Laaste skooldag

Môre gaan my allerlaaste laatlam die laaste keer skool toe.

Ek het netnou sit en dink oor hoe my eie laaste dag was. Ek kon toe my eerste skooldag  baie beter onthou! Nadat ek ‘n rukkie gedink het, het die onthougoed tóg sy werk gedoen!

Ek weet ons het die vorige middag die skool behoorlik op horings geneem, op ons onderwysers se borde enige ding gaan skryf. Ons rekeningkunde-onnie het op ‘n stadium gesê: “Marathons is vir perde.”, terwyl ek op daardie stadium ‘n ywerige atleet was. Sy woorde is herhaal op die swartbord. In die wiskundeklas is onder andere ‘n som op die bord gedoen wat bewys dat 1 = 0! Ons laaste dag het seker maar bestaan uit die tradisionele skryf op die hemde, en geskenkies uitdeel vir ons maats, kaartjies van voorspoed vir die eksamen, ens. Ons matrieks kon van klas na klas beweeg en elke kind groet. Daar sou darem seker ‘n saalbyeenkoms gewees het.

Toe die seuns hulle laaste dag gehad het, was dit ‘n heel ander storie. Veral die saalbyeenkoms. Die mammas (en pappas) het die snesies uitgepak. Oor elke matrikulant is iets gesê en vir elkeen is ‘n glas gegee. So is een van my seuns toe die eerste naam wat gelees word en dan stap hy so tussen die kinders deur buitentoe. Iemand stamp toe per ongeluk die glas uit sy hand. Op so ‘n dag … genoeg rede vir die ma om NOG MEER te huil!!  Hul eerste skooldag –  so 10 minute voor die skool daardie eerste dag moes uitkom, het een van die tweetjies alreeds hulle altwee en nog ‘n maatjie se banke mooi netjies gemaak, hulle koffers ingepak gehad en kiertsregop gestaan met al drie tasse in sy hand!! Reg vir huistoe gaan.

Meisiekind was ook in ‘n plaasskool, en in haar klas was Sub A’s, B’s en st 1’s saam. Die pa het haar die oggend gaan aflaai, en ek moes dorp toe ry om my twee standerd sessies hoërskool toe te neem. Sy het die middag met die bus huis toe gery. Die juffou sê toe net: “Ma, jou kind kan lees.” Toe die juffrou die Sub B’s roep om te kom lees, het meisiekind, wie nie verstaan het van Sub A en Sub B nie, ywerig gaan saamlees. (Sy kon immers op 5 alreeds musiek lees!!)  Ek vra haar die dag hoeveel Sub A’s daar is, en al wat sy vir my kon antwoord, was: “Mamma, daar is 7 met nuwe klere.” 😆

Nou ja, wat môre gaan oplewer, sal ons nog maar moet sien. Ek sal maar ekstra snesies inpak …

Toortsie

Toortsie se Faceboekblad.

Toortsie se Bantingboerekosboek Faceboekblad.

12 thoughts on “Laaste skooldag

  1. Sit met ‘n knop in my keel oor al die herinneringe wat nou teruggeroep word. Ons jongste was ‘n skootsitter – in graad 1, nadat ek en my man weg is, gaan klim sy op juffrou se skoot, en ei’en die plek vir haarself toe. Pouses is sy saam stafkamer toe. Na weke besluit juffrou sy sal maar huistoe bel en voorstel dat ons haar die jaar terughou; maar voordat sy tot aksie kan oorgaan, klim die mensie van haar skoot af, en gaan sit soos ‘n volwaardige leerling by haar bank. So kan ‘n mens by die begin en einde van elkeen se skoolloopbaan stilstaan, en “tjank!” Sterkte met jou dogter se eksamens, vertrou daar le vir haar ‘n geseende pad voor. Moenie vergeet van die “nuwe klere” vir die nuwe fase in haar lewe nie 😉

    Like

  2. 😆 Ek onthou my eerste dag….ek het Ma verbied om saam met my verby die skoolhek te kom, want ek was nie lus vir ‘n gehuilery nie. Laaste skooldag onthou ek ook, skoolkerkdiens, hemde bekrap ens.

