Wat het HEUNING en CANOLA met mekaar te doen????

Honey, honey, honey… must be funny, in a rich man’s world! 😆 Ek weet ja! Dis money, money, money! Maar hoekom kan ek nie maar HONEY sing nie?? Suger for my honey….

Heuning. Die natuur se eie konfyt.  Orals in die bybel word daar verwys na “melk en heuning”, as na voorspoed verwys word. My skoonpa het geglo dat daar nie ‘n beter medisyne vir ‘n seer keel of hoes is, as ‘n lepel vol heuning, gemeng met ‘n lepel vol witblits nie! Ek belowe julle, dit werk, sowaar!

Dit is natuurlik ou nuus, maar vir my is dit net fantasties om te dink dat die by die nektar opsuig uit die blommetjie en teen die tyd dat hy by die bynes kom, is dit klaar heuning!  Dan het die by-fabriek klaar gewerk. Het julle al per ongeluk ‘n swerm bye getref as julle ry? Die hele voorruit is vol heuning! Dis natuurlik ‘n heel ander storie vir ons om die heuning in die hande te kry! Dis seker hoekom dit so duur is. Die byeboere het beskermende klere wat hulle moet dra, anders kan dit gebeur dat die hele swerm so ‘n persoon pak en begin steek. Hulle het ook sulke goed waarmee hulle rook maak sodat die bye bedwelm is en minder steek. Maar ek dink elkeen wat al heuning uitgehaal het, is al meermale gesteek.

Van bysteek gepraat. Dis interessant dat mense nie altyd ewe allergies is vir bysteek nie. Party mense was as kind dalk glad nie allergies nie, maar soos hulle ouer raak, raak die allergieë meer. Maar dit wil lyk of dit afhang van waarop die bye werk. Ek weet nie, dis sommer ons eie bevinding. Daar is darem EEN geluk!!!  As ‘n by jou gesteek het, sal daardie by jou NOOIT weer steek nie! 😆

Die blomme waarop die bye werk, bepaal die kleur en geur van die heuning. Bloekomblomme gee ‘n baie donker heuning, terwyl lusern weer ‘n baie ligte, amper wit heuning gee. Canola gee ook ‘n ligte heuning. Maar canola-heuning het ‘n ander probleem. Dit SANDSUIKER verskriklik gou! Oom Perrie Beyers vertel vir my dat hulle selfs sukkel om die heuning uitgewaai te kry, dit begin al suiker in die nes! Maar net vir interessantheid, as heuning sandsuiker, is dit eintlik goeie nuus! Dan is die heuning suiwer. Egte heuning. Of so is ek geleer. Het jou heuning gesandsuiker??? GEEN probleem. Sit dit vir ‘n paar dae in die son, dan smelt dit. Of as jy effens haastig is, in die lou-oond. Ek sit dit sommer vir ‘n minuut of drie in die mikrogolf-oond op HIGH.

Vir my proe alle heuning na….. HEUNING!!

Groetnis

Toortsie

Toortsie se Bantingboerekosboek faceboekblad

Toortsie se Faceboekblad

Toortsie by Finesse: Drie dinge en jou lewensuitkyk verander

8 thoughts on “Wat het HEUNING en CANOLA met mekaar te doen????

  1. Wonderlike produk, en met bruin druiwe-asyn gemeng het dit my gehelp om my stem terug te kry, dit was Maankind se raad gewees, en dit het gewerk. Ek ervaar ook daardie ding van bysteek- soms maak dit niks, ander kere maak dit ‘n dik kors wat vir weke aanmekaar kan jeuk. Ek wonder wat het die goetertjies dan geëet? Ek het ‘n byeboer in my gemeente, en hulle kry nogal swaar op die oomblik met kaapse bye wat in die korwe inkom, en alle produksie opvoeter.

    Like

    1. ai tog! altyd die probleem met die kapenaars en die transvalers! Selfs onder die bye!!’
      Ek het gehoor daar is landwyd ‘n groot probleem met die bye. Ek kan net nie onthou WAT nie!

      Like

  2. Sandsuiker heuning is Die Beste! Ek koop akltyd die botteltjies wat so wasig begin lyk. En glo my, ek het pas netnou oorgestap Singleton’s toe (so tuisnywerheid bedryf skuins oorkant my) en gaan heuning koop!

    Like

  3. Ons het 3 korwe hier in Cincinnati VSA. Net een het die winter oorleef en is propvol heuning. Die ander twee korwe het ook nog baie heuning in maar net n klompie dooie bye daarby😢. Vanoggend op die nuus is berig dat 40%vd byepopulasie uitgewis is in die afgelope 12maande. Baie verontrustend. Spekulasie is dat die gras, blomme en bome Te feel bespuit word met gifstowwe asook die GMO pkante wat nie nektar bevat nie bv Knockout Rose. In die omgewing word n ernstige beroep op huiseienaars gedoen om grasperke kleiner te maak, veldblomme uit te los en spesifiek blomme end te plant wat bye en skoenlappers lok.
    As ons almal saamstaan kan ons dalk die wonderlik en noodssaaklike insekpopulasie van uitwissing red.

    Like

Gesels saam, asseblief!