Of ma’s moet gaan werk of nie….

Of ‘n ma moet gaan werk as haar kinders nog klein is of nie, is ‘n vraag wat elkeen vir haarself moet antwoord. Ons almal se omstandighede verskil. Vir sommige ma’s is dit moontlik om by die huis te bly, ander het regtig net nie ‘n keuse nie.

Baie ma’s HET wel ‘n keuse…

Die doel van hierdie skrywe is nie om ‘n relaas te kry van elkeen wat werk en hoekom sy voel sy moet werk nie. Dis ook nie die bedoeling dat enige persoon skuldig moet voel omdat sy wel werk nie, of om op enige persoon se tone te trap of om hulle te oordeel nie. Dis net my persoonlike mening, en die doel is dat die mamma wat wel wonder of sy nie dalk eerder by die huis moet bly nie, te help in haar keuse.

Wat is die WARE KOSTE??  Baie mense voel dat die ma MOET werk ter wille van die geld.  Maar kom daar werklik meer geld in die huis in? Die  ekstra bediende wat jy het, kos jou drie maal die bedrag van haar salaris. Dis die kos wat sy eet, sy moet aangery word werk toe, en nog!!  Jyself het ekstra klere nodig. Die speelskool, bewaarskool, nasorg, ekstra klere vir jou kinders wat na hierdie plekke moet gaan, ekstra ritte om hulle daar te kry, tel alles by die koste. Jyself moet by die werk kom. Danksy die groter salarisse wat jy en jou man inbring, is julle op ‘n hoër belastingskaal.

Die grootste koste van alles kan nie bereken word nie. Ons kyk so vas in die geld dat ons vergeet van hierdie koste. Die emosionele koste. Ja, dit is so dat die vrou meer waardevol voel as sy werk, dit voel of sy iets bereik. Maar hoeveel ekstra spanning word veroorsaak omdat sy die hele dag nie by die huis was nie? Hoeveel ekstra druk is daar op almal in die huis, maar die meeste daarvan op haarself? Hoeveel onnodige skuldgevoelens het so iemand omdat sy eintlik baie eerder by haar kinders sou wou wees, hulle eerste tree, eerste woord self sou wou hoor? Wat doen dit aan die kind dat mamma nie daar is as hy val, en dat sy vanaand moeg is as sy by die huis kom en alles vinnig afgehandel moet word? Ongelukkig is dit kostes waarvan ons die gevolge eers baie jare later sien.

Mamma, indien dit ENIGSINS moontlik is dat jy wel by die huis kan bly, doen dit! Voor jy jou oë uitvee, is hulle groot en gaan jy weer die geleentheid kry om te gaan werk. Dit is nie altyd lekker om by die huis te bly nie en jy voel of jy agterbly by jou vriendinne wat wel werk, maar ek belowe jou: Jy sal NOOIT spyt wees nie. Die vrugte van jou keuse gaan jy pluk!!

Sterkte!

Postaday:  Vertel vir ons iets wat jy die afgelope tyd geleer het. Dit kan iets persoonliks wees, maar dalk het jy geleer om te hekel, sweis, of wat ook al??? Vertel vir ons, asb!!   Deur my blog het ek geleer dat ons almal se omstandighede soveel verskil. Daarom kan ek maar net my opinie vorm na aanleiding van dit wat ek weet, maar ek moet aanvaar dat ander mense se opinies verskil van myne, en nie noodwendig verkeerd is nie!!

Troutip: Raak doelbewus aan jou huweliksmaat. Sommer ‘n paar keer vandag….

Advertisements

10 thoughts on “Of ma’s moet gaan werk of nie….

  1. Nou raak jy aan ‘n baie teer punt. Inteendeel dit is ‘n kannetjie wurms wat jy hier oopmaak. Daar is soveel redes waarom vrouens die beroepsmark betree. Die sekulere stelsels, vroueregte groepe ens. Ongelukkig is God se orde oor die man wat broodwinner moet wees omver gegooi. Ek glo dat ‘n vrou meer as net ma en huisvrou is. Daar is baie ruimte vir bykomende funksies. Ongelukkig het die lewe so ‘n gejaag geword en is die druk wat op vroue geplaas word om te presteer net eenvoudig te veel. Huidige bestel in Suid-Afrika het veral blanke middeljarige mans uit die werkplek rangeer. Baie vroue is effektief die broodwinners gemaak omdat regstellende aksie nie teen hulle diskrimineer nie. Alles inaggenome, is dit die vroue wat suksesvolle ma’s en huisvroue is wat regtig blom. Sien so baie van hulle. Jy sien die vrede en rustigheid in hulle omdat hulle die rol vertolk waarvoor God hulle geskape het. Sorry beroepsvroue, ek skiet julle nie af nie. Maar ek glo diep in julle harte begeer julle ook daardie rustigheid en vrede in plaas van die druk van die werkplek en die rol wat jy tuis as vrou van die huis moet vervul.

