trieng trieng…

Dis darem interessant hoe dieselfde gedagte by verskillende bloggers opkom. Dit het al soveel keer met my gebeur dat ek dink aan iets, en dan, net mooi dieselfde tyd kies ‘n ander blogger dieselfde onderwerp!

Terwyl ons nou op ‘n vinnige vakansie was, en die selfone maar altyd byderhand wass, kon ek nie anders om terug te dink aan my kinderdae nie. In daardie tyd was daar mos nie selfone nie, en voordat ons met vakansie kon gaan, was al jou sake afgehandel. Dit was nie nodig om een of twee keer per dag huis toe of kantoor toe te bel en te hoor of als reg was nie. Niemand het ook in daardie tyd nodig gehad om jou dringend te soek nie en enige sake kon wag tot ons weer terug was by die huis. Maar elke middag net na die nuus, was daar die bekende boodskap op die radio – piep piep piep… piep piep piep….. Hier volg ‘n noodberig. Daar word gesoek na mnr so en so wat op reis is in die omgewing van watter plek ook al, in ‘n wit Chev, registrasienommer…. Die oproep is in verband met sy moeder/vader (of belastingopgawe??)… en hy word versoek om sy broer, mnr so en so te bel by die volgende nommer. En dit was ons enigste verbinding, en dit het goed gewerk! 

 En dan was daar tiekiebokse. Sou dit regtig nodig wees om te bel, moes daar ‘n tiekieboks gesoek word (dit was gewoonlik naby ‘n poskantoor), en met genoeg kleingeld byderhand, het jy dan in ‘n ry gaan staan en wag vir jou beurt. En dan, as jy net te lank praat volgens die persoon wat na jou moet bel, het hulle gou geklop teen die deur en moes jy klaar praat. En as die noodlot dit net so wil hê, is die kans goed dat daar ‘n probleem by die foon is en hy jou geld sluk!! Julle kan gerus ‘n bietjie vertel van julle tiekieboks-ervarings, ek glo daar was baie!!

Ek het hierdie storie begin deur te sê dat verskillende bloggers dieselfde dink. Eerstens wil ek net sê dat ek nie geweet het of ek weer aan die gang gaan kom nie. Ek begin toe om net so vinnig ‘n paar ander bloggers se goed te lees, en dadelik het julle my geinspireer!! Baie dankie! Ek sien toe dat Seegogga ‘n stuk geskryf het oor telefone, net mooi waaroor ek gedink het om te skryf! Haar ervaring was van deeltelefone, ek neem aan in die stad? Op die plase het ons ook plaaslyne gehad wat gedeel moes word. En net vir interessantheid, ons het ‘n soortgelyke telefoon as hierdie een gehad. Al verskil was dat hy darem ‘n meer moderne gehoorstuk gehad het! Ons was ‘n hele paar mense wat saam op een lyn was. En dan het elkeen sy eie “lui” gehad – ons s’n was drie kortes en een lange. Jy was nie veronderstel om in te luister as iemand anders gepraat het nie. Maar natuurlik was daar ‘n paar nuuskieriges, jy kon hulle asemhaling DUIDELIK hoor in die agtergrond. Daar was een tannie en oom wat ‘n koekoek-horlosie gehad het. En as ons soms daar gaan kuier het, was die deurtjie van die koekoek gesluit – sodat dit nie roep nie en iemand haar dan uitvang nie!!! Sies tog! En ons kon glad nie vry op die foon nie, want daar was net te veel nuuskieriges wat graag wou hoor!!! Watter plaaslynpret het julle gehad??

14 thoughts on “trieng trieng…

  1. Ek het sommige skoolvakansies vir oom Willem en tannie Lettie op die plaas gaan kuier. Die eerste keer het ek elke keer die telefoon geantwoord as hy gelui het en dan mooi vir die mense verduidelik dat oom/tannie so-en-so nie hier bly nie. Gelukkig het tannie Lettie later die dag my so bietjie reggehelp.

    Like

    1. Wat wonderlik is, is dat jy later net jou eie lui hoor. en as iemand skielik baie oproepe kry (een van die ander op die lyn) dan het ons dadelik gewonder of daar siekte of dood is!!

      Like

  2. Ek het ‘n ou plaastelefoon – dis nog steeds ‘n heerlike sjokmasjientjie 😉

    Ek het grootgeword met plaaslyne op verskillende plase en ons nommer was altyd 1 2, 1 korte, 2 langes. Baiemaal as mense van die stad kom kuier het kon hulle nie die luie uitmaak nie, dan tel hulle sommer op elke maal as die telefoon lui!

