Sop!

Ons vriendin Karen daar ver in Switserland vra vir sopresepte. En sy vra dit by MY! 😯 Ons boeremense kook graag sop, maar met VLEIS in! En Karen hou van sop sonder vleis! Dis KOUD en sy wil SOP eet!! (Dit kan ek heeltemal verstaan)

Ek het gaan soek, en hopelik het ek gevind waarvan sy hou. Maar eers vertel ek net gou hoe ons boeremense hier aan die onderpunt van Afrika maak.

Boontjiesop

2 Pakkies droë boontjies word oornag geweek. Dit word in ‘n groot kastrol gegooi saam met genoeg aartappels, uie, gerasperde wortel, kookvleis (ek wonder hoe dit sal smaak as mens die vleis los?), sout, peper, Worcestersous, Blatjang, koljander, gemengde kruie en sommer al die ander goed wat jy in jou speseryekas het. Dit moet GEURIG wees! Dan word dit stadig gekook tot die boontjies goed sag is, als moet sag wees. Dit word met die aartappeldrukker ‘n bietjie gedruk sodat die goed kan “trou” met mekaar. As dit nog ‘n halwe dag kan staan, soveel te beter! Dik! Ryk! Lekker! Die res word in roomysbakke gevries vir latere gebruik.

Ertjiesop word op ‘n soortgelyke manier voorberei. Ertjies hoef egter nie vooraf geweek te word nie, dit kook ook vinniger as boontjiesop. Gooi op die end nog ‘n pakkie bacon ook by – heeeeerrlik!! En as jy wil, croutons of gekrummelde feta nadat jy dit in die bordjies geskep het, vir afwerking.

Nou die vleislose soppe:

Weigh-Less se Vry Groentesop (Ideaal vir verslankers)

Kook saam:

5 liter koue water

2 kg Bevrore Blomkool

2 Kg Bevrore Wortels

1 Medium kopkool, gesnipper

1 bossie seldery, gesny

1 bossie Pietersielie, gekap

2 Biefblokkies

2 Hoenderblokkies

2 Groot uie, gekap

2 “Green Peppers”, gekap.

Kook ongeveer een uur en versap.

(Ek dink nogals mens kan die bief- en hoenderblokkies vervang met groenteblokkies). Proe maar en gooi sout, peper, kruie by.  En KNOFFEL!! Ek wonder of spaghetti nie lekker sal wees hierin nie?

Vinnige Brokkoli sop (net so lekker met blomkool)

1 ui, gekap

1 groot kop brokkoli, in blommetjies gesny

1 liter hoenderaftreksel (‘n blokkie in ‘n liter kookwater gegooi) of groenteaftreksel as verkies

1 liter warm volroommelk

Sout en Swartpeper

Pietersielie

Vars suurlemoensap

Bacon as jy sou wou.

Braai ui in olie. Laat week Brokkoli in koue soutwater vir ‘n paar minute, dreineer. Voeg brokkoli by uie en aftreksel en melk. Verhit tot kookpunt. Prut sonder deksel tot die broccoli sag is. Verpulp tot glad. Geur na smaak met sout, swartpeper en suurlemoensap. Knoffel! Sit dadelik voor. As vir ‘n hoofgereg bedien word, kom die bacon by.

Katinka se butternutsop

1 butternut

1 hoenderborsie (opsioneel)

1 pak spinasie

Chickenstock (of groentestock?)

Marjoelein, Sweet Basil, gemengde kruie, peper

Kook als saam. Verpulp of versap? Wanneer dit geëet word, gooi bietjie fetakaas oor.  Dis ‘n heerlike, grasgroen sop.

Mushroomsop

250g gekapte mushrooms

1 gekapte ui

2 k vegetable stock (net 1 blokkie)

half teelepel gemengde kruie

sout en peper.

Laat stadig prut vir 20 minute, laat afkoel. Gooi 25g melkpoeier en pietersielie by. Versap.

Suikermieliesop (Uit mikrogolf wenners, ek het dit nog nie gemaak nie)

1 bossie stingeluie of 1 middelslag ui, gekap

30 ml margarien

50 ml koekmeelblom

300 ml melk

300 ml warm hoenderaftreksel

1 blik (420g) roomsoort suikermielies

5 ml sout

knypie rooipeper.Mikrogolf uie saam met botter 1 minuut oop in diep bak, 100% krag.

Roer koekmeelblom by en daarna die melk. Mikrogolf dit 5 minute oop by 100% krag en roer dit elke 2 minute.

Roer hoenderaftreksel en suikermielies by. Bedek en mikrogolf die sop 5 minute by 100% krag.

Geur met sout en peper en sit dit warm voor.

Ek hoop jy kan EEN van die geregte gebruik! Lekker eet.

Toortsie

Nou ja, intussen het ek begin met Banting, en sal ek nie meer al hierdie resepte net so kan gebruik nie. Die Weigh Less groentesop behoort te werk, asook die sampioensop. Katinka se butternutsop sal ook werk vir Banting. Noudat ek Bant gooi ek natuurlik sommer bacon en kaas by die soppe om dit lekker geurig en dik te kry.

Toortsie se Faceboekblad

Toortsie se Bantingboerekos faceboekblad

Toortsie by Finesse: Saam-saam

7 thoughts on “Sop!

  1. :):) Wow, baie dankie, Toortsie! Ek sal definitief een van die kan gebruik! Baie dankie vir jou moeite. En nou dat my man weg is kan ek weer blomkool eet 😉 Dalk met so paar brusselse spruite bo-op … (nog iets wat hy nie graag eet nie).

    ps. Groenteaftreksel is ‘n fantastiese alternatief vir hoenderaftreksel

    Like

    1. O, en vir 2 pakkies boontjies het jy ‘n BAIE groot kastrol nodig. Een pakkie is dalk heeltemal genoeg. As die smaak net nie wil regkom nie, gooi sommer ‘n pakkie bruin uiesop of minestronesop by.

      Like

  2. My ma het die heerlikste boontjiesop gekook, maar ons is mos nie geleer kook nie. Toe my bediende dus eendag van die plaas af vir my ‘n sak… ja ‘n plastiese sak vol boontjies bring, besluit ek om my gesin te “treat.” Ek week die boontjies, en die volgende dag kook ek dit, Die pot word te klein, en ek kry nog ‘n pot by… en die word te klein…. en ek sit nog ‘n pot op die stoof… en die word te klein….. maar die boontjies bly vermeerder 😯 Later is daar nie meer ‘n pot, om nie eers te praat van ‘n plaat beskikbaar vir die boontjies nie. Uiteindelik is die boontjies almal gekook, die kinders word geroep, en elkeen kry ‘n stapel boontjies om te dop. Na baie sweet en vele ure later is die sop gekook, en reg vir eet. Die Maandag eet almal heerlik, en hou hulle borde vir nog. Dinsdag eet hulle, maar vra nie ‘n tweede “helping” nie. Woensdag eet hulle in stilte. Donderdag kan ek sien niemand geniet meer die sop nie. Vrydag se my man “nee magtig vrou, is daar nie ander kos in die huis om te eet nie?” “Wat van al die sop wat nog oor is?” wil ek weet. “Vries dit,” kom die bevel. Ek vries dit toe, maar geen mond wil weet daaraan raak nie. Later gee ek die roomysbakke vol sop, een vir een weg. Vandag soveel jare later, en almal onthou nog “die week van die boontjiesop,” en weier volstrek om hulle monde ooit weer daaraan te sit.

    Like

Gesels saam, asseblief!