    Like

  2. Ek het verlede jaar ‘n onderhoud gevoer met ‘n baie suskesvolle dame en een van my vrae was kan jy “best of both words hê”
    Haar antwoord was baie duidelik en vinnig “Nee, sy kon nie. En sy dink nie vrouens kan nie” Die idee dat jy soveel van jou kinders so ontwikeling mis het haar besluit om op te hou werk en voltyds ma te wees.
    ‘n jaar later is sy nog net so gelukkig met haar besluit sowel as verlig dat sy dit KON doen.

    My maatskappy is redelik flexible met ouerskap en omdat my ma gewerk het toe ons klein was sal dit nie vir my snaaks wees om voltyds terug te kom nie. Maar dan in my agterkop maak ek groot planne dat as ons ‘n huis koop ons dit kan bekostig om op my man alleen se salaris (ek moet hom nog vertel van my plan) oor die weg te kan kom sodat ek die keuse het as ons eendag kinders hê en nie hoef te kies tussen geld en skuldgevoelens nie.
    Ook op die staduim is dit nie snaaks as die mans eerder by die kinders bly terwyl ma gaan werk nie.
    Ek dink dit is maar elkeen se keuse as die oomblik daar is.
    As mens werk is jou salaris nie altyd die enigste faktor nie, As jy vir ‘n goeie maatskapy werk wat jou medies betaal (of van dit) is dit dalk net soveel werd soos die geld wat jy huis toe vat elke maand.

    Like

    1. Dankie Gogga en Frik vir julle mooi kommentare. Omstandighede het namens my gekies. Ekself het ook maar baie keer die hunkering gehad om te gaan “werk”. maar ek het altyd aan maniere gedink om iewers ‘n geldjie te maak met my kinders wat rondom my voete fiets ry, ens. Veral in die beginjare moes ek sonder baie luukses klaarkom, want ons was regtig baie arm. Maar as ek my lewe kan oorhê? DIT SAL BESLIS NET SO WEES!!! Vandag pluk ek wonderlike vrugte, waaroor ek regtig dankbaar is.

      Like

  3. Ek hou baie van hierdie een want ek dink dit is nogal ‘n teer sakie in baie gesinne. Gisteraand half 6 ry ek met die fiets verby die laerskool en daar sit toe die oulikste kind (so ou pokkeltjie met bruin ogies) en wag vir sy ouers buitie die hek. Ai, die sport het verseker al teen 5uur opgehou. As ek my selfoon gehad het het ek verseker sy ouers gebel het. Net toe dink en nogal aan wat tannie geskryf het en wonder hoeveel tyd die ouers werklik saam met hierdie kind spandeer.

    Ek voel egter ook dit is belangrik dat die pa’s meer tyd saam met die kinders spandeer. My baas is so besig met sy werk (hy is daardie tipe wat half 1 op ‘n sondag oggend nog e-posse sal uitstuur) en hy het twee klein dogtertjies. Net die ander dag se hy dat sy oudste ook baie belangstel in sy werkrigting, maar ek dink al rede hoekom sy so se is om meer tyd saam met HOM te kan he omdat hy altyd besig is met SY werk. Dit laat my nogal dink oor wat vir my belangrik is/moet wees…

    Like

  4. Ek is nou al drie jaar by die huis en moet sê dit was nie ‘n maklike besluit na twintig jaar in die korporatiewe wêreld nie. Gelukkig laat my omstandighede toe dat ek nou tyd het om aan Rooikop te spandeer. Hy is natuurlik amper klaar met skool, maar die laaste paar jare is dit asof ons beter oor die weg kom en soos normale mense kan kommunikeer. Voorheen was dit vinnige woorde want ma gaan donkerdag werk toe en kom donker by die huis aan. Dit het amper ‘n “speed dating” gevoel gehad en net die nodigste was gesê. Nou kan ons rustig in die middag sit en mekaar geniet. Dit was tyd.

    Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s