Goud werd

In die badkamerkas is daar ‘n buisie met ‘n klein bietjie goud in…. nie die metaal nie, maar room wat vir my goud werd is.  Dit sal my nie verbaas as ek ‘n paar trane pik die dag wanneer ek die leë buisie in die asblik laat afsak nie.  Saam met dit neem ek dan finaal afskeid van ‘n dokter wat vir my ‘n reddingstou uitgegooi het, toe die lewe ‘n pikswart see was waarin ek besig was om te verdrink.

Vandag is PMS (premenstrual stress) ‘n algemene term, maar daar was ‘n tyd wat daar nie daaroor gepraat is nie.  Dus het ek nooit verstaan hoekom ek een dag nog “cope,” en die volgende dag val my hele lewe uitmekaar nie.  Dit was nie net “mood swings,” wat ek gekry het nie; nee ek het letterlik uitmekaar geval.  Die “mood swings” was daar, die trane was daar, die migraine was daar, maar daarmee saam was ek verward en rigtingloos. My brein was soos watte, my koördinasie nul; my tong het gesleep en goed het soos slap pap uit my hande geval, ek het paniekaanvalle gekry…. Met een woord ek was ‘n “wrak.”

Op een so ‘n dag draai ek met al ses kinders in die motor voor ‘n aankomende trok in.  Hoe daardie voortsnellende trok by ons verby is weet ek nie, maar daardie dag het ek besef ek speel met vuur om in daardie tyd van die maand agter ‘n motor se stuurwiel in te klim.  Kort daarna lees ek in ons plaaslike koerantjie van ‘n dame wat dames kom toespreek het oor PMS, en dan volg ‘n volledige relaas oor haar toespraak.  Daardie oggend kry my “toestand” ‘n naam, en ek verstaan dat ek een van daardie “dames,” is wat PMS op sy beste kry; die wat onder geen omstandighede in die toestand, mag bestuur, besluite neem, of met skerp messe werk nie; nie net om jouself te beskerm nie, maar ook jou gesinslede wat dit per ongeluk te naby aan jou sou waag.  Die laaste is sommer maar my toevoeging… omdat ek myself ken.

Soos die dame aangeraai het vergader ons as gesin, en ek verduidelik aan hulle hoekom ek as vrou en ma vir drie dae in die maand in ‘n monster verander wat vuur spoeg; my onvermoë om in daardie tyd normaal te funksioneer, en die hulp wat ek nodig het om so rustig as moontlik daardeur te gaan.  Daar is natuurlik die kant wat ek ook moet bring, en as ons almal saam werk kan ons die maandelikse besoeker beter hanteer. Verstaan is ‘n wonderlike ding en almal stem saam dat aangesien ek in daardie tyd ‘n migraine ook het, dit beter sou wees as ek my so veel moontlik onttrek, en die huishouding aan hulle oorlaat.  Maar net om die draai het ‘n histerektomie gewag, en so drie jaar na die historektomie ‘n swart monster wat vir vyf jaar sy septer oor ons huishouding sou swaai; maar op daardie dag van “kennis,” was ons geluksalig onbewus van dit wat sou kom.

‘n Histerektomie en drie jaar later en ek begin agterkom dat die PMS simptome nog net so sterk is, indien nie sterker nie; en dat dit nie net meer drie dae bly nie maar stelselmatig al langer, en langer, en langer totdat dit later ‘n deel word van my lewe.  Die dokter “hoor,” nie as ek vir hom sê die “culprit,” is ‘n hormoon te kort nie.  Die spesialis lag my uit, my bloedtoets bewys dat ek genoeg hormone het, en hulle soek vir ‘n ander rede vir die ellende waarin ek my bevind.

Ek sleep myself dag na dag voort,  lê in ‘n hopie op die bed en huil myself dolleeg, in een veeg van die hand gooi ek die fotos van my kinders wat in rame op die ou Singer masjien staan, op die vloer, en wanneer die glasstukke om my voete lê, vlug ek na die kombi toe en ry soos ‘n besetene deur die strate… en roep na God om genade.  Ek hou aan mure vas om myself regop te hou, kry ‘n paniekaanval in ons supermark omdat ek nie die rigting uit kan kry nie.  Stadig maar seker suig ‘n diep swart gat my al dieper in, en ek is magteloos om dit te keer, en nog minder die anti-depressante waarop die dokter my gesit het.

