hoe word jy genoem?

Ons dames het maar ‘n identiteitsprobleem, lyk dit my. Of is ek nou heeltemal agter die tyd?

Ek kon my ore nie glo toe ‘n ongetroude vriendin vir my sê sy het my stuk gelees wat ek oor twee “oujongnooiens” geskryf het nie. Haar rede was dat dit nie ‘n onderwerp is waaroor ooit geskryf word nie, en in haar eie woorde, is sy ‘n oujongnooi!

Iemand wat ek ken, is baie lief daarvoor om as sy van ‘n persoon te praat, haar huwelikstatus ook te noem, soos die ‘weduwee, Maria’, of die ‘oujongnooi Sannie’. Dan sal ek haar elke keer wat sy die term ‘oujongnooi’ gebruik, daarop wys dat dit nie meer ‘n term is om mense te beskryf nie. Meisies ‘kies’ deesdae of hulle getroud wil wees of nie, en daarmee het ek geen probleem nie.

Toe hierdie nuwe bedeling ingekom het, het twee damesterme, nl. Mev en Mej, verander na een: Me,  sodat daar nie na huwelikstatus verwys word in jou ‘titel’ nie. Mans is almal Mnr, of hulle getroud is, ongetroud is, wat ook al. Daarom is ons vrouens nou almal Me…

Maar ék was al te lank ‘n Mevrou toe hierdie nuwe term ingekom het. Na meer as 30 jaar van getroude lewe voel ek regtig dat ek al die term ‘mevrou’ verdien. Ek het hard gewerk daarvoor! 🙂 Ek het in hierdie huweliksbootjie geseil deur stormsee, kalm water, rotse, stroomversnellings … tot waar ek nou is, steeds getroud met dieselfde man en ek wil dit glad nie anders hê nie. Ek sien dit steeds as ‘n eer om getroud te wees.

Nou wil ek weet, dame, wie en wat is jy? Is jy ‘n mev of ‘n mej of ‘n me? As jy ongetroud is, hoe voel jy oor die term “oujongnooi”?

Toortsie

Toortsie se Faceboekblad

10 thoughts on “hoe word jy genoem?

  1. In Suid-Afrika verkies ek dit om Me. te wees, net omdat mens die keuse het, al is ek getroud. In Switserland is almal eintlik Frau, al is jy ongetroud. Daar is nie ‘n “statuslose” titel nie. Mens sê vir jongmense (onder 18) Fraulein (maar net amptelik, anders is dit glad nie gewild nie).
    Wonder of mens dalk oujongnooi kan gebruik vir mense oor 50 wat nie getroud is nie. Ek sou nie omgegee het as ek dit ek was nie. Maar toegegee, ek dink dis vrek outyds om so van mense te praat, hehe.

    Ek wonder terloops oor ‘n ander ding – met die dat 11.11.11 so great troudatum is, weet julle van mense in SA wat vandag getrou het, i.p.v. more? Ek meen mense trou tradisioneel mos eerder op Saterdae daar, maar ek kan dink daar is mense wat vandag sou wou trou weens die datum. Die volgende so datum is eers in 91 jaar – 02.02.2102!

    Like

  2. As jy se “oujongnooi,” dan sien ek net die rits oujongnooi onderwyseresse wat vir ons klas gegee het, in die prestige meisieskool. Hulle was die dorings in my jongmeisievlees, die merries in my nagmerries, Genadiglik het daardie terme uitgesterf en sien jy nie meer die spesie rondloop nie. Oumas lyk nie meer soos destydse oumas nie, en die ongetroude vrou ook nie meer soos ‘n oujongnooi nie 😉 Ek gee nie om wat mense my noem nie…. of doen ek?

    Like

  3. Ek het regtig nie ‘n probleem met die woord oujongnooi nie. As iemand op ‘n gevorderde ouderdom nog nooit getroud was nie – ongeag die rede – is sy ‘n oujongnooi en hy ‘n oujongkêrel. Dit is tog die woord wat daarvoor gebruik word.

    Ek verkies ook om eerder op my naam aangespreek te word. Hoewel, my korrekte titel is mejuffrou / juffrou. Ek hou nie van me. nie. Ek sal nou wel nie ‘n bohaai opskop as ek Mevrou, dame of Me genoem word nie. Dit is altyd vir my so weird – iemand het ‘n vorm met my hele pedigree op en dan kom mevrou hulle. Duidelik geen aandag aan detail nie.

    Like

  4. Van die os op die jas, dit is maar moeilik as jy eers ‘n paar maande gedwing was om vir iemand Juffrou te sê en dan skielik die naam moet gebruik. Soos in die koshuis. Die gewone onbeskaamde antwoord was dan “Eerstejaar, lyk dit vir jou of ek HOD swot of skool gee?”

    Like

    1. of as jy in die platteland grootgeword het en vir almal tannie en jou dan vasloop teen mense wat nie meer wil ge”tannie” word nie. Ek gee nie om of hulle my tannie of toortsie noem nie, maar dit raak soms ongemaklik…

      Like

  5. Die term oujongnooi word nog net deur diegene 70 en ouer gebruik meerendeels.Mans dink ek traak nie,want op enige ouderdom is hul gewild.Dis net die stupid mensdom wat op vrouens ‘n expiry date gesit het.Mm..die beste van als baie vroue trou in hul 50’s of selfs 60’s vir eerste maal.Ek haal my hoed vir hulle af,want hulle het hul koppe gebruik en gewag vir regte persoon.Groot deel van vandag se huwelike val uitmekaar.Vandag is jy nog getroud,more of ‘n weduwee of geskei.Gelukkig is vroue wat van 18-80 die regte persoon gekry het,al het hul lank gewag,ook gelukkig is enige vrou wat nie deur God bedoel was om te trou,want die huwelik sou nie vir haar beste wees.En ja,me klink soos ‘n skaap,dalk moet ons vir almal mevrou noem en kry klaar.Immers tog Mijn vrouw en ongetroud of getroud jy behoort tot vroulike geslag.

    Like

Gesels saam, asseblief!