Verjaarsdagpartytjies

Ek kan nie meer so baie van my kinderpartytjies onthou nie. Al wat ek weet, is dat as my ma ‘n ding gedoen het, het sy dit GOED gedoen. Toe ek 7 geword het in Sub A, het sy BAIE kinders genooi. Ek sou eintlik skryf “die hele skool”, maar seker darem nie. En daar was KOEKE! Nie net een fantasiekoek nie. Waaraan jy kan dink – dit was daar! Onder andere ‘n pop-koek, wat gebak is met ‘n plaatjie met ‘n gat in die middel, dan het die Barbie-pop daarin gestaan.

Toe ek dorp se skool toe is in standerd twee, het sy ‘n skattejag gereël in die natuurtuin in die berg. Dit was voorwaar pret. Eers moes ons die koeldrank soek… dan het ons ‘n speletjie gespeel… dan die aartappelskyfies (tjips)… en ‘n ander speletjie gespeel… dan die roomys, ens. Ek dink nie daar was ‘n koek betrokke nie.

My mondigwording was ‘n partytjie op sy eie. Dit was by ons op die plaas (200 km vanaf Stellenbosch), maar die studente laat hulle nie onder kry nie.  Hulle het met bussies en motors en wat ook al gekom en kom party. Die stoor is reggemaak en al die bure was genooi. Met ‘n lewendige orkes en al! En my ma het uitgehang met die eksotiese kosse, en verder het ons skape op die spit gehad en GEKUIER!!

Vir my 40e verjaarsdag het my man vir my ‘n verrassingspartytjie gereël op die dorp, vir my vriendinne… En die mooiste ruiker blomme… En almal het gedink hy is SOOOOOO oulik!!

Soos ek ouer word raak ek al hoe luier. Deesdae maak ek sommer ‘n klomp soutterte en nooi net die vriende oor vir ‘n drankie en eetdingetjie…..    Wat doen julle vir ‘n verjaarsdag? Ek weet julle sal kreatiewer wees as ek!!! Komaan, vertel… mens hou dit mos nie net vir jouself nie???

20 thoughts on “Verjaarsdagpartytjies

  1. Toortsie, hou van die skattejag idee en die opskop in die stoor!

    My verjaarsdag is beslis een van my gunsteling dae van die jaar, want dit beteken partytjie tyd. Ek het ook groot geword met verskeie kunswerk verjaarsdagkoek – my ma se Barbie koek met die rok van smarties, my ouma se damkoek met ‘n perskebloeisel boom en swane op die water…..daar was heelwat meer!

    Ek en Manlief verjaar net ‘n week uitmekaar so nou hou ons elke jaar ‘n groot opskop. Ons het al ‘n Bowling en Hot Dog-partytjie gehou, brunch langs die kanale hier in Amsterdam, pannekoek en sangria in Amsterdam se Bos, Boston High Tea met allerhande handtertjies en sjampanje en my gunsteling, vir my 30ste verjaarsdag het ons ‘n cocktail partytjie gehou teen die hange van Tafelberg met Cosmopolitans, Pina Colades en kos waaroor ons nou nog droom. Ek begin sommer nou die dae aftel na volgende jaar 😉

    Like

  2. Instead of counting candles,
    Or adding up each year
    Consider all your blessings now,
    The reasons for good cheer

    Consider special people
    Who love you, and who care,
    And all who have enriched your life
    Simply by being there.

    Ponder all your memories
    That passing years can’t mar,
    Experiences great and small
    That have made you who you are

    Another year is an awesome gift,
    So cut your birthday cake and say:
    “Instead of counting birthdays,
    I’ll count each blessing every day!”

    Blessings, dearest M-E!! x

    Like

    1. Dankie BB, dis SO spesiaal!!! Soos AL jou gedigte spesiaal is!!!
      Dankie laviga, dankie Xena. Nou dink julle seker ek het hierdie stuk geskryf sodat ek wou he julle moet weet dat selfs ‘n TOORTS ook soms verjaar!!! 🙂 Dankie julle is dierbaar!!

