Ek het in my hoërskooljare wiskunde by ‘n legendariese onderwyser, Mnr Eps Joubert gehad. Hier in 1976 rond toe ek in st 6 was, het hy aan die draf geraak en aan wedlope begin deelneem. Hy het vir ons vertel dat hy ‘n wedloop op Bredasdorp gaan begin, die Voet van Afrika Marathon. In die wiskundklas het ons saam met hom gedroom. Hy het dit reggekry om ons kinders ook aan die draf te kry en middae 5 nm het ons almal bymekaar gekom langs die laerskool, hy het ‘n roete verduidelik en ons het gedraf. Sy groot wekker het voor in die bakkie gelê en as ons klaar was, het ons ons tyd in ‘n boek opgeskryf. Die bakkie is nooit gesluit nie.
In 1978 is die eerste Voet van Afrika Marathon toe gehou. Mans kon slegs die vol-marathon, 42.2 km, doen, terwyl die dames die half-marathon gedoen het. Die vol-marathon het baie gou bekend geraak as een van die moeilikste wedlope in die land. Eps het dit ‘n “wonder-marathon” genoem, want jy het altyd gewonder watter moeilike dinge jy nog op die pad gaan beleef! Die mans het agter die berg begin, moes oor die berg hardloop en wanneer hulle heeltemal moeg was, het die rûens hulle getref by Napier en is dit op en af vir die laaste 16 km. Dis seker een van die mooiste roetes, meet eers die mooi strandveld, dan die pragtige natuurskoon in die berg en laastens die ryp graanlande. ‘n Regte plattelandse wedloop. The toughest race with the warmest heart! ‘n Wedloop waarby ‘n hele gemeenskap betrokke is. Almal bied huisvesting aan, help by die waterpunte, skep ‘n fees-afmosfeer. Atlete was voorheen met busse aangery tot by die beginpunt, maar die roete het intussen verander. (Ek is net nie seker of die 42 km dalk nog op dieselfde plek begin en die atlete wel aangery moet word nie.
Baie gou is dames ook toegelaat om die vol-marathon te doen, maar dis eers in die laaste paar jare wat mans wel die half-marathon mag hardloop. Ekself het in st 9 my eerste half-marathon gedoen. So aan en af, ek doen twee of drie jaar, dan gaan daar weer ‘n hele paar jaar verby voor ek dit weer doen. Ek het dit al heelpad gedraf, maar ook heelpad gestap. Intussen het ek ook ‘n paar keer die 10 km afgelê, en as als goed gaan, doen ek more my 10e 21. Stappende en nie die fikste wat ek al ooit was nie!!
Alhoewel die Voet op ‘n stadium behoorlik uit sy nate gebars het, sukkel hy ook maar deesdae met ‘n tekort aan borge, en nog ander probleme. Maar vir ons wat amper met die Voet grootgeword het, lê dit baie na aan die hart. Ons het ‘n nie-amptelike geselsgroep op facebook gestig waar liefhebbers van die Voet saamgesels. As jy dalk al iewers in jou lewe betrokke was by die Voet, sluit aan by die groep, en nooi ook van jou Voet-Vriende!!
En nou wil ek graag weet – hoeveel van die lesers van hierdie blog het al die Voet gedoen? Hoe het jy dit ervaar? Vertel asseblief vir ons!!
Ag ja, die afgelope 22 jr “doen” ek
elke jaar die VOET! Eers stalletjies tydens die Voet-fees, toe waterpunte(selfs eenkeer koffie bedien by die wegspringplek),toe morele ondersteunin vir my kinders wat draf en die afgelope 4voete past-aande by Merino.
Alles behalwe draf(ek het darem al die Toontjie, die 5Km, probeer) Dis heerlik en hier is ‘n wonderlike atmosfeer.Hierdie jaar kan 2 gelukkige hardlopers ‘n ete by Merino wen of ‘n naweek by Rus kn Bietjie.Hoop jy draf lekker.Ek sal vi jou kom cheer!
LikeLike
Dankie seegogga. Ek het niemand by die eindpunt verwag nie en toe staan jy daar! Jammer jy moes so lank wag vir die stapper!
LikeLike
Klink na ‘n lekker drawwery/stappery 🙂 en geluk met jou 10de!
LikeLike
Dit was ERG! Baie erg! Hulle het die roete al 2 keer verander. Dis die eerste keer dat ek hierdie nuwe roete doen. By 8 km was daar nog GEEN afdraend nie, dis op, op, op in die berg in! Ek stap teen ‘n goeie pas, maar tot die halfpadmerk het ek nog net 3 minute gewen op die totale afstand. Mens haal gelukkig in op die laaste stuk. Een van die 10 kere het ek ‘n pre-race gedoen en dis nie aangeteken nie. So amptelik het ek nou 9 gedoen. Dankie.;
LikeLike
Gister was dit weer sulke tyd – die 2011 Voet van Afrika en miskien die laaste! Moet vir ons koerant n verslaggie skrywe en het hierdie blog verskriklik baie geniet!
Lees ek was die 25,711ste besoeker aan die blad!
LikeLike
Hello Ora! Baie welkom, al is jy die 25711e besoeker. Ja, mense!! Die Voet het dringend mense nodig wat ‘n hart het vir padwedlope en bereid is om geld te skenk. Asseblief! Help!
LikeLike