Klippie in my skoen

Weet julle, ek hou nie daarvan om negatief te wees nie, veral nie op my blog nie. Maar hier is ietsie wat ek net wil noem. Ek glo dat die mense wat hier lees, hulle nie skuldig maak hieraan nie.

Dit gaan oor mense wat een of ander produk of diens verkoop, en dan hulle kompetisie afkraak in ‘n poging om hulleself beter te laat lyk. In my lewe het ek al met bouers en verwers te doen gekry wat graag by ons wil werk. Die eerste wat hulle doen, is om te vertel by wie hulle almal werk, hoe vuil die plek is of hoe sleg dit lyk…. Dan kan hulle verseker wees dat hulle nie by my gaan werk nie, want ek wil mos nie hê die hele distrik moet ook hoor hoe vuil my huis is nie, of hoe gekraak die mure of hoeveel kewers in my vloere is nie!!

Ek het my amper my hele huis se blindings by ‘n persoon laat doen. Wonderlike diens, al het dit lank geneem. Toe ek haar nou weer bel vir die laaste paar vensters, sê sy sy het die plek verkoop aan iemand anders. Dis oulike mense en sy sal die mates wat sy reeds geneem het, vir hulle gee. Die persoon wat die mates kom oorneem, kon nie gou genoeg vir my vertel hoe foutief die mates van die ander dame was nie. Dit was so hittete of ek kanselleer die bestelling…  Ek is bly ek het dit nie gekanselleer nie, want die outjie wat dit toe kom insit, was ‘n plesier om mee te werk.

Nee wat, dink eerder aan die goeie punte van JOU produk, en beklemtoon dit. As iemand anders met jou wil praat oor jou mededingers, sê dat jy regtig nie van hulle wil praat nie, maar wat jy weet, is dat JOU produk se nasorgdiens goed is, of wat ook al. Dit skep so ‘n goeie indruk as jy nie die ander ou afkraak nie.

Ek het dit nie hier geskryf omdat EK wou skinder nie, maar ek wou juis mense wat hulle dalk daaraan skuldig maak, net daarop attent maak. Dalk besef hulle nie dat dit ‘n swak indruk skep nie?

Dit gaan daaroor: Moenie ander mense afkraak as jy jou eie produk probeer verkoop nie.

Groetnis,

Toortsie

Toortsie se faceboekpage

Toortsie se Bantingboerekosboek faceboekpage

Toortsie by Finesse: Net drie dinge en jou lewensuitkyk verander

20 thoughts on “Klippie in my skoen

  1. Jy het ‘n punt beet.

    Op die N1 is daar ‘n advertensiebord van Telkom wat iets lees soos “Remember . . . Proceed with Caution when you see orange” Net agter die bord is die oranje gebou van Neotel.

    O ja, dit is nie regtig wat jy wou hoor nie.

    Like

  2. Ek stem saam met jou Toorts. Ek werk in ‘n redelik kompeterende industrie en het al dikwels ervaar dat verteenwoordigers van maatskappye presies doen wat jy hier beskryf teenoor opposisie.

    Ek onthou een spesifieke vrou. Sy was altyd so “abrupt” en het sommer by my kantoor ingestap sonder afsprake. Dan sit sy daar en “slash” die ander mense se produkte. Ek verpes dit. Dit het veroorsaak dat ek ‘n negatiewe persepsie van haar maatskappy gevorm het, want alhoewel sy net een mens is, glo ek hierdie manier van bemarking raak ‘n maatskappy kultuur.

    Nodeloos om te sê dat ek nooit by hulle iets gekoop het nie. Sulke mense bring ongelukkig ook die slegste in my uit.

    Like

    1. ek was die bestuurder van ons vervoermaatskappy (lank gelede). Maar my kantoor was die 2e een. Dawie was ook ‘n baie prominente persoon in ons besigheid en baie mense het sommer met hom gepraat. Maar een ou het my heeltemal geignoreer. Dis nie dat ek aandag wou he nie, maar ek kyk nogals hoe mense my hanteer. Ek was sommer die girltjie daar in die agterste kantoor. Tot die ou toe agterkom dat ek die een is wat die okay moes gee….. kruip was nie die woord nie. jammer, dit was vir hom nogals ‘n duur foutjie!!! ek het hom elke keer vriendelik gegroet

      Like

  3. Ek stem saam, veral in ‘n klein dorpie soos ons s’n. Ek het al die allerverskriklikste stories gehoor by hierdie mense en ja, ongelukkig kan ek baie onbeskof wees soms en dan jak ek hulle sommer af.

