Die lig in sy oë

Vandag twaalf jaar gelede is my pa dood.  Ek plaas die ou bloginskrywing as herinnering aan daardie dag.

My hande is besig om vir my pa ‘n koppie koffie te maak – vuurwarm soos hy daarvan hou; “Ek het ‘n blikkeel,” het hy altyd gelag as ons kommentaar lewer oor die stomende koffie wat hy so wegsluk.  Dit sal die laaste koppie koffie wees wat ek die voorreg sal hê om vir hom maak – dit het ek geweet.  My hande werk maar my oë rus op hom waar hy in die leunstoel sit – my pragtige pa.  Hy was altyd ‘n mooi man, maar sy menswees het hom soveel aantrekliker gemaak.

Ek gee sy koppie koffie vir hom, en hou hom dop terwyl hy dit drink.  Niemand sal sê hy is sewe en tagtig jaar oud nie, en nee hy is nie siek nie maar daar is vandag ‘n blink op sy vel wat hom ‘n engelagtige voorkoms gee.  Ek kyk na my suster; oppad terug van Polokwane  af het sy hom hierlangs gebring  vir ‘n vinnige “hello,” sê.  Ek wonder of sy weet dat my pa nie meer lank saam met ons gaan wees nie. By die kar druk ek hom teen my vas, en my “totsiens, ek is lief vir pappie.” sê veel meer as die blote woorde.  Dit is hoe ek afskeid neem van die persoon wat aan die einde van hulle lewensreis gekom het.  Deur die motorvenster glimlag ek vir hom, en my oë kyk totdat ek die motor nie meer kan sien nie.

Die oproep kom drie dae later.  “Pappie lê op sterwe,” sê my suster.”  “Ek het klaar vir hom totsiens gesê,” antwoord ek, “ek kom nie deur nie.”  Daar is ‘n diep hartseer in my maar ook ‘n diep vrede.  Die ure tik verby.  Halftien die aand bel die stil kind in trane.  “Mamma, oupa is amper op sy laaste, mamma moet kom.”  Ek probeer verduidelik dat dit nie nodig is nie, maar sy hou aan;  “Dit is nie vir oupa wat mamma moet kom nie, maar vir ons.”  “Ek kom,”  sê ek.

‘n Uur later stap ek en my skoonseun die gedempte hospitaalkamer binne.  Vir ‘n oomblik druk ek my suster teen my vas, en daarna elkeen van die kleinkinders wat met rooigehuilde oë in ‘n kring om die bed staan.  Dan draai ek na die rustige prentjie op die hospitaalbed.  In ‘n diep-diep slaap lê my pa teen die wit kussings.  Toe ek hom soen is sy vel yskoud onder my mond.  Ek lê my hand op die koue voorkop en dink; “dit is waarom ek nie my afskeid langs ‘n sterfbed wil neem nie.”  “Hy het niemand herken nie,” sê my suster, “net op ‘n stadium bo in die hoek van die kamer na iets gewys en dinge gepraat wat ons nie kon verstaan nie”. 

Ek gaan sit langs haar op ‘n stoel, en wag vir die dood wat onafwendbaar oppad is.  Nou en dan fluister iemand iets, of jy hoor ‘n snik in die stil vertrek.  ‘n Uur gaan verby; ons oë bly vasgenael op die figuur op die bed.  En dan gaan die oë wat nou al vir ure gesluit is oop.  Beide ek en my suster snak na asem; sy oë is soos diep-diep poele lig, en vanuit hierdie lig straal daar ‘n oorweldigende skoonheid.  Meteens verstaan ek wat die pastoorskind daardie dag langs my hospitaalbed vir my gesê het.  Niks wat my oë nog ooit op hierdie aarde aanskou het, weeg op teen die skoonheid wat uit my pa se oë straal nie.  “Pappie is beautiful, BEAUTIFUL!!” sê ek met verwondering in my stem.  Die skoonheid in sy oë trek my soos ‘n magneet na hom toe; ek gaan sit op die bed en kyk die ewigheid wat sy aardse liggaam nie meer kan binnehou nie, in.  “Beautiful, beautiful… my pragtige pa,” prewel ek, en soen die koue gesig, oor en oor.  Dan gaan lê op die yskoue bors, en laat die trane vrylik vloei.  Wanneer ek orent kom, lees ek die “totsiens,” in sy oë.  Daar is nie woorde in sy mond nie, maar so rus sy oë vir ‘n tydlank op dan my suster en daarna op elkeen van sy kleinkinders…. en elkeen lees dieselfde bootskap “totsiens…. tot later.”

“Death, where is your victory? O Death, where is your sting?”

Advertisements
This entry was posted in Die lewe. Bookmark the permalink.

16 Responses to Die lig in sy oë

  1. MaanKind sê:

    Mens hoor oor en oor en OOR hoe sterwende mense na iets wys en met hulle ‘praat’. Waarom wil mense nie glo daar is iets meer as net die laaste asem nie?

    Like

  2. Toortsie sê:

    Verlang ek nou na my pa

    Like

  3. Slakkelak sê:

    So hartseer om te verlang na ‘n fisiese persoon, maar so kan ons met reg ook opgewonde wees vir die weersiens. Dankie vir die deel van ‘n intieme oomblik in jou lewe.

    Like

  4. Kameel sê:

    Ja Slakkelak, daardie weersiens…. om weer in sy oë te kan kyk!!!

    Like

  5. Francois sê:

    ek moes drie keer terug kom voordat ek daarin geslaag het om nie so erg te huil dat ek moes ophou nie. Jy het iets binne my raak geskryf. ‘Dankie hiervoor’ klink nou so leeg teen wat ek eintlik bedoel.

    Like

  6. Charms sê:

    Ai nou maak jy my sommer huil met hierdie inskrywing. Ek het my Pa die dag voor hy dood is gegroet by sy huis en geweet ek gaan hom nie weer sien nie.

    Like

    • Kameel sê:

      Albei my susters wat die week in Polokwane saam met hom deurgebring het, sê hulle het geen idee of aanvoeling gehad dat hy op sy einde is nie. Ek het net geweet, en is bly ek het. Ek weet nie hoekom nie Charms, maar ek weet wanneer ek mense vir die laaste keer sien. Wou jou nie hartseer maak nie, maar dit is goed om te kan groet nê.

      Like

  7. Francois sê:

    En ek kom lees NOG ‘n keer. Die stuk is pragtig, regtig besonders.

    Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s