘n geheime room voorskryf wat jy op jou gesig gaan smeer ipv die vogrome wat hulle in winkels verkoop.  Ek soek nie dat my vroue soos suurpruime lyk nie.”  Net toe kom sy ontvangsdame ingestap.  Hy neem haar aan die arm en sê trots, “Kyk na haar, vyf en sestig jaar oud en hoe pragtig lyk sy nog…. Ja sy was al die jare my proefkonkyn, en vandag pluk sy die vrugte daarvan.”  Hy gooi sy kop agteroor en lag hartlik, “by nou het jy seker al geraai ek het dit op myself ook beproef.”  Ek kyk na die regop, “vibrant,” man, met sy gladde vel, en bos silwergrys hare, en op daardie oomblik lyk hy vir my meer soos ‘n engel as ‘n mens.

Soos hy gesê het, teenstand het ek deur al die jare gekry; een inplanting, miskien twee was aanvaarbaar, maar SES!!!  Stelselmatig is dit na vyf toe verminder maar daar het dit gebly; dit is die hoeveelheid wat my liggaam nodig gehad het om te kan funksioneer.  En toe verlede jaar hoor ons die nuus, die inplantings word van die mark afgehaal, en so ook my buisie “goud.”  Ek bel apteke, hier kry ek een ryskorrel, daar nog een; ons ry New Castle toe vir twee wat ‘n apteek daar vir my sal hou.  My man en ek kyk grootoog vir mekaar, “Jy kan onmoontlik sonder daardie inplantings gaan,” sê hy half desperaat.  Ek kyk hom in die oë en sê beslis, “ek het eenkeer daardie pad gestap, nooit weer nie!” en hy weet wat ek bedoel.

En nou is daar nog ‘n laaste bietjie “goue room,” in die buisie.  So nou en dan haal ek dit uit en smeer ‘n bietjie aan my gesig.

Ek salueer u Dokter, U wat soveel vir die vrou omgegee het.

7 thoughts on “Goud werd (vervolg)

  1. Kameel, ons moet dringend gesels! Eerstens: Daar is hoop na die roompie en die inplantings. Ek net so upset oor die inplantings van die mark is. My pasiente moet nou ook skarrel vir ander raad. MAAR: daar IS ander moontlikhede ook…. Sal jou inboks binne dag of so.

    Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s