Dit was een middag voor die stoof dat ek besef ek kannie meer nie.  Met my hande op die oondhandvatsel, probeer ek myself regop hou… sak dan stadig af en gaan lê met my kop op my arms.  “My God…. ek is so moeg!”   Ek sukkel bed toe, en toe gaan lê ek, ek voel hoe die donkerte waarteen ek nou al vir vier jaar baklei my toevou en insluk.

18 thoughts on “Goud werd

  1. Ai Kameel!! Wat ‘n storie… Hoe het jy toe daar uitgekom? Wat is die buisie goud? Klink vir my alte veel of jy WEL erge hormoontekort gehad het.
    Ons dokters behandel so maklik net ‘bloeduitslae’, ipv om te sien dat ‘n individu voor jou sit! En jou normaal en die lab se normaal en my normale hormoontellings is almal verskillend! (LW dis NET as dit by hormone kom. Andersinds is bloeduitslae van groot waarde!)
    In die ou dae het ouma ‘n swart rok aangetrek en op die plaasstoep gaan sit en wag om doodtegaan. Vandag, as ouma/ma die regte soort en dosis hormoon kry, trek sy weer haar bontrok aan en begin weer lag. Ek hoop jyt jou lag weer gevind.

    Like

    1. Jy verstaan baie goed annetjie van die individue wat verskil van haar suster eva. Sal vertel van my buisie goud. My man het tussen my skrywe heen eensklaps in die hospitaal beland, en ek moes alles kortknip.

      Like

  2. Toortsie, êrens langs die pad het ek jou kommentaar verloor. Kom nounet van hospitaal af en voel bietjie omvêr gegooi. Hormone of nie hormone nie, ek wil nou gaan lê en “tjank,” om ontslae te raak van die dag se spanning. Bly ek is nie al een wat kort-kort by die punt van moord gekom het nie 🙂

    Like

    1. Kameel, ek hoop nie jou man se storie is ernstig nie. Ek ken ook van daai dae wat als net te veel en te lank en te erg is. Wens jou ‘n goeie nagrus toe.:)

      Like

    1. Dankie MaanKind.
      Pst! Dit was na jou Nivea gesigsroomstorie wat my buisie goud weer so sterk na vore gekom het, en die storie sy skrywe aan te danke het..

      Like

      1. Sal weer my kommentaar lewer. Dat hier nie soms n moord gepleeg is 3 dae voor n sekere besoeker nie, is net n wonder. Ek verstaan waarvan jy praat. Ai, ek is jammer oor jou man. Ek hoop hy voel gou beter. En dat jy sterk sal wees. Mag ek vra wat jul buisies goud se name is? Of is dit n geheim?

        Like

        1. Ai nee Toortsie, dit is nie ‘n geheim nie. Dit is (en nou moet ek sê was) een buisie vaginale hormoonroom “Synopause,” gemeng met een buisie “ultrabase.”

          Like

    1. Sonlig as jy NIE weet nie, wees dankbaar en bly onkundig daaroor. Afhangende van hoe hoog jy op die richterskaal staan, sal jy wel weet wanneer dit jou tref.

      Like

      1. Kameel, ek is onsettend dankbaar – het nooit daarmee gesukkel nie. Ek weet dit vernietig vriendskappe, huwelike en “personal sanity”.

        Ek is nou omtrent in die middel van die richterskaal en ek hoop ek gaan die groot M ook deurvlieg sonder simptome. Soos ‘n dame na wie ek vreeslik opgekyk het as jong ma altyd gesê het……me no pause….me just carry on….

        Like

        1. Jy is een van die gelukkiges… soos my ma en twee susters; hulle kon nie verstaan waarmee ek worstel nie, amper soos “ruk jouself reg man.” Mag die groot M vir jou goed verloop!!!

          Like

    1. Dat daar nie meer moorde gepleeg word in daardie tyd nie, is sowaar ‘n wonder 😉 Wees maar net baie, baie, baie dankbaar Son dat jy dit vrygespring het…. bedoelende natuurlik PMS

      Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s