Op my ouderdom

As daar nou ‘n opmerking is wat ALTYD reaksie uitlok, is dit “op my ouderdom”. Om een of ander rede is daar altyd iemand wat daarmee ‘n probleem het… hulle is dalk ouer as jy en.. jy is nog nie so oud nie… of .. jy is so oud soos jy voel… of… wat bedoel jy – op jou ouderdom???   Die feit van die saak is, of ons dit nou wil erken of nie, …. o n s   r a a k   o u e r ! Daar is dinge wat ek 15 jaar terug kon doen wat ek nie nou nie meer kan of wil doen nie. Tannie Mags het altyd gesê: “Elke jaar is ‘n geskenk van die Here.” Soveel mense wat kla as hulle verjaar, want hulle wil nie ouer word nie. Ek geniet elke fase in my lewe voluit. En ek is dankbaar dat ek nie meer 20 is nie en ek wil my ook nie meer soos ‘n 20-jarige gedra nie – ek gun dit vir hulle!

Maar van “op my ouderdom” gepraat – Op 47 kry jy nie sommer maklik iemand wat bereid is om vir jou klavierlesse te gee nie – ek weet nie of hulle dink jy nie gaan oefen nie? En as jy op 45 begin rock guitar lesse neem, moet jy weet dat jy nie met die 18-jariges kan kompeteer nie – jy kry dit wel later reg, maar baaaaiiiiieeee later!! En as jy op hierdie ouderdom leer blokfluit speel, is jou gesig bloedrooi en en lyk jy soos ‘n oorryp tamatie. Op 47 kan ek nie meer ‘n marathon draf nie (my ortopeut kry die stuipe!), maar met genoeg tyd in die hand, kry ek dit klaar gestap! Dit wat ek probeer doen, neem dalk langer, maar as dit klaar is, vra mense nie hoe lank het dit geneem nie… Op my ouderdom doen ek goed waarvan ek hou. As ek op hierdie ouderdom ‘n kursus doen, gaan ek nie ‘n salarisverhoging kry nie, maar dis iets is wat ek nog altyd wou doenDanksy my ouderdom  hoef ek ook nie meer kinders te baar nie. Nee wat, ek geniet my ouderdom, het dit nog altyd geniet, ongeag wat dit is!!   Wat doen julle op julle ouderdom???

20 thoughts on “Op my ouderdom

  1. Nee wat, ek doen nog als wat ek gedoen het toe ek 20 was. Dit vat my net 2 dae agterna om te herstel! As ek nou hardloop kry ek nie miltsteek nie, die blêrrie ding val sommer uit!
    Toortsie, ek moet saamstem dat daar beslis baie 20-jarige dinge is wat ek bly is is verby. Soos “dating”. Maggies, ek is so bly ek hoef nie meer deur daardie senuweeagtigheid en gevroetel te gaan nie! Al waaroor ek spyt is, is dat ek toe ek jonger was nie beter na myself gekyk het nie. Op 20 het ek al die gebreekte bene, gerekte spiere en harde stampe afgeskryf en voortgekarring, maar al daardie dinge het teruggekom om by my te spook in die 40’s. Daardie kruisligamente beseer in die weermag om rang te kry? Daardie gebreekte beentjies in die hande na bolle swaai en die gebreekte tone met rugby? Die skrum wat amper my nek gebreek het? O, jy’s oor 40 nê? Hier is ons weer!

    Like

  2. Ja Dion, laaaaannnnnnkkkkkkal oor 40. met dankbaarheid. Ek het ook nie my liggaam opgepas nie en voel regtig spyt daaroor. Ek het altyd ‘n rugprobleem gehad, maar my nie daaraan gesteur nie en swaar goed opgetel, kaste rondgeskuif, ens. En ek is ook spyt dat ek nie altyd my kinders beskerm het toe hulle klein was nie in die sin van liggaampies oppas nie – ek het soms van hulle verwag om swaar goed op te tel en hulle dalk so in die proses beseer.

    Like

  3. Wag tot julle 60 is!!! Genade, julle is nog spring chickens! En ek doen ook nog alles wat ek gedoen het toe ek 20 was. Vermoed net dat sekere goed wat ek nog altyd wou doen, se kanse kleiner raak-soos Kilimanjaro klim, met die fiets van Johannesburg na Kaapstad ry(dis mos afdraand) ens…….

    Like

  4. Ek dink (nee – ek wéét) ons besef nie hoe ons ons liggame opneuk terwyl ons op skool en vir ‘n paar jaar daarna om ál wat ‘n baan is wil hardloop en ál wat ‘n bal is met ‘n bat wil slaan nie. Dis ongelukkig so dat hierdie goete jou inhaal en dan…eendag….vererg jy jou vir meneer wat nie hóór nie en skuif die boekrak self en dan pop jy sommer twee discs in een slag!

