Watter werk kan mens van die huis af doen???

Baie belangrik!! Hierdie bloginskrywing gaan daaroor dat ons IDEES vir mekaar sal gee van watter tipe werk ‘n mens by die huis kan doen. DIT IS NIE ‘N WERKSOEK BLAD OF ‘N PLEK WAT JY WERK KAN AANBIED OF MENSE NOOI OM JOU TE KONTAK VIR WERK NIE. Sulke werksoek/aanbied-kommentare vee ek summier af. Speel asseblief saam en vertel van watter werk JY van die huis af doen of van iets wat jy weet iemand anders doen wat vir hulle werk. Dit gaan oor KREATIEWE denke. 

Hoekom sal jy van die huis af wil werk? Want dan het jy meer beheer oor jou tyd. Jy kan dalk korter ure of meer gemaklike ure werk. Jy kan beskikbaar wees wanneer jou kinders jou nodig het, en dan weer, wanneer dit niemand pla nie, kan jy aan jou werk aandag gee.  Jy kan selfs vir ‘n kleiner inkomste werk omdat jy nie vir nasorg vir jou kinders, ekstra klere, selfs ‘n ekstra motor hoef te betaal nie. Dis glad nie te sê dat jy ‘n swakker salaris sal verdien as jou “werkende” kollega nie! Dis ook ‘n goeie manier vir diegene wat later weer die arbeidsmark voluit wil betree, om in voeling te bly…

Daar is egter ook nadele hieraan verbonde:  Ander mense mag dink jy is maar net by die huis en maak misbruik van jou tyd. Jy sal goeie selfdissipline moet hê om te verseker dat jy wel jou werk doen. Vir party mense is dit beter om eerder ‘n voldag in die kantoor te wees. Ons omstandighede verskil mos!!

Hier is ‘n paar idees. Omdat ek mos maar outyds is en boonop aan kleindorpie-sindroom ly, is ek seker dat daar baie NUWE werke is waarvan ek nog nie eers weet nie!! Sal julle die lys aanvul, asseblief?

  • Plaasvrouens, hou ganse aan en maak donsduvets.
  • Verkoop juwele, skoonheidsmiddels, polisse
  • Doen boeke en ander administratiewe werk
  • Enige iets is moontlik met die internet
  • Gee ekstra klasse in wiskunde, ens
  • Doen remediëring – daar is so baie kinders wat hulp nodig het.
  • Help kinders met huiswerk – jy sal ‘n seën wees vir baie ouers
  • Haarkapster
  • Berading
  • Skoonheidsdeskundige
  • Gee musieklesse
  • Gee Yoga, Aerobiese oefeninge, Karate
  • Bak fantasie-koeke
  • Enige gebak – beskuit, koeksisters – bak vir ‘n tuisnywerheid
  • Doen naaldwerk. Maak sweetpakke vir ‘n skool. Maak Matriekafskeidrokke – daar is GROOT GELD in!
  • Gee swemlesse
  • Bied noodhulpkursusse aan
  • “edit” skripsies
  • Proefleeswerk vir skrywers
  • Tuisversorging
  • Fisioterapie en arbeidsterapie en enige ander vorm van terapie
  • Maak kaas
  • Skilder!!
  • Gee kunsklasse
  • Doen iets soos “Meals on Wheels”
  • Skryf
  • Doen vertaalwerk

As jy naby een van die land se hoofpaaie woon, kan jy dalk begin kos maak vir die Siele op Wiele. Kyk ‘n bietjie na hierdie bloginskrywing hieroor. Ek dink regtig hier is ‘n groot behoefte aan so iets.

Doen terapie-sessies by die kliënt se huis, in plaas daarvan dat die pasiënt na die terapeut se kantoor kom. Word ‘n mobiele skoonheidsterapeut/fisio-terapeut/arbeidsterapeut. Ja, dis ‘n groot opoffering, maar die moeite werd.

Ek ken ‘n haarkapster wat mense wie nie meer maklik kan beweeg nie, se hare by hulle eie huise gaan doen. Wat ‘n wonderlike diens!! Oumense in ouetehuise het ook ‘n behoefte aan mense wat hulle naels versorg, hulle klere verstel.

Gepraat van ouer mense in aftree-oorde en ouetehuise, soveel van hulle het nie meer ‘n voertuig nie. Na aanleiding van ‘n gesprek met Rondomtaliedraai, vra ek: Het jy dalk ‘n voertuig? Is jy betroubaar? Dalk kan jy jou gaan aanmeld by die naaste aftree-oord/ouetehuis en aanbied om vir die inwoners rondrywerkies te doen. Ry met hulle dorp toe, winkel toe, dokter toe, waarheen hulle gery moet word. Teen billike vergoeding, natuurlik! Daar is ‘n behoefte aan so iets.

Hierdie was net ‘n paar voorstelle. Ek maak nou op julle staat om met nog voorstelle te kom!!

Lees gerus deur die kommentare. Baie mense het al baie oulike idees hierby gevoeg.

Wees kreatief!

Toortsie

Troutip: Skryf 10 dinge waarvan jy hou van jou huweliksmaat, op ‘n papiertjie en bêre dit op ‘n plek waar jy dit maklik sal raaksien.

Toortsie se faceboekblad.

Toortsie se Bantingboerekos faceboekblad.

Toortsie by Finesse: Wegbreek

140 thoughts on “Watter werk kan mens van die huis af doen???

    1. Lynette, ek het die stukkie waar jy werk soek, uitgehaal, omdat hierdie nie ‘n werksoekblad is nie. Maar ek is trots op jou wat bereid is om in mense se huise te werk en wasgoed te was en kos te maak. Ek hoop dat die deure sommer vinnig vir jou sal oopgaan.

      Like

Gesels saam, asseblief!