Is dit die geld werd??

Hierdie tyd van die jaar is daar orals in die land groepe wat op “uitreike” of “werkerskampe” gaan na verskillende dele van die land, soos Msinga, Mosambiek, Transkei, noem op!!

Daar is maar altyd die vraag of dit regtig die koste werd is. Van hier onder uit die Suidpunt gaan ‘n konfooi tot in Natal. Die hele gemeenskap werk saam om genoeg blokkies te brei, kos te maak, beskuit te bak, voertuie te gee, bybels, benodigdhede vir bouwerk, medikasie…..

Elkeen het seker sy eie mening hieroor, maar ek kan getuig: Ja! Dis beslis die moeite, die onkoste, die ongerief werd! Dis lewensveranderend. Eerstens is die doel mos om die mense te gaan bedien. Hulle gaan na die armste van armstes toe, bedien hulle met liefde, aandag, tyd, die Evangelie. Hulle versorg die BAIE siekes. Bou kerke. Versterk die arms van die sendelinge daar.  Vir daardie mense wat daar aan die ontvangkant is, is dit beslis die moeite werd.

Maar daar is ook ‘n ander kant. Wat dit geestelik vir elke lid van die uitreikspan beteken, kan nie gemeet word nie. Daar word van hulle verwag om uit hulle gemaksone te beweeg. Hulle ervaar dat daardie mense, al het hulle heeltemal niks, nog steeds soveel liefde het om met hulle te deel. Op die ou end ontvang hulle soveel meer as wat hulle gaan uitdeel. Dit is beslis ander mense wat terugkeer, as dié wat oorspronklik gegaan het. En die wonder is gewoonlik dat wanneer hulle terugkeer, hulle ook plaaslik betrokke raak by uitreike en opheffingswerk.

Daar is ook NOG ‘n kant! Die mense wat nie gaan nie, maar wie agterbly. Hulle wat help blokkies brei het, beskuit gebak het, hulle wat die voertuie gee, hulle wat bid. Ook hulle word nie onveranderd gelaat nie en is deel van die groep. In die proses word soveel meer mense bereik as aan wie mens dink.

Of dit die moeite en onkostes werd is???? Vra vir dié wat dit al gedoen het! Of nog beter…. vra hulle wat jaar vir jaar die verrigtinge bywoon!  🙂

Terloops, hulle voer net die opdrag uit wat versteek is in die foto!! 😉

As julle nog nie weet hoe ek oor sending voel nie, lees hier.

‘n Uitreikende, sendinggerigte gemeente is ‘n LEWENDE gemeente.

11 thoughts on “Is dit die geld werd??

  1. Ek het al gesien waarvoor mense kom. een het dit onomwonde genoem ” the spice of vaiety.” Sy vriend se reaksie was, “Zuma.” Ek vra ook soos Leon.

    Like

    1. maar as dit wel vir die uitreikers steeds meer beteken, en hulle lewens verander…. was dit dan nie tog die moeite werd nie? Dalk kyk hulle in die toekoms met ‘n ander oog na die mense?

      Like

      1. As hulle dit nie verrykend gevind het nie, sal hulle defnitief nie jaar na jaar teruggaan nie. Tog is daar beslis uitgereiktes wat net nog uitgereik wil word. Altyd en oral.

        Like

  2. Dit beteken beslis vir beide kant iets. Hier by ons is die uitreike ‘n bietjie anders, maar dis ‘n groot blessing vir die wat besoek word en die wat gaan.

    Like

  3. My ervaring is ook ja, dis absoluut die moeite werd. Leon is dalk reg, soms beteken dit nog meer vir die uitreiker as die ontvanger van die uitreik-aksie, Mense wat op ‘n uitreik was, is gewoonlik baie meer sensitief vir die nood van die mense rondom hulle as hulle weer tuis kom. Daar gebeur ook gewoonlik wonderlike dinge in mense wat op so ‘n uitreik gaan, se eie geestelike lewe. Hulle het gerief en hulle gemaksone agtergelaat om te gaan dien. En daardie stukkie losmaak van jou eie gerief, en uitreik na ‘n naaste se seer, dit kan ‘n mens mos nie dieselfde los nie. Die ouens wat so in die geld vaskyk, kan gewoonlik gevra word wat hulle self tuis doen, as hulle dan teen uitreik is. Die getuienis oor en oor is dat die uitreiker baie meer effektiewe getuienis tuis lewer, en gewoonlik ook makliker bydra tot ‘n gemeente wat gehoorsaam is aan die opdrag van Jesus om te gaan, en sy liefde met almal te gaan deel.

    Like

Gesels saam, asseblief!