Peuters, Kleuters en Selfstandigheid

Ons het soveel wat ons ons kinders moet leer. Dis eintlik ‘n massiewe taak. Hulle moet die dag as ons hulle die wêreld instuur, volwaardige mense wees wat hulle plek kan volstaan. Hulle moet respek vir ander hê, self hulle daaglikse brood kan verdien, die Here ken, wat nog als. Maar een van die dinge wat ek as baie belangrik ag, is dat hulle op ‘n baie jong ouderdom selfstandigheid geleer moet word. Dis reg, ons moet ons kinders help so ver as moontlik, maar ons moet waak daarteen om hulle nie so te help, so alles vir hulle doen, dat ons hulle ontneem van belangrike lewenslesse nie.

Trappe. Trappe is vir baie mense ‘n kopseer. As jou huis ‘n trap in het, is dit belangrik dat jy na jou kind se veiligheid moet omsien, en daarom sit mense ‘n hekkie voor die trap. Ek het regtig nie ‘n probleem met ‘n hekkie nie. Een van my eie kinders het van ‘n trap afgeval toe hy al sterk kon loop! Ek glo egter dat ‘n kind, sodra hy/sy begin kruip, geleer word om boudjies eerste by die trap af te gaan of van die bed af te klim.  Sodra hulle kruip en jy is by hulle, vat jy letterlik die boudjies en draai die lyfie en sê: “boudjies eerste”. So gou soos nou weet hulle wat om te doen en is die gevaar nie meer so groot nie.

Leer hulle so klein as moontlik om self  ‘n broodjie te maak, ‘n eier te bak, kookwater te hanteer sodat hy/sy vir hom/haarself kan koffie of tee maak of selfs “two minute noodles”. Daar kan so maklik iets gebeur dat jou kind in ‘n situasie kom waar niemand vir hom so iets maak  nie. Dan kan hy homself ten minste help!!

Sorg dat daar genoeg “gooi-goed” in die bad is, soos emmertjies, ‘n gieter, bekertjies. Baie gou leer hulle om vloeistof van die een houer na die volgende te gooi sonder om te mors. Ek kan nou nog die mense se gesigte onthou as my baie klein kindertjies die warm teepot self hanteer het en tee in ‘n koppie ingegooi het. ‘n Voorbereide kind is ‘n veilige kind!!

Wees veral versigtig met hoe jy jou klein kind met huiswerk help. Lei jy hom tot die antwoord, of gee jy vir hom/haar en hy/sy skryf net jou antwoord in? Gee jy hom/haar die geleentheid om self te dink oor sy mondeling, skryfstukkie, takie, of doen jy dit sommer namens hom/haar? Onthou, op die jong ouderdom word sekere goed vasgelê wat hy/sy later in hul lewe en skooljare gaan nodig hê.

Kom ons lei ons kinders tot selfstandigheid. Dis ‘n baie groot geskenk om vir hulle te gee.  Om NIKS vir jou kind te doen nie is baie sleg. Maar om ALLES vir hom/haar te doen en haar nie tot haar volle potensiaal te laat ontwikkel nie, is net so erg!! En ek glo nog dat daar niks is wat vergelyk kan word met die aandag wat ‘n ouer aan sy kind gee nie.

15 thoughts on “Peuters, Kleuters en Selfstandigheid

  1. Dis nou waar woorde! Nie altyd maklik om die balans te hou nie – my eie kinders is al 25 en 29 en ek moet myself nog baie keer stop en probeer onthou dat ek nie help deur te veel te doen nie! Dankie vir jou wyse woorde!

    Like

  2. Cool..en ja, nie net selfstandigheid word geleer nie, maar ook verantwoordelikheid! Ek glo byvoorbeeld ‘n kind is verantwoordelik om hule eie kamer netjies te hou. Hule moet self klere en speelgoed wegpak. Nie Ma of Pa of die bediende nie. En as hulle dit nie doen nie moet voorregte veggehou word, nie net leë dreigemente nie. En dan uiteindelik moet die plathand maar inspring.

    Like

  3. Stem honderd persent saam. Die dag toe ek trou kon ek net mooi niks doen nie. Ons het nie ‘n telefoon in ons woonstel gehad nie, dus moes ek kort, kort kafee toe draf, my ma bel en vra hoe kook jy boontjies, dan teruggehardloop, doen wat sy se, en dan maar weer gaan bel. Myself belowe, my kinders sal selfversorgend wees. Tot met hulle vierde verjaarsdag het ek hulle grasie gegee, behalwe dat hulle, hulle eie speelgoed moet optel..daarna het die klas tot begin. Eerste taak: leer om jou bed op te maak. So drie dae na ons jongste dogter se vierde verjaarsdag, herhinner ek haar sy het nog nie haar bed opgemaak nie, sy stap deur toe, draai om en met hande in sye se sy “Ek WOu NIe VIer GEword HEt NIe!!”

    Like

      1. Aangesien my seun lankal nie meer in sy kamer bly nie, kan ek seker maar vertel van die dag van skaamte. Nadat ouboet uit die huis is, is hy buitekamer toe, maar toe glo hy die huisreels is nie meer vir hom van toepassing nie. Hy leef net te lekker… net hy weet watter klere is skoon, en gestryk, en waar om te trap. Ek praat, en praat maar luister is min. Ons bediende kom kla, sy is bang daar kom ‘n slag tussen al daardie goed uit. Die Saterdag gedurende sy rugbywedstryd vaar ek daardie kamer binne, en smyt alles uit op die grasperk, tot sy matras. Dit is toe net mooi die dag dat hy besluit om ‘n nuwe meisie saam huistoe te bring.

        Like

  4. Jy slaan die spyker op die kop. As tuisbly -ma het ek ons kinders al vroeg geleer dat ek daar is om te help, nie om alles te doen nie. Myne kon voor skool al alles doen om aan die lewe te bly.
    Tot vandag (my jongste is in gr 12) het ek ook net eenkeer ‘n skooltaak uit my seun se hande geneem. Hy moes 3D vorms vou, prismas, kubusse en so… Ek raak toe so meegevoer met die opdrag dat ek oorneem en toe dop ek amper die toets! En ek kon nie die onderwyser oor die kole gaan haal gaan met ‘n ‘dis onregverdeig, ek het tot ‘n fraksie van ‘n mm presies gemeet nie’.

    Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s