Oor Dissipline

Vonnie het ‘n baie interessante onderwerp gehad op Loslip. Dit gaan daaroor dat dissipline in ons land ‘n groot probleem is. Baie mense het hulle mening gegee, maar die meeste antwoorde het maar daarop gedui dat dissipline by die huis begin. Ek glo dit ook. Ek glo dat ouers hulle kinders baie liefde en aandag moet gee, ‘n voorbeeld moet wees, en kleintyd ‘n goeie wiks op die boud gee indien dit nodig is.

Maar ek het al by soveel jong ouers gesien dat hulle nie hulle kinders dissiplineer nie, en die verkeerde goed wat die kind doen, word ewe trots oorvertel. Hulle dissiplineer nie hulle kinders nie, want hulle (die ouers) is te sag of te lief vir my kind. Ek gaan seker vandag pak kry hier op die blog, maar ek voel dat ouers wat nie hulle kinders dissiplineer nie, lui en selfsugtig is en hulle kinders ontneem van ‘n goeie opvoeding. Kinders wat op ‘n jong leeftyd LIEFDEVOLLE dissipline (ek praat nie van fisiese mishandeling en aanranding nie!!) ontvang, respekteer ouers ook later in hulle lewe. Selfs in hulle tienerjare. En ‘n gedissiplineerde kind hanteer ook moeilike tienerjare en tienerhormone baie beter as ‘n ongedissiplineerde een. Huil eerder omdat jy jou kind ‘n pak slae gegee het, as wat jy eendag huil omdat jy dit NIE gegee het toe dit nodig was nie!!  Maar onthou net – daar is perke aan alles!!! Moenie jouself vergryp nie!! En as jou kind ‘n tiener is, is dit nog steeds nodig om vir jou kind te wys dat JY die ouer in die huis is, dat JY die verantwoordelike een is deur woord en voorbeeld. Die probleem is dat ons kinders ons toets, en ouer baie kere bang is vir hulle kinders en dan toegee vir goed waarvoor hulle nie moes toegee nie. En dan skielik het jy hierdie MOEILIKE tiener wie jy GLAD NIE verstaan nie en nie kan hanteer nie. En al wys die tiener dit nie, soek hy juis DAN jou aandag, aanvaarding en liefde. Kyk veral ook hoe jy MET en VAN jou kind praat. As jy heeldag vir almal vertel watter MOEILIKE kind jy het, hoeveel moeilikheid hy jou gee, moet jy NIE verwag dat die kind ‘n plesier gaan wees nie. Soek daardie een oulike ding wat jou kind gedoen het, en vertel dit soveel kere vir mense, veral daar waar jou kind dit ook kan hoor. Vertel vir mense dat jy TROTS is op jou kind, sommer net vir wat hy is, en nie net wanneer hy presteer het nie. Vertel vir jou kind, al stoot hy jou af, hoe lief jy hom het!

Het julle enige raad om kinders POSITIEF te beïnvloed?? Kom ons probeer om nie klippe te gooi nie, maar juis raad te gee en mekaar so te help.

Toortsie

16 thoughts on “Oor Dissipline

  1. Jong Toortsie, nou slaan jy die spyker sekuur op die kop. “Ek gaan seker vandag pak kry hier op die blog, maar ek voel dat ouers wat nie hulle kinders dissiplineer nie, lui en selfsugtig is en hulle kinders ontneem van ‘n goeie opvoeding.” Ek sal hier saam met jou in die ry staan vir die pak, want ek stem 100% saam met jou. Ek wens net ouers wil insien dat ‘n gedissiplineerde kind ‘n baie gelukkiger kind is as een wat nie weet wat, waar, wanneer, waarom en wie nie. Dissipline moet ook reeds in die babadae begin bloot deur die ouer wat konsekwent optree. Dit beteken natuurlik dat die ouer nie meer op dieselfde manier kan jol as voorheen nie en dit is net hier waar die probleme begin.

    Like

  2. “maar ek voel dat ouers wat nie hulle kinders dissiplineer nie, lui en selfsugtig is en hulle kinders ontneem van ‘n goeie opvoeding.”
    ek voel weer dat ouers wat hulle kinders slaan hulle eie te kortkominge en onsekerhede probeer verbloem en met geweld uit die kinders wil haal. hulle is self ook lui en soek die maklikste pad, ongeag dit effektief is of nie.
    ek sal seker nooit kan verstaan hoe geweld liefdevol kan wees nie. as jy iemand liefhet en wil beskerm sal hom mos nie seer maak nie.
    net iets om aan te dink. engeland en amerika laat nog lyfstraf by huise toe, hulle kan dus nie as ‘n voorbeeld gebruik word nie. baie “probleemkinders” word wel by die huis geslaan vir hulle oortredings en baie van hulle is selfs trots op die veit. dit ruim nie hulle probleme uit die weg uit nie.
    pakslae is iets wat die geeer beter laat voel en nie noodwendig die ontvanger regruk nie.
    ek weet julle het niks daarvan oorgekom nie, maar baie wetgehoorsame uitstaande mense het ook niks oorgekom deur dat hulle ouers hulle nie geslaan het nie. pak slae is nie die enigste manier om dissipliene te handaf nie
    raad? doen self wat jy van jou kinders verwag. lei met voorbeeld en nie geweld nie. dit kweek ware respek.