    Like

    1. Op jou EERSTE skooldag al jou ma verbied????? Ai ai ai!!! Vriende van ons se kind is in ‘n baie hoë skool. Hulle (die ouers) mag nie naby die skool gekom het onder geen omstandighede nie. Die ma mag nie eers van die ander kinders gegroet het nie!! Toe knor die meisiekind een keer vir die pa wat te naby die skoolhek stilhou. Hy het toe geantwoord dat hy self in hierdie skool was en as sy weer gaan knor, hy een pouse teen ‘n boom op die skoolgrond gaan piepie. Sy het nooit weer geknor nie!! 😆

      Like

  3. Ons was die oggend wel klas toe, met bekrapte hempde en toe besluit ons dat dit sommer snert is. Dit is ons laaste skooldag en ons gaan nie dit op banke deur bring nie. Ons het toe die skool so effens op horings geneem. Onder andere die waarnemende hoof met pak en al in die swembad gegooi. Hy het wraak geneem deur elke matriekseun vir oulaas pak te gee.

    Teen tweede pouse was ons almal vierkant toe geroep. Almal, soos in die hele skool en ons het ook maar gaan luister. Ons was nog leerlinge van die skool. Daar is toe aangekondig dat die waarnemende hoof, nou amptelik hoof is. Tot ons almal se vreugde. Toe jaag hy ons weg.

    Die aand was prysuitdeling en die volgende dag was dit die kerkdiens gewees.

    Like

  4. Ons skool het ‘n groot 3-tier fontein by die hoofingang gehad. Dit was tradisie vir die matrieks om elke jaar skuim in die fontein te gooi, maar dit was nie ‘n maklike taak nie. Die fontein is in daardie tye letterlik snags bewaak, want elke jaar na die skuimpret, was die pomp opgeneuk en moes dié ten groot koste vervang word. Elke jaar is die matrieks móói gevra om dit nie te doen en so het ons groep ook plegtig daar gestaan en beloof dat ons so nóóit as te nimmer onsself aan sulke wangedrag sal skuldig maak nie.

    Ons het so 3 blokke van die skool af gebly. Op die betrokke laaste dag toe ek so by die robot kom, sien ek al die leerlings staan almal en gaap ons matrieks (ek vermoed koshuisleerlinge wat die vorige nag uitgeslip het) se “afskeidsgeskenk” aan die skool oopmond aan. Die skuim bol só dat jy skaars die voorkant van die saal kan sien (hulle het blykbaar OMO gebruik) en om alles te kroon, het hulle sommer pienk en groen koekkleursel ingegooi om dit te verfraai. Natuurlik was ons uitgeskel as die “skuim”, maar het dit ons gepla? Miskien ‘n bietjie…NOT!

    Like

  5. Sterkte! Hoe het dit gegaan? Vanmiddag lê nog voor. Myne is long gone. EK begin sidder by die gedagte dat my een kleinkind nog net een skooljaar oor het, en die ander kleinkind nog een kleutelskooljaar oorhet.

    Like

    1. Dit was toe glad nie so erg nie. Die moeders het vir eetgoed gesorg en so 10 vm het die ouers en matrieks en onderwysers toe heerlik op die gras saam gekuier. 11 vm is almal saal toe. Toe het die matrieks ingeloop en was daar ‘n paar verrigtinge, beslis nie tranerig nie!! Geskenkies is uitgedeel. En hulle het gedigte geskryf oor elke onderwyser wat hulle toe gelees het. Daarna is almal uit, die matrieks elkeen met ‘n helium-gevulde ballon. Hulle het op die skoolgrond bymekaar gaan staan met al die ouers en kinders in ‘n kring om hulle. Die ballonne is toe gelos – “The sky is the limit” Hulle het geen beperkings en elkeen van hulle kan so hoog uitstyg soos hulle wil of kan. En toe is die dag om, en die ma moes mal gaan want vandag was LONE en dit moes KLAAR kom!!

      Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s