Gebeur daar deesdae nog wonderwerke?

Expect a miracle every day… expect a miracle when you pray. If you expect a miracle, God will find a way to perform a miracle to you each day….

Baie mense glo dat wonderwerke slegs in die bybelse tyd gebeur het. Tog sal iemand dalk die woorde – “wonderwerke gebeur nog” uiter en ek is nie seker of hulle dan altyd besef wat hulle sê nie.

Ek glo dat daar nog elke dag wonderwerke gebeur – ons moet net ons oë oopmaak en dit herken en ERKEN as ‘n wonderwerk… dan gaan jy dit al meer raaksien.

Ek wil vertel van ‘n paar GROOT wonderwerke wat ek al beleef het.

My pa het beesborsstuk geëet  en ‘n beentjie ingesluk. Na tien dae ontdek hulle toe die gat in sy slukderm. Die dokter het baie duidelik vir ons ingelig dat daar niks is wat hulle kan doen nie, dis al te lank na die tyd en hy is te oud. Ander dokters hoor daarvan en na baie operasies wat beslis vir hom baie ongemak gegee het, kon hy na 6 weke die hospitaal verlaat…. en weer eet! Hy is wel 10 dae later oorlede, maar tot vandag glo ek dat dit ‘n wonderwerk was. Die dokters het ook so gevoel.

Iemand het gif ingekry. Hy was baie lank in ‘n koma, en die hele gemeenskap het voluit vir hom gebid. Sy kans om te oorleef was NUL.  Sou hy wakker word, sou hy verlam wees.  AL sy organe het gaan staan. In daardie tyd het hy ‘n droom gehad waarin hy Jesus ontmoet het… Wel, hy het oorleef, en al was hy aanvanklik totaal verlam, het hy weer geloop, fiets gery! Wat ‘n WONDERWERK!! En hy het sy tweede lewe VOLUIT aangegryp tot sy dood 3 jaar later.

In L’Agulhas is ‘n man wat in ‘n ernstige motor-ongeluk was. Sy liggaam was BEHOORLIK gebreek. Hy sou nie weer kon loop nie…. Hy staan tans daagliks in sy winkel en bedien sy klante – as dit nie ‘n wonderwerk was nie, wat was dit dan?

In Oktober 2010 word 33 Chileense mynwerkers na veiligheid gebring nadat hulle vir 69 dae vasgekeer was onder in ‘n myn…

‘n Vriendin wat ALLES probeer het om swanger te raak, en as sy wel swanger raak, verloor sy die baba… gee moed op… hou op probeer… en raak natuurlik swanger en bring ‘n pragtige kind in die wêreld…    wat ‘n wonderwerk!

Moet ek nog aangaan? Of is julle al oortuig? Dan praat ek nie eers van klein wonderwerkies wat daagliks gebeur nie…  Vertel my watter wonderwerke julle al beleef het, asseblief! Ek wil dit graag hoor, want deur die vir mekaar te vertel, word ons geloof versterk.

Groete

Toortsie

Toortsie se Faceboekblad.

12 thoughts on “Gebeur daar deesdae nog wonderwerke?

  1. Ek het geestike wonderwerke beleef, maar nog nie fisiese healing wonderwerke nie … Maar ek glo verseker daarin.

    Ek het van die lewens verhaal van Des?Sinclair gehoor en die boek het gister hier aangekom. In die boek ‘ Life on the line’ word se strorie vertel waar hy as 9 jarige al as evangelis vir die Here begin werk het. Daar het soveel wonderwerke deur hom gebeur om mense tot bekering te bring… Kan nie wag om dit te begin lees nie!!!

    Like

  2. Ek is jare terug vertel ek sou nie normaal geboorte kon skenk of cardio sport beoefen nie. Pft! Ja right. Maar ek is nie seker dis ‘n wonderwerk nie, meer ‘n verkeerde diagnose volgens my Kardioloog. Ek glo wel in wonderwerke alhoewel daar vir my soms ‘n fyn lyn tussen toeval en wonderwerk is, maar kyk nou maar na baba Marzaan wat tydelik blind was, wat vir dood gelos was. Dit vir my is ‘n wonderwerk.

    Like

  3. My tweede kindjie het vanaf 2 maande ouderdom 2 maande lank pal middeloorinfeksie gehad en was pal op antibiotika. Op die ou einde land ons by die ONK( nog ‘n afkorting!).Toe sy medisyne nie help nie, maak hy ‘n afspraak vir pypies( grommits) in die ore, sommer daardie selfde aand. Ek gaan huis toe en besef dat ek nie hiervoor kans sien nie. Ek het ook nog nie ernstig oor die saak gebid nie. Ek bel hom en se dat hy medisyne vir nog ‘n week moet gee, voor ons die operasie doen, want ek wil eers daaroor bid. Toe ons die volgende week weer by hom kom, is haar ore gesond! Maar dis nie al nie: sy het sedertdien nog nooit weer oorinfeksie gehad nie. Sy is nou 25 jr oud.