      Like

  3. Verjaarsdae is en bly maar spesiaal.

    Omdat geld nie in oorvloed was tydens my grootwordjare nie, het ons dikwels handgemaakte geskenke gekry…’n poppebedjie, ‘n muurbehangsel vir my kamer, die mooiste popklere en alles was altyd ‘n groot verassing. Vroegoggend wanneer dit nog donker was, het ek altyd my hand uitgesteek en so gevoel-voel of hulle nie dálk vergeet het nie. En dan voel ek hom – die pakkie met krakerige papier toegedraai op my bedkassie en dan is dit werklik: Ek verjaar!

    Wanneer ons partydjies gehad het, het my ma baie moeite gedoen. Daar was altyd ‘n baie spesiale verjaardagkoek. Op my tiende verjaarsdag het ek ‘n Groot-Mevrou party gehad. Almal moes hulle ma se rok aantrek en ‘n handsak en hoëhakskoene aanhê. Dit was so snaaks, want in Vryheid het mens geloop om by jou maatjie te gaan speel. Niemand is rondgekarwei soos in vandag se dae nie. En hier kom Belinda aan…in haar ma se TROUROK!

    My 21ste was ‘n kaas-en-wyn-affêre – baie lekker.

    Maar ouens….die beste kom nog. In 2011 slaat die uwe die groot 4.0. Eintlik ek en manlief albei. Ons het besluit om ‘so bietjie selfsugtig te wees vir dié een. In plaas daarvan om almal te bederf met te ete en te drinke, vat ons daardie geldjies en ons gaan einde Februarie vir 3 dae op die Sinfonia na Inhaca eiland vaar. Ons kinders gaan natuurlik saam en ons was so nice om AL ons vriende en familie saam te nooi, maar hulle is vir hulle eie finansies verantwoordelik. Sover is daar een gesin wat saam met ons gaan en ons gaan ‘n BALL hê!! Sal julle kom vertel…

    Like

  4. Dan’s dit goed dat ek hier kom klik het ook! BAIE geluk met jou verjaarsdag! Mag daar VELE daarvan wees en ‘n Geseënde een daarby vir jou! Hier is dit reënerig en koud – ek hoop jou weer is beter daardie kant! 🙂 As kind het ons nie baie groot partytjies gehad nie en vir my eie het ek dit so lekker as moontlik probeer maak met die maatjies wat hulle wou uitnooi, maar noudat hul ouer is, verwelkom hulle ook iets wat “stiller” is as ‘n bondel maats, maar ek glo ‘n 21ste moet iets spesiaals wees darem. Myne was, dus sal ek seker maak my kinders s’n sal ook wees. Lekker dag daar! Deur jou inskrywing oor musiek is ek so met die week “vakansie” wat ons het met musiekdinge besig ipv skooldinge! 🙂

    Like

  5. Hallo Tootsie 🙂

    Ek weet nie wat ‘n verjaarsdag party is nie, ek skram heeltemal weg van die goed af 😉

    Maar ek het een klein seuntjie sin om te reël, en dit word nou al ‘n nagmerrie vir my. Hoe entertain mens ‘n klomp 4jariges by jou huis? Help!! Enige idees?

    O en Happy belated Birthday !!!!

    Like

    1. Hello Zee. Nee!! Ek weet nie!!! Ek was NOOIT goed met kinderpartytjies nie!!! En ook nie met fantasiekoeke nie!! ek het altyd vir die eetgoed gesorg en die kinders moes hulle self vermaak – en ek dink dit was ‘n fout… nou is hulle al mooi groot, so dis nie meer so ‘n bekommernis vir my nie.

      Like

  6. ek sal ook eendag blog oor my verjaarsdae 🙂 nou vir eers sal ek se dat ek is mal oor onthaal en sulke dinge maar deesdae is ek ook maar lui en die mense wie ek wil nooi bly te ver van my af so ek hou niks se partytjie nie , maar die jaar , ek word 45 sal ek graag partytjie wil hou 🙂

    Like

Gesels saam, asseblief!