Plaasmense… onthou julle nog die tye VOOR Eskom??

Vlam het my herinneringe nou behoorlik oopgekrap in haar skrywe oor haar lewe op die plaas. Ons almal is maar afhanklik van Eskom. Want die feit bly staan, ons kan nie meer daarsonder nie!

Daar was ‘n tyd wat ons totaal onafhanklik van Eskom geleef het en ‘n goeie lewenskwaliteit gehandhaaf het.

Ek het op ‘n plaas grootgeword en ons het nie die luukse van Eskom krag gehad nie. Eers het ons ‘n ou Lister-enjin gehad wat slegs 32 volt kon opwek. En dít was maar net vir ons ligte. Die enjin het die batterye volgelaai en dan is dit afgesit vir die volgende paar aande. Wanneer die liggies dan weer te flou begin raak het, is die enjin maar weer aangesit. Maar as ek nou mooi onthou, het my ma se naaimasjien en ook haar menger (deeg menger) met 32 volt gewerk!

Later het ons ‘n 220 volt enjin gekry, en kon ons saans TV kyk, ons ligte was sterker, en ons kon ander luukses ook kry, soos ‘n Alaska vrieskas wat met krag gewerk het en net twee ure per dag elektrisiteit benodig het. Voorheen het ons yskas en vrieskas met lampolie (parraffin) gewerk, wat weekliks aangevul moes word. Net my pa kon dit doen, want die vlammetjie moes presies reg brand, anders was die yskas te koud of anders het dit ontdooi!! (In my man se huis was dit my skoonma se werk, toe trou ons…. toe is die yskas elke 10 dae dood, want nie ek of manlief het ooit gedink dat ‘n yskas parraffin moet kry nie!! 😉 )

Die huise het meestal AGA stowe gehad wat met steenkool gewerk het. Elke oggend en elke aand moes Oupa dan die stoof kom “skud”. Die as is uitgeskud en nuwe steenkool is bo-in gegooi. Ons stoof was altyd heerlik warm en as ons biltong gemaak het, het ons dit ook bokant die stoof opgehang, dan was dit sommer gou droog. Ons badwater is ook deur die stoof verhit. Niemand mag ‘n vol bad getap het nie, want die water was te skaars en dan het die volgende ou koud gebad! Wasdae was die oond altyd koud, daar is te veel water getrek wat deur die stoof verhit moes word.

Ons het sulke swart strykysters gehad wat op die stoof warm gemaak is. Ons strandhuis was “bedraad” vir gaslampe. Die hele huis is met gas voorsien vanaf ‘n sentrale punt en al die vertrekke het gaslampe gehad. En gasgeizers vir die badkamers en natuurlik ‘n gasstoof. My man onthou ‘n tyd van olielampe… en ‘n houtstoof…

Weet julle, ons sal heeltemal regkom sonder Eskom. Maar dit sal ‘n paar aanpassingkies verg… Ek het mos vertel van die Outeniqua Trout Lodge  wat hulle eie krag opwek, ens… Wie het nog sulke herinneringe? Wat het julle gedoen voor ons “beskaafd” geraak het om julle lewe te vergemaklik?

Groete

Toortsie

Toortsie se Bantingboerekosboek Facebook page

Toortsie se  Facebook page

Finesse Blogger of the week

Finesse: Skryf jou stories!

Toortsie by Pinterest

 

27 thoughts on “Plaasmense… onthou julle nog die tye VOOR Eskom??

  1. Ek kon nie wag vir skoolvakansies sodat ek op die plaas kan gaan kuier nie. Daar was ek die hele vakansie lank die offissiële donkie stoker, yskas parrafien volmaker en bringer van fynhout om die stoof brand te maak. Deur die dag moes ek die vinkpopulasie in die lande beheer met die windbuks.

    Like

  2. Ek het al in die Karoo vakansie gehou sonder krag en waar die donkie gestook moes word vir warm water!!! Dit was ONGELOOFLIK lekker. En die stêrre!!!! So mooi oor die hemelruim soos ek nog nooit hier in die stad gesien het nie!

    Like

  3. Ons kragopwekker was meer buite werking as in werking en hoe romaties is kan kerslig nie wees, veral as dit jou eerste jaar van jou huwelik is. Maar tog as jy kyk na die stadsmense, hoe geniet hul die gastehuisies op die plase wat primitief is, geen krag, gas of ‘n donkie vir warm water, se nie hul sal ‘n lewe so kan voer nie, maar net die wegkom van modern en gejaagd.

    Like

  4. Op Struisbaai was dit ook so lekker. Maar so ‘n enjin word vroeg saans afgesit en dan bad jy- by kerslig! En jy lees- by kerslig! Lekker, maar swaar vir die mense wat permanent daar gebly het.

    Like

  5. Ons het nog ‘n koolstoof in die huis gehad tot ek so ses of sewe was. Skoolsokkies is op wintersoggende voor die stoof gehang vir jou koue voetetjies. Die kombuistafel was ook dan die snoesigste kuierplek. Die kole-lorrie het een keer ‘n week omgekom en sulke groot kolesakke was dan in die kolekamer gestoor.