    Noem my die ystervrou. Ek het beslis ruggraat… MET titanium-reinforcements!!!

    “Op my ouderdom”…sing ek (in ‘n koor), maak my huis mooi, skuur meubels af, lees ander mense se blogs (;-)) , maar meeste van als: Ek GENIET!

    Ek GENIET dit om na musicals, ballet, opera en als wat ander mense goed doen te gaan kyk. Ek GENIET dit om iets nuuts te leer en om nuwe plekke te besoek en ek GENIET dit om ander se heerlike kos en koffies uit te probeer.

    Toe die lyf nog lekker flexible was, was die salaris ook minder, so … al kan ek nie meer noodwendig meer alles meemaak nie, kan ek darem deesdae die kaartjies bekostig!

    Blessed I am!

    Like

    1. Hello van nog iemand met titanium re-inforcements. Die eerste keer wat ek, nadat ek my nuwe kussingkies gekry het, by Woollies instap, gaan die alarm af!!! My dogter het amper stuipe gekry! Ek weet nou nog nie hoekom die alarm afgegaan het nie – ek glo nie dit het my nuwe discs opgetel nie??? maar nou pas ek myself ook op – trek nie meer SELF die hele huis se meubels, dra ‘n hele skaap opgesaag in ‘n boks, ens nie.

      Like

  5. toorts, jy het met die inskrywimg n gulde geleentheid om tag te speel laat verby gaan.
    Op my ouderdom, het ek einste vandag 4 ure in die tuin deurgebring. Met graaf, kruigenwa, vurk en hark. Ek is gn tawwe tina nie. My gunsteling tydverdryf is om met my honde te gaan stap. Ons gunsteling roete is 7km waarvan sowat die helfte kwaai opdraend is. Wens ek kon jou maraton saam stap. Hoe ver is dit en waar gebeur dit?

    Like

    1. Seker maar halfmarathon. 21 km. Om die waarheid te sê, ek slip op die laaste tyd. Maar hier by ons is mos die welbekende Voet van Afrika Marathon. Jy moet behoorlik laat wiel en die lekkerste is as jy by drawwers begin verbystap!!! Ek stap ook so 7 km per dag (ok nie elke dag nie, hoor).
      O, ek voel vreeslik “chuffed” dat jy dink dit was ‘n goeie tag onderwerp. Maar die wie ek sou wou tag, het darem gelukkig almal geantwoord! So, dit het gewerk!!! maar jy kan mos aangaan met die onderwerp… ek gee nie om nie!! Ek sal baie ge-eerd voel!! laaaaannnnnk terug het ek geskryf oor my dogter en haar lisensie, toe skryf jy daaroor en hulle gesels en gesels op jou blog en my bors swel en swel van lekkerte!!

      Like

      1. Olga, ‘n 10 km wedloop is baie lekkerder. Vra bietjie vir drawwers daar by julle wanner daar weer ‘n 10 km drafwedloop is dan skryf jy daarvoor in. Daar is altyd ‘n klomp stappers by wie jy kan inval, of stap alleen. dis HEERLIK

        Like

  6. Op my ouderdom is ek mal oor myself! Uiteindelik!!! Dis lekker om ouer te wees, lekker om ‘n ouer ma te wees en nog lekkerder om vir my man lief te wees… Nee wat, op my ouderdom is ek gemaklik in my lyf! Puik inskrywing Toortsie!

    Like

  7. Ons het merendeels fiets wedrenne. Kyk, ek het een jaar ‘n staptog van Graskop na Pelgrimsrus met die jeug meegemaak. Dit moet die op-en afdraend wees, maar dit was uitmergelend. Tog het ek dit geniet.

    Like

    1. Jy moet bietjie uitkyk. Ek is SEKER daar is drafwedrenne. Vra vir drawwers in jou omgewing. Jy hoef nie so ‘n ver afstand te doen nie. Maar die SAMESYN is HEEEEEERRRRRRRLLLLLIIIIIKKKKK!!

      Like

  8. My dogters weet nou al: as ons verby drawwers of fietsryers ry in die kar, dan wys hulle die mense aan my uit en sê so met ‘n gemaak-“sad” uitdrukking, “Look dad, they don’t own cars…” Ek wat altyd vir hulle gesê het toe hulle klein was: Ek loop of hardloop nie, dis hoekom ek ‘n kar het! Dit het nou teruggekom en my aan die boud gebyt…
    Nou ewe skielik wil ek ook fiks raak, draf en fietsry, want tienerdogters verwag nog steeds van hul pa om saam met hulle rond te spring, hulle te leer dans, tennis te speel en al daardie lekker dinge, en vroutjie wil nog steeds tien ton bo-grond oor ‘n naweek geskuif hê of ‘n nuwe terras om skadunet oor te span en orgidieë te plant… Ag nou-ja, waar’s daai fietspomp wat ek so ver weggebêre het…

    Like

Gesels saam, asseblief!