    Like

  4. Ons het so ‘n paar weke voor my seuntjie se geboorte uitgevind dat die klein kêreltjie nie ‘n slukderm het nie. Op die sonars was daar geen dermpie nie en geen magie het dus opgewys nie, want obviously was daar niks IN sy magie (ás daar een was) nie. Dit wit gedeeltes wat op die sonar wys is water/ wateragtig en die gedeelte waardie magie moes wees, was dus donker. Mens noem dit Esofageale Atresie. Daar is amper altyd met EA ander afwykings ook betrokke, so ons kon nie seker wees van die werklik omvang van alles tot en met sy geboorte nie.

    Na die derde spesialis se diagnose, is die voorbereidings getref. Ek moes my hospitaal van keuse verander, om in die hospitaal waar ‘n bekende neonatale sjirurg opereer te wees, want hulle sou so min of meer 24 uur na sy geboorte met ‘n reeks operasies begin om vir hom ‘n slukdermpie te “bou” deur stukkies dunderm te gebruik. Ek moes ‘n keisersnit kry, want met normale geboorte sou die babatjie te moeg wees om so gou sjirurgie te ondergaan. Hy sou vir weke en weke by die hospitaal moes agterbly, so tuis het ek die vrieskas begin volpak met klaarvoorbereide etes sodat my man en ander kind nie sou hoef te sukkel nie. Dit sou beteken dat ek tussen die Oos-Rand en Pretoria sou moes pendel tussen hospitaal, huis en werk.

    Die aand voor die keiser was ek vir ‘n laaste sonar. Steeds niks. Teen daardie tyd het groepies oral oor die land reeds vir hom gebid – tot so ver as in Oos-Londen. Mense wat ons nie eens regtig goed geken het nie. Ek het vir my dokter gesê: “Dokter, wat maak ons as hierdie kind môre ‘n slukderm het?” Haar antwoord was: “Mevrou, dan skryf ons jou in die boeke op.”

    Hulle het hom vir miskien ‘n half-sekond aan my gewys toe hulle hom uitlig. Hulle moes dadelik voorsorgmaatreëls tref om keer dat hy aspireer. Vandaar het die pediater hom “oorgevat”. Hulle moes ‘n pypie by sy neusie indruk en dan was die groot vraag: Hoe ver sou die pypie gaan? As die pypie vassteek, weet ons die dermpie eindig blind.

    Terwyl die lewe en pyn stadig teruggekom het, het ek met elke voetstap in die gang gebid dat dit nuus sou wees. Goeie nuus. My man het ingekom en gaan sit met sy kop in sy hande terwyl die trane loop. Die pypie het deurgegaan – heeltemal deur! Daar wás ‘n slukderm EN ‘n magie!

    Die dokters kon dit nie verduidelik nie. Iemand het gesê hy het net nie amnionvog gedrink nie. ‘n Paar dae later is ons altwee verdwaas huistoe. Niks van die groot drama waarvoor ons reggemaak het nie.

    Vandag is hy 10 jaar oud en hy maak steeds op vir daardie maande. Hy sal sy kos enige tyd los vir iets om te drink.

    Ek glo met my hele hart en verstand dat daar iets baie spesiaals in daardie laaste paar ure voor sy geboorte gebeur het. Hy is my klein wonderwerk en ek loof en prys die Here nog elke dag vir die normale kind wat hy vandag is. Hy moet vir die Here BAIE spesiaal wees, want daar het eintlik al ander goed ook met hom gebeur waar die Here ook baie duidelik ingetree het, maar genoeg vir vandag. Ek raak sommer bewoë deur net die storie te vertel.

    Dankie Toorts vir die geleentheid om te kon getuig hoe wonderlik en getrou ons Hemelse Vader is – selfs wanneer ons geloof swak is en ons vir DAE lank gestaan en kosmaak het om die vrieskas vol te pak.

    Like

    1. en jy het nou vir my ook met nat oë. en die kos wat jy gemaak het, was nie uit ongeloof of swak geloof nie. Die feite was daar en dit was juis bedagsaam om voorsorgmaatreëls te tref. God is SO getrou!!! dankie dat jy dit vir ons vertel het. En ek glo jou seunskind (en die ander) gaan vir jou nog BAIE vreugde bring… en sy storie gaan nog vir baie mense ‘n getuienis wees.

      Like

Gesels saam, asseblief!