Op die baadjie trakteer

Ek sal nogals graag wil weet hoeveel geld verkoopsmense al verloor het omdat hulle mense op hulle baadjie trakteer het. Soms loop ek by ‘n klerewinkel in en die gesig van die verkoopsdame wys duidelik vir my dat dit nie die winkel vir my is nie. Dalk lyk ek te arm, of nie mode-bewus genoeg nie, dalk pas my lyf nie by die winkel se klere nie…. Dan loop ek sommer uit, en dink by myself – wie sê ek wou vir myself iets koop? Dalk iets vir my dogter?? Of, wat laat jou dink ek sal nie kan betaal nie?? 😦

Netso het die verkoopsman baie lekker vir ONSE donkie gelag omdat hy in verkeerde mondering gevra het vir ‘n toetsrit van een of ander besonderse voertuig. 😦  Dit kon ‘n baie duur fout wees. Want wie sê die gerolde Mazda waarmee die donkie gery het was syne? Dit kon dalk ‘n gemeentelid  s’n gewees het wat hy net iewers moes gaan haal. Vir al wat jy weet het hy dalk R600 000 in kontant onder sy bed gebêre vir so ‘n dag?? ❗  Of dalk voel sy gemeente al lankal om vir hulle geliefde herder so ‘n ou geskenkie te koop… 😯

Vroeër kon mens nie net een woonstel koop nie. Jy moes die hele blok koop. So lees ‘n boere-oom toe in die koerant van een of ander woonstel wat in die Kaap verkoop gaan word. Hy trek toe sy Sondag-khaki aan en ry met sy bakkie na die veiling. Daar staan baie netjies geklede mans, en ‘n hele boel slap Merc’s, BMW’s, ens… Hy is redelik oor die neus aangekyk. Wel, hy koop toe die blok onder hulle neuse uit! Gmf! Hy sê waaroor hy die spytste was, was dat hy nie met die regtige plaasbakkie gery het wat vol modder was en waarvan die battery pap was nie. Dan kon hy hulle gevra het om hom te stoot!

Dit sal hulle leer!

Hoeveel geld het verkoopsmense al verloor omdat hulle vir JOU verkeerd opgesom het???

8 thoughts on “Op die baadjie trakteer

  1. Ag dankie Toortsie! Die gemeentelid met die dik beursie het nog nie opgedaag nie, maar ons bly hoop… So van daardie Lexus gepraat- my groot vriend in die Kaap laai eendag ‘n vriendin agterop sy motorfiets. Sy lyk nog baie jonk, maar is ‘n C.A, met ‘n fenominale salarispakket… Sy vra haar geliefde dominee om haar na die Mercedes garage toe te vat, want sy het ‘n kar nodig om haar werk te doen. Stop hulle daar by die Merc garage in Kaapstad (Oswald Pirowstraat? Daai een wat van die Kasteel af terugkom en onder die N1 regs draai by die hawe om op die N1 Noord te klim?) In elk geval, die Mercedes verkoopsman kyk hulle net baie snotty aan, en maak dit baie duidelik dat hulle nou nie sy tyd moet mors nie. Strip daardie jong dame mos nou behoorlik ‘n paar moere se skroefdraad. ‘n Uur en ‘n half later is sy weer daar, net om vir sy bestuurder by Mercedes haar splinternuwe Lexus te wys wat sy oorkant die pad gekoop het by die kompetisie.
    Ek vermoed die verkoopsman is nie meer daar nie…

    Like

      1. Ooo, hoe lekker kry ek nou! Die lekkerste is om ‘n motorverkoopsman of mechanic op sy neus te laat kyk omdat hulle dink jy is ‘n vrou en weet boggerol van ‘n kar af. As ek eers sien die ou onderskat my (min wetende dat ek vir 8 jaar net gewerk het met motornavorsing), dan wag ek net mooitjies my kans af en dan begin ek met hom oor die enjin te praat – werkverrigting, remstelsels, fuel injection systems ensovoorts, ensovoort. As die ou se bek eers behoorlik oophang, dan hou ek op. Mens moet NOOIT iemand op sy “looks” takseer nie. Selfs die Bybel leer jou dit 😉

        Like

  2. Ek het een keer na karre by Ford gaan kyk. Die verkoopspersoon het my keer op keer na die goedkoper opsies verwys. Nodeloos om te sê, ek het my geld gedruk.

    Ironies genoeg, die regtige luukse plekke trek nie hulle neus op vir mense wat nie ryk lyk nie. Hulle bly vriendelik tot jy by die deur uit is. Die in Pretoors in elk geval.

    Like

  3. Ek was die bestuurder van ons vervoermaatskappy. In die 1e vertrek het dawie gesit en die sekretaresse. Ek was langsaan. Soveel keer het verteenwoordigers my geignoreer of uit die hoogte gegroet. Wanneer hul dan hul fout agterkom dans hv behoorlik om my, maar helaas, te laat. Ek het altyd vriendelik gebly maar hul net nie ondersteun nie. Sorry

    Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s