    Like

  4. Hier op die eiland is dit normaal vir een maatskappy om die ander een te laat sleg lyk, en ek is heeltemal nie gewoond daaraan nie.
    Ek kan nie onthou dat in SA bv. COKE kon vertel PEPSI is sleg nie maar hier doen hulle dit.
    Vir persoonlike mense om so op te tree is mos net so erg soos skinder en in ‘n mate naamskending veral as jy kom stories opmaak ook. Dit is onnodig om so laag te daal as jou werk en diens van ‘n goeie kwaliteit is en mense hulle eie gedagtes daaroor kan opmaak.
    Ek het een jaar vir ons hokkiespan wat ek afgerig het, laat baaidjies maak en toe die tannie begin met ons moet eerder met haar die bestelling plaas want die ander vrou kan nie naaldwerk doen om haar lewe te red nie het sy toe net daar op die plek die bestelling verloor. Dit het nie reg gesit toe nie en dit sit nie reg nou nie. Klaar!

    Like

    1. ek dink nogals hier is ‘n wet (of dit was altyd so) dat een maatskappy nie ‘n ander mag slegmaak in advertensies nie. ek weet nie of dit nog so is nie, maar dit verhoed nie klein outjies wat graag op die been wil kom om dit te doen nie. Dis regtig baie lelik

      Like

      1. In Engeland mag jy sulke goed in advertensies sê, maar jy moet wetenskaplike of skriftelike bewyse hê dat jou produk, bv. waspoeier, of selfoonnetwerk beter of goedkoper is.

        Dit verskaf nogal snaakse advertensies, ek moet sê.

        Jou punt is wel korrek. Ek werk by ‘n lugreëling maatskappy. Ek verduidelik hoekom ons s’n baie goed is, en sal punte lig bv. en sê dat ons produk funksies het wat ander nie het nie, maar ek noem nooit name nie. Ek dink dit is in swak smaak.

        Like

  5. Neewat Toortsie – dis nie skinder nie – dis ‘n absolute waarheid wat jy hier uitlig en benadruk. En hoogs onprofessioneel – sommer net swak wanneer ‘n persoon of maatskappy daardie doen – dit neem sommer die hele plesier van aankoop vir my weg. En wee’jy ek skroom nogals nie om mense reguit te vertel dat dit my so afsit dat ek werklik nie vir hulle gaan ondersteun nie.

    Mens wil darem goeie herinneringe van aankope hê

    Like

  6. Hier by ons ou dorpie het sommige mense ook die neiging, soos ek of facebook gese het. Ek glo weer as al die besighede ‘n saamwerkende houding het en nie mekaar afkraak nie, maak almal op die ou einde meer geld! Dan raak mens nie in prysoorloe betrokke nie en almal vra die regte pryse vir die regte produkte. Ons glo ook daaraan om alle besighede te ondersteun en gaan koop nie gedurig net by een plek nie, maar ondersteun die ander ook. Ons dorpie is klein en almal het mekaar nodig.

    Like

  7. Amen. Dit geld vir skole ook, waar een skool deur ‘n ander afgebreek word deur Onnies/ouers ens. Mens kan dit deurtrek na baie dinge, nie net dienste wat gelewer word nie. – Mens het nooit die eerstehandse kennis/inligting om “saam” te praat nie, daarom verpes ek dit ook as mense[skole]/besighede mekaar so afbreek. Jy ken nie die omstandighede nie en dis baie keer mense wat hul eie swakheid wil verbloem wat dit doen.

    Like

  8. Analoog aan dit waarvan jy praat: Moenie my probeer dwing om ‘n produk te koop nie. As iemand my wil stoomroller en nie toelaat om eers my huiswerk te gaan doen, pryse of kwaliteit te vergelyk of wat ook al nie, verloor hulle my. Dit help my niks hulle vertel my hoe sleg die kompetisie is nie. Ek wil weet HULLE produk werk en is waarde vir geld.

    Like

  9. Sjoe Antie Toorts… gaan ek lelik klink as ek sê dit is moeiliker in kleiner dorpies juis oor almal mekaar ken? In die groter stede hier gaan dit oor winskope… as X vir jou ‘n beter prys kan gee as Y, maak dit nie saak of hy X sleg sê nie… Dit is hoe gedesensitiseer ons al hier is!

    Like

  10. ag, jy is net bederf!!! gewoond dat daar soggens VROEG al ‘n nuwe storie is!!! maar, terwyl jy die klippie uitgehaal het, was die nuwe een gepubliseer, so….. lekker klippies uithaal!! geniet jou dag

    Like

Gesels saam, asseblief!