Die beste voetjie voorsit.

Ek het vir SONLIG die stokkie “Die beste voetjie voorsit,” aangegee, en dit is soos sy met hom gehardloop het….

Ek is seker ons het almal al ons beste voetjie voorgesit…..vir die juffrou, die skoolhoof, die kuiergaste, die dominee, skoonma en defnitief vir die baas. Dit behels nie net jou beste eetstel, uithaler melktert, mooiste handskrif of nuwe linne nie, maar kan ook beduie ook na iets in jou gedrag in daardie spesifieke situasie.

Tog is daar ‘n effense paradoks in hierdie idioom. Daar is ‘n ongetwyfeld ‘n insinuasie dat daar ‘n ander “voetjie” is wat dalk so bietjie minder gepas is of minder grênt is, wat vir ‘n oomblik net so bietjie moet agtertoe staan totdat dinge weer “normaal” is.

Wie kry watter voetjie??

Ons kan onsself probeer verontskuldig, maar dis die klein dingetjies wat deur mense onthou word:
• Daardie pragtige wit eetstel in die eetkamerkas… moet ons dit dalk meer dikwels vir ons gesin uitgehaal en nie net vir kuiermense nie?

• Moet jy en jou man nie ook ‘n slag die kristalwynglase gebruik voor iemand anders hulle vir jou breek nie?

• Ons gee so graag vir ‘n vriendin blomme vir haar huis, maar koop jy ooit sommer net ‘n bos vir jou gesin (en jouself) om te geniet?

• Hoe hanteer jy jou kinders se probleempies na ‘n uitputtende dag van uiters professionele probleem-oplossing op kantoor?

• Koekiebaktyd is groot pret en dis nou al tradisie in my kombuis dat die kinders die gebrande- en gebreekte koekies kry. Moet ek nie juis vir hulle die mooistes gee nie?

• Maak jy jou nog mooi vir jou man? Trek jy nog vinnig ‘n kam deur jou hare of sit ‘n bietjie lipstif aan wanneer jy die hek hoor oopgaan?

• Hoeveel moeite doen jy met jou gesin se aandete?

• Hoe sjarmant tree jy op teenoor jou man wanneer julle alleen is?

Ek wil vandag vir jou vra: vir wie sit jý jou beste voetjie voor? Is dit vir onbelangrike mense wat jy wil beïndruk of is dit vir die mense waarsonder jy nie kan leef nie?

Ek weet nie meer wie is reeds getag en wie nie, so ek gooi sommer ‘n klip in die bos….as jy lus het, vat die stokkie en laat jou vingers oor die sleutels draf oor:

Hoe later, hoe kwater…

13 thoughts on “Die beste voetjie voorsit.

  1. Baie nice! Ek het eenmaal so Seepkis rubriek vir die Kaap Rapport geskryf, oor Bêreborde. DIt spreek sommer vanself. En die gewoonte om vir jouself mince te koop, en vir gaste steak…

    Like

    1. Daai is baie waar. Ek het eenkeer so by myself gedink dat ek altyd ‘n heerlike slaai én poeding maak as ons gaste vir ‘n braai kry. As dit sommer net ons is wat alleen braai, is dit sommer pap en sous…..uit die potte op die stoof geskep! 😳

      Like

  2. Dankie Sonlig! en dankie Kameel dat jy dit kom opsit het.
    Sonlig, net eergisteraand het ek en my man gelees oor hoe jy jou huweliksmaat groet. Met ‘n glimlag? Met ‘n bietjie parfuum of naskeermiddel (mans) aan? Raak jy aan hom of gaan dit sommer net verby? Jy het fantastiese punte aangeraak. dankie

    Like

    1. Toorts, my man het baie onlangs vir my ‘n stukkie ge-epos oor “Leef soos ‘n hond”. ‘n Paar van die goed het my geweldig getref:

      · As iemand wat jy liefhet tuiskom, hardloop om hulle te groet;
      · Moenie byt as ‘n grom genoeg is nie;
      · As jy gelukkig is, dans rond en swaai jou hele lyf;
      · Wees lojaal, moet nooit iets voorgee wat jy nie is nie;
      · As iemand ‘n slegte dag het, wees stil, sit naby en leun saggies teen hul aan.

      Daardie middag, toe die ek die hek hoor oopgaan, besluit ek op die ingewing van die oomblik om iets anders te doen. Ek hardloop na die oprit, smile op my breedte en swaai my hele lyf heen en weer. Die verwarring op sy gesig was nogal snaaks. Toe ek vir hom verduidelik ek is bly om hom te sien, het hy van die e-pos onthou, my gegryp en ‘n oomblik vasgehou. Dit was snaaks, maar steeds ‘n spesiale oomblik.

      Like

    1. Seegogga, miskien het ek die pos eintlik vir myself geskryf. Selferkenning is mos die eerste stap van rehabilitasie! 😳 Dankie dat jy gelees het.

      Like

  3. In die Maasdorp reeks, is die pa van mening dat hy sy beste gedrag vir die mense by die huis moet bêre. Dit was altyd vir my treffend, juis omdat ‘n mens altyd jou buie uithaal op die wat die naaste aan jou is. Dit is gewoonlik juis die wat die toornskap nie verdien nie.

    Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s