Elke hond kry sy dag

Ek soek regverdigheid in die lewe, en het van jongs-af gehuil as ek sien hoe mense behandel word. Skaars het ek begin werk of ek sien hoe ‘n winkeleienaar, ‘n bedelaar wat leë bottels wou ingee al vloekende en met ‘n paar stote uit sy winkel jaag. Net daar op die sypaadjie staan en huil ek soos ‘n baba. Was ek opgewasse teen daardie winkeleienaar het ek hom sekerlik aan die strot gaan gryp, maar ek was magteloos. Dit was maar die begin van vele magtelose oomblikke in die lewe, en ek het geleer om dit te hanteer deur te dink “Jou dag sal kom – maw elke hond kry sy dag.”

Maar kry hulle werklik? Hoekom lyk dit dan asof die wat oor mense loop, die wat goddeloosheid najaag, wat huise opbreek deur dwelmhandelary ens, doodluiters aangaan, en dat hulle boonop floreer ook – dit lyk mos kompleet asof die lewe oor hulle glimlag. Waar is die regverdigheid? En dan natuurlik die alewige stemmetjie wat hierbinne vir my fluister, dat ek nie ander se ondergang moet soek nie, nog minder my verlustig as verdriet wel oor hulle kom. Veel eerder moet ek vir hulle bid dat hulle van veer en kleur sal verander.

Ek glo dus dit is moontlik om te verander, maar ook in “elke hond kry sy dag.” God het gepraat, en daar sal ‘n dag van afrekening kom. In Psalm 73 vertel Asaf ons hoe hy tot berusting gekom het. “Maar as ek so sou aanhou praat, sou ek die verloën wat aan U behoort. Daarom het ek diep nagedink om dit te verstaan en was dit vir my bitter moeilik totdat ek in die heiligdom van God ingegaan en besef het wat die uiteinde van die goddeloses is. U laat hulle op gladde plekke loop, U laat hulle ondergaan deur hulle eie geknoei. In a oogwink word hulle iets afgrysliks, gaan hulle te gronde, tref ‘n verskriklike einde hulle. Net soos ‘n droom wat ophou as ‘n mens wakker word, so verdwyn hulle, Here, as U ingryp.”

Dit is tyd vir my om die stokkie aan te gee. Hier voor my staan Sonlig… hand uitgestrek, gereed om met haar stokkie “Die beste voetjie voorsit” te begin hardloop.

24 thoughts on “Elke hond kry sy dag

      1. Geluk, goeie en getroue kameel! Nou is jy n egte blogger, met jou 1e tag-speletjie afgehandel. Sonlig jy kan joune vir my epos, of as jy dit by iemand anders wil plaas. Seegogga, ek sal jou more help. Sak bel.

        Like

          1. Waardeer dit seegogga. Ek het maar so op die pad gevind wanneer ek modderpoele getrap het oor ‘n saak, en kom niks verder nie, gaan soek ek raad by “Wysheid.” Sy Woord gee lig, en wys my die regte pad aan.

            Like

        1. Ek het dus my eerste aflosronte gehardloop…. sjoe. Noudat ek dit so bedink, dit is definitief beter om saam met ander op die veld te hardloop wetende dat oor ‘n rukkie kan jy aangee en dan ‘n ruskans vat. 😆

          Like

    1. As hierdie deurmekaar kop van my kan onthou ek moet “kameel” skryf elke keer as ek my mond oopmaak, maak ek so. Gedink jy kan maar daar onder aan kameel skryf “Stap maar so deur die woestyn en juig oor elke oase op die pad.”

      Like

  1. Mmmmm…..Kameel, die rook trek behoorlik soos wat my kop wonder wat sal ek met die stokkie doen! Ek sal my storie hier by jou en Toorts moet los, want Toorts kon nog nie my arm gedraai kry om my eie blog te begin nie (and NOT for lack of trying 😉 )

    Tot later…

    Like

    1. Sien baie uit om te “hoor” hoe jy met daardie stokkie hardloop 😉 My katswink geskrik toe ek sommer so uit die bloute veld toe geruk, en ‘n stokkie in my hand gedruk word, Toe maar gedoen wat ek gewoonlik doen…. oe toegeknyp en “perform.” Hardloop Sonlig, hardloop ek skreeu vir jou 😉

      Like

      1. Dankie XP, Toorts en Kameel vir julle gulle aanbiedinge om julle blogspasies bietjie te “leen”, maar ek los hom sommer net hier….

        Die beste voetjie voorsit…

        Ek is seker ons het almal al ons beste voetjie voorgesit…..vir die juffrou, die skoolhoof, die kuiergaste, die dominee, skoonma en defnitief vir die baas. Dit behels nie net jou beste eetstel, uithaler melktert, mooiste handskrif of nuwe linne nie, maar kan ook beduie ook na iets in jou gedrag in daardie spesifieke situasie.

        Tog is daar ‘n effense paradoks in hierdie idioom. Daar is ‘n ongetwyfeld ‘n insinuasie dat daar ‘n ander “voetjie” is wat dalk so bietjie minder gepas is of minder grênt is, wat vir ‘n oomblik net so bietjie moet agtertoe staan totdat dinge weer “normaal” is.

        Wie kry watter voetjie??

        Ons kan onsself probeer verontskuldig, maar dis die klein dingetjies wat deur mense onthou word:
        • Daardie pragtige wit eetstel in die eetkamerkas… moet ons dit dalk meer dikwels vir ons gesin uitgehaal en nie net vir kuiermense nie?

        • Moet jy en jou man nie ook ‘n slag die kristalwynglase gebruik voor iemand anders hulle vir jou breek nie?

        • Ons gee so graag vir ‘n vriendin blomme vir haar huis, maar koop jy ooit sommer net ‘n bos vir jou gesin (en jouself) om te geniet?

        • Hoe hanteer jy jou kinders se probleempies na ‘n uitputtende dag van uiters professionele probleem-oplossing op kantoor?

        • Koekiebaktyd is groot pret en dis nou al tradisie in my kombuis dat die kinders die gebrande- en gebreekte koekies kry. Moet ek nie juis vir hulle die mooistes gee nie?

        • Maak jy jou nog mooi vir jou man? Trek jy nog vinnig ‘n kam deur jou hare of sit ‘n bietjie lipstif aan wanneer jy die hek hoor oopgaan?

        • Hoeveel moeite doen jy met jou gesin se aandete?

        • Hoe sjarmant tree jy op teenoor jou man wanneer julle alleen is?

        Ek wil vandag vir jou vra: vir wie sit jý jou beste voetjie voor? Is dit vir onbelangrike mense wat jy wil beïndruk of is dit vir die mense waarsonder jy nie kan leef nie?

        Ek weet nie meer wie is reeds getag en wie nie, so ek gooi sommer ‘n klip in die bos….as jy lus het, vat die stokkie en laat jou vingers oor die sleutels draf oor:

        Hoe later, hoe kwater…

        Like

    1. Ja Xena dit is ongelukkig so. Die dier is presies net dit – ‘n dier – wat in opdrag van God “versorg” moet word. Maar ai, die mens is soveel meer – geskape na God se beeld – as hy tot ‘n val kom word hy in oneindige dieptes afgetrek.

      Like

Gesels saam, asseblief!