    Tiekiebokse was baie moeilik as jy in verskillende lande in bv Europa reis en jy het nie plaaslike kleingeld nie en jy moet bel om slaapplek te soek.

    Like

  3. In ons koshuis was ‘n foutiewe tiekieboks.. Jy kon jou 5c net so halfpad insit en weer uithaal, die ding waarop die gehoorstuk gerus het so ‘n bietjie wikkel, en dan die hele aand verniet verder praat. Die meisies het saans lang rye gestaan en wag om by spesifiek daardie telefoontjie te bel. Die poskantoor het hom gereeld kom regmaak, maar nie lank nie, of die tiekieboks was weer aan ons kant. Hy het seker geweet hoe arm studente is!

    Like

  4. Manlief se toe sy oupa oorlede is was sy pa met so ‘n noodberig opgespoor. Sy pas was oppad iewers heen en hulle het nie geweet waar presies hy hom bevind het nie. Ek onthou daardie “lang” 5c, ons het dit ‘n sommer lang tiekie genoem in plaas van 5c…my eerste boyfriend was in die weermag en hulle het so ‘n “lang tiekie”-telefoon gehad. Ek dink een van ons s’n in die koshuis was ook so,maar nie die een op my vloer nie. Ons plaas telefoon was 2 kortes en 3 langes en soms het ons vir iemand gese hy lag soos ‘n plaastelefoon, 2 kortes en 3 langes…lol! Ons ou tannie langsaan was alte nuuskierig, altyd opgetel en ingeluister en ons kon dit hoor! My ma het gereeld vir familie dan gese sy sal later bel, want nuuskieriges luister al weer af, dan het sy “klik” gehoor soos die tannie dit neergesit het. O ja, die einste tannie se dogter is in Ermelo die week van die 24ste met ‘n byl vermoor! baie tragies, berig is na my aangestuur van Beeld. Sy’t van Bybelstudie af teruggekom, net haar selfoon word vermis!

    Like

    1. Hello Nikita! Ek het net vandag aan jou gedink! Jammer van die vermoorde, en dit vir ‘n selfoon. Ai.
      Oor die plaaslyne – daar is mos die ou grappie dat jy vertel van die tannie wat siek is (die inluisterende een) en dan reageer sy, skoon vergeet dat sy afluister!!! Sal jou leer!!!

      Like

  5. Dit gebeur ook baie met my as ek dink aan iets en dan soos magic skryf iemand al klaar daaroor.
    Toe ke net begin het wou ek ‘n hele bladsy aan ons telefoonhokkie op die sraat gee, Sy naam es Herman. En dit verbaas my dat hy op ‘n baie besige straat staan maar tog so baie mense kry wat by hom bel. Ek wonder soms in vandag se selfoon-mal sameleweing hoe die arme telefoon boksie dit maak maar hy doen, en die beste is hy werk met kleingeld, wat in homself ‘n wonder is want die nuwe telefoonhookie fone gebruik kaarte.

    Like

    1. Toe ek begin blog het, en iemand anders skryf oor my idee, het ek dit maar gelos. Maar ek doen dit nie meer nie, want al skryf tien van ons oor dieselfde onderwerp, sal elkeen se storie anders wees. Dit het ek gesien met die Vrouedag-tee en ook met die kersie-op-die-koektrofee waar ALMAL geskryf het en ELKEEN se storie was SO interessant!!

      Like

  6. ons het weer n muntstuk gehad met n gatjie in waardeur n stuk vislyn geryg was. Dan moes ons die muntstuk in die gleuf sit en die knoppie onder die gleuf gedruk het. Dan het jy net eenvoudig jou munt stuk aan die vislyn uitgetrek. Dit was n lang sjielling genoem.

    Like

  7. al die dorpe in die land het nie terseldetyd outomatiese sentrales gekry nie. Ons het desjare so geselsvriendjie gehad by van rhynsdorp se sentrale. (Hy was verveeld, het n random nr geskakel en by die tiekiebox uitgekom toe ek en n vriendin verby gestap het) as ons erg verveeld was en hy was aan diens, het ons hom gebel en soms ure lank met hom gesels. Oproepe na sentraler was mos gratis. Dikwels het hy ons ‘deurgesit’ na enige nr van ons keuse. Ongeag waar in die land dit was.

    Like

  8. So het ek en ‘n vriend in die 70’s gaan blomme kyk en wou by sy familie naby Springbok op die plaas gaan slaap. Toe ons bel, se die sentrale: “Ek kan julle deursit, maar hulle is nie nou daar nie- dis hulle dorpdag. Hulle sal na middagete weer tuis wees. Probeer dan weer.”

    Like

Lewer kommentaar op toortsie Kanselleer antwoord