    My Ouma het my vertel dat dit my Ma se plig was om in die middae na skool vuur te maak sodat die stofie nou “kookgereed” is by die tyd wat Ouma by die huis kom. My Ma was toe eendag laat, en Ouma amper al by die huis, toe sy en die bure se meisiekind besluit het om die vuurtjie aan te help met ‘n bottel parafien. Die maatjie het toe brandwonde opgedoen en ‘n “instant” beenhaarverwydering gekry maar ek glo nie haar brande was so erg soos my Ma se boude nie.

    Like

  6. Wat PJ sê is presies waarmee ek groot geword het – totdat Eskom [toentertyd Evkom?] besluit het om krag aan te lê na die plase in ons omgewing. Die sterre op die plaas was hemels! ons het nagte buite op die grasperk gelê en na die sterre gekyk – en gekyk wie kan eerste ‘n satelliet waarneem! Langenhoven het gesê “hy wat nie met kerslig groot geword het nie, weet nie wat liefde is nie” – [dis hy, nie ek nie 🙂 ]
    Die niggies/nefies het oor Desembermaand kom kuier en praat nou nog van die heerlike vakansies op die plaas. Gaslampe onthou ek ook nou! [ek het al daarvan vergeet] en kragopwekkers. Die ou koolstoof was die kuierplek saans…ook die plek waar die klein dagoudkuikens wat te swak was om op hul eie te wees op ons skote gehou was [saans]. Die ou koolstoof was ook die plek waar my ma al haar kinderdae-stories opgediep het en ons soms laat skater het van haar jongdae-joligheid in die koshuis – met die maats. Ons het lanterns ook gehad.

    Like

      1. Ek was nie seker of dit daardie tyd Evkom genoem was nie, dis so lank terug dat ek nie seker was van die regte akroniem nie 🙂 Ja, dis lankal dat hulle Eskom is. Dit was selfs vir my snaaks om Evkom te tik! lol [ek het eers getwyfel oor die v/f toe sien ek die f daarin lyk erg snaaks haha]

        Like

  7. Baie hang maar af van hoe jy ingerig is. Op die plaas het ons net sonkrag. As die batterye pap is/raak, dan is dit ook ok, want ons steek maar net ‘n lampie of ‘n kers aan. In die dorp/stad is dit ‘n heel ander storie, want jy is nie daarvoor ingerig nie.

    Like

  8. Ek was ‘n stadskind. Kerse was gebrand as die krag uit was. 😆 steenkool stowe was die goed wat my ma ons van vertel het. Tot ek die eerste keer by Homer se mense gaan kuier het. Daar het die ou Geel aga met die inloopslag my oog gevang. Ek was so verbaas, jy sou my met ‘n veertjie kon omtik. So ewe met ‘n kraan aan die die kant waar daar water uitgekom. (Arrie, ek kan nou die onthou of die geel stoof met die watertenkie en kraantjie die aga was nie, maar haar naam was in elk geval Antjie Somers. Maar iewers was daar ‘n Aga ook.) Die drommetjie steenkool langs die stoof. Dit was vir my ‘n belewenis. Ek kon nie glo die ys en vrieskas wat paraffien moes kry en ‘n vlammetjie wat nogal brand kon koud wees nie, maar nou ja! Nege uur was die kragopwekker afgesit en in winterty weer vyfuur aangesit.

    Like

    1. Olga, ek dink dit WAS maar ‘n AGA. Ons stoof het nie ‘n kraan gehad nie, ek dink dis omdat die water gekoppel was badkamer toe. Maar toe ek later my eie AGA gehad het, het dit ‘n kraantjie gehad. Jy is HEELTEMAL reg!!
      Xena, mag daar NOOIT weer beurtkrag kom nie, want wat gaan ons met jou maak as jy na drank gedryf is??? Dis NOU AL soms moeilik om met jou huis te hou hier in blogland!!! 😉
      Leon, jy som dit mooi op… ons is net nie nou ingerig daarvoor nie, maar ek dink dit sal maklik wees om oor te slaan, sou dit nodig wees.

      Like

    1. ag toe!! Hoekom sou jy getraumatiseerd gewees het agv ‘n swart strykyster?
      Oeee dit het die klere so lekker gebrand… dan is daar so ‘n geluid (sis geluid) wat mens nie uit jou geheue kan wis nie!! 😮

      Like

  9. Nou ja wel… ons lewe nog soos julle kan sê in die ou dae.. ! Eskom krag was te duur om aan te sluit op die plaas. Met die gevolg, Ons het solars, ‘n heerlike ou koolstoof en gasstoof as dit nodig is. Ons het ook ‘n donkie vir warm water buite. Verder gebruik ons kragopwekker indien nodig vir wasgoed was ens. Ek stryk nog steeds met yster strykysters wat op koolstoof of gasstoof warm gemaak word, al het ek ‘n modern strykyster. ! Die dingetjie kom net orals by en jou bo-arms word sommer ferm ook met die gestrykery. As ek so luister na die geklaery en beurtkrag met die mense wat Eskom het… dink ek ons is BAIE bevoorreg om nog soos uit die ou dae te lewe. Heeltemal onafhanklik en mense is mal daaroor om by ons te kuier om te kan deel uit ‘n stukkie van toeka se tyd. !!

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!