Die werksaansoek

Ons almal weet dat werksgeleenthede skaars is en hoeveel keer ‘n persoon moet aansoek doen vir werk voor hy/sy dit wel kry. Soms is ekself in die posisie waar ek aansoeke moet hanteer. Dan val dit vir my op in hoe ‘n swak toestand soveel van die aansoeke is.

Aansoeker, besef jy dat jy nie die enigste een is wat aansoek doen nie? Daar kom 80 aansoeke! Soms 200!! Daarom is dit uiters belangrik dat jou aansoek keurig versorg is.

Voorop jou CV moet ‘n dekblad wees. Die aansoekbrief, wat aan die firma wie geadverteer het, gerig is. Daarin skryf jy dat jy aansoek doen vir die werk, ‘n paar woorde oor jouself en dat jy beloof om, sou jy aanvaar word vir die pos, jou bes sal lewer. Daar mag nie spelfoute in wees nie! Skryf asseblief hierdie dekbladbrief in die taal waarin die advertensie is, Afrikaans vir ‘n Afrikaanse advertensie, Engels vir ‘n Engelse advertensie.

Die CV. Spelfoute en swak taalgebruik is ONAANVAARBAAR!! ‘n Swak getikte CV maak ‘n swak indruk. Met al die goeie rekenaarprogramme wat deesdae op almal se rekenaars is, is daar geen verskoning vir ‘n swak CV nie! As jyself nie ‘n rekenaar het nie, betaal iemand om dit vir jou te doen! Vra in elk geval iemand betroubaars om jou CV deur te lees en foute reg te maak.

‘n CV moet bondig wees, nie langdradig en onnodig uitgerek nie. Al die nodige inligting MOET daar wees. Korrekte kontakbesonderhede.  Jou matriekuitslae. Enige ander kursus wat jy dalk gedoen het.  Leiersposisies wat jy beklee het. Neem jy aan sport deel? Musiekkwalifikasies? Selfs al is dit nie vir hierdie betrekking van belang nie, moet jy dit invoeg. Dit gee die persoon wat die CV lees, ‘n beter idee van jou.

‘n Lys van werksondervinding, en rede vir diensverlaat. Asseblief! MOENIE jou vorige werkgewer slegmaak nie! Moet NOOIT sleg praat van jou vorige werkgewer nie.

Verwysings! Voeg ‘n lys van betroubare verwysings in, iemand wat die moontlike nuwe werkgewer kan bel wat hy kan vertrou. Soos iemand by die kommentare genoem het, nie ‘n familielid nie. Sit sy naam en telefoonnommer by.

Persoonlik voel ek dat ‘n CV moet wees in die taal waarin die advertensie was. Afrikaans, as dit in ‘n afrikaanse koerant was, Engels as dit in ‘n engelse koerant was.

Sorg dat die adres buite op die koevert netjies geskryf en foutloos is.

Waar moet jy die CV afgee? Dit raak al hoe meer algemeen dat mense hulle CV’s by arbeidsmakelaars afgee. Jy kan dit seker ook maar doen, maar tog dink ek jy moet self soek vir advertensies, of vriende vra om te help soek. Doen SELF aansoek. Dit maak regtig ‘n beter indruk. Stuur self ‘n CV in. Indien dit enigsins moontlik is, skakel die adverteerder en vra hom of dit hom sal pas as jy die CV vir hom in persoon kan kom aflewer. Onthou, die kans dat jy een van die 5 is wat genooi word vir ‘n onderhoud kan dalk skraal wees, en as jy dit dan self afgelewer het, kry jy basies ‘n onderhoud waarvoor jy nie genooi is nie!

Stuur jou CV betyds in. En dan, sorg dat jy jou selfoon altyd by jou het. Moenie daardie belangrike oproep waarin jy genooi kon word vir ‘n onderhoud, mis nie!

Moet nooit vergeet dat die CV vir jou moet praat nie. Jy is nie self daar nie. Daarom is hy so belangrik!

Sterkte!

Toortsie

Toortsie se faceboekblad

Toortsie se Bantingboerekosboek faceboekblad.

Toortsie by Finesse: ‘n Spinnekop het my gebyt!

14 thoughts on “Die werksaansoek

  1. Mense kan maar net nie die belang hiervan besef nie. Ek gooi die CV met die spelfoute op sommer maklik in die asblik, want ek gaan beslis nie iemand wat nie behoorlik kan spel in ‘n administratiewe pos aanstel nie.

    Ek wil ook iets sê oor verwysings. MOENIE familielede opgee nie. Ek WIL nie hoor hoe oulik dink jou antie jy is nie!

    Like

    1. Ai tog! Ek het skoon vergeet van verwysings! Hulle moet tog betroubaar wees, asb. Iemand wie jy ook kan vertrou, en die werkgewer wat hulle gaan bel. En onthou om afskrifte van getuigskrifte (nuwes!) en van jou akademiese kwalifikasies, ens by te sit. Nie van ELKE kursus wat jy bygewoon het nie, net die heel belangrikstes!
      Dankie Sonlig!

      Like

  2. Ek het onlangs ‘n CV ontvang in ‘n koevert wat ‘n vetkol op gehad het. Ek was behoorlik te vies om daaraan te vat. Ek gee julle 1 raai of daardie persoon se aansoek suksesvol was of nie.

    Like

  3. Ons het gewoonlik 3 hopies as daar geadverteer word: 1) ja; 2) dalk en 3) nee.
    Die beste hopie om op te beland is natuurlik die “ja” hopie. Na Nee word glad nie weer gekyk nie, en net DALKIES word daar weer na die dalk hopie gekyk.

    Like

  4. Wil myself net kom voorstel. Ek het op aanbeveling en hulp van ‘n vriendin besluit om ons webwerf voortaan self te bestuur. Wat die bloggedeelte betref: Ek is nie ‘n skrywer van format, maar ek wil graag my ondervindinge van die wildplaas met almal deel. Dit is ‘n nuwe uitdaging vir my. Help gerus as jy sien ek trap klei. Ek sal soos die tyd dit toelaat by almal probeer uitkom.

    Like

  5. Weet jy, my Tumi is ‘n regte drama queen. Haar cv praat regtig vir ditself. Sy was die eerste keer toe sy haar cv, in haar finale jaar, uitgestuur het, genooi vir ‘n onderhoud. Sy het ook die werk gekry. Haar cv was sover nog nie ‘n tweede keer uitgestuur nie

    Like

Gesels saam, asseblief!