    Like

    1. DAnkie Aura. Ek stem ook baie met jou saam! Ek praat beslis nie geweld goed nie en dissipline kan op baie maniere toegepas word. Maar daar is baie ouers wat GEEN dissipline toepas nie, en DIS waar die probleem lê. As jy dissipline deur jou voorbeeld kan toepas, het ek geen probleem nie!

      Like

  3. Toortsie en Anna, ek’s derde in die ry, maar as julle my toelaat sal ek eerste ook staan?
    Ek het met pakslaes grootgeword en so-ook my kinders. Ek het my kinders nog nooit ‘n raps toegedien in woede of so dat hulle nie kan sit nie. Mens ruk mos nou nie die poepol onder die hoender uit en moker jou kinders tot daar hale sit nie! Dis geweld, ja, en ek staan dit ook nie voor nie, maar ek sien daagliks die verskil tussen my kinders en die wat nog nooit ‘n brandjie op die boud gevoel het nie. Ek het nog nooit skaam vir my kinders hoef wees of om verskoning vir hul maniere moes vra nie. Ek hoef net eenkeer te praat; somtyds is net ‘n fronsende blik genoeg om hulle te laat besef dat die streep bereik is. Sommiges sal sê: ja, hulle doen dit uit vrees vir geweld. Mens “slaan” mos jou kinders soos diere so dikwels as moontlik, want as hulle nie nou net kwaad gedoen het nie, is hulle oppad om dit te doen… Aura, goeie punt: ‘n pak slae is nie die enigste manier om dissipline te handhaaf nie. Dit is gewoonlik die laaste uitweg wanneer al die voorbeeld wys, praat, soebat, smeek en dreig geen uitwerking meer het nie.

    Like

  4. Ek het nog nooit ‘n kind van my moes pakslae gee nie. MAAR ek duld GEEN disrespek nie. Nie teenoor my nie en ook nie teenoor ander volwassenes nie. Jy SAL jou Moses teëkom by my – en daar’s talle ‘ways & means’… goeie ou ‘hok’, kamer springclean, tv in die garage vir ‘n maand – daai tipe ding… as ek van die skool klagtes kry oor jou gedrag of werk, span ek skoolwerk in om jou daaraan te herinner dat skool ‘n voorreg is en as jy regtig die perke oorskry het, word jou selfoon in die kluis toegesluit vir ‘n week of ‘n maand (afhangende van hoe ek voel). Jy kry dan ‘n oooouuuuuu model (wat ek op bystand het) wat darem kan sms en bel, sodat jy te alle tye beskikbaar is en my kan kontak indien nodig.
    Ek weet nie – ek dink die heel belangrikste ding van dissipline is self-dissipline (aan die ouer se kant) en dit is noodwendig: consistency. (Oits!!! ek kén nie nou die Afrikaanse woord nie – jammer 😳 ). As ek só sê, dan IS DIT SO. Klaar. My kinders weet dit. Ek tel nie tot 10 nie. Ek praat nie drie keer nie. Ek smeek nie, want jy hoef my nie te smeek nie. Ek doen alles wat ek kan om vir jou jou verantwoordelikhede in die lewe so aangenaam en (ge)maklik as moontlik te help maak (help met huiswerk, doen jou wasgoed, maak jou gunsteling kos, ry jou aan om te gaan skaats/kuier ens ens.) Jy sal dus alles in jou vermoë doen om dit vir my lekker te maak om jou mamma te wees.
    Bygesê: ons gesels vreeslik baie en baie graag – oor alles en nog wat. My kinders weet dat geen onderwerp taboe is nie. Jy mag jou mening lug en jy mag (selfs skokkende) vrae vra. En jy hoef nie altyd met my saam te stem nie. En ek antwoord ook nie sommer met ‘sommer’ nie.
    Ons skree nie op of vir mekaar nie. Ons slaan nie deure toe nie (die oudste se kamerdeur is eendag lang jare terug met die eerste toeslaan in die motorhuis gestoor vir ‘n hele paar maande! 😆 die ander het dit nooit eers oorweeg nie – siende hulle weet daar’s net één kans.
    Wanneer ek met grootmense kuier, loop speel jy. Grootmensgeselskap verveel jou – want ek sê so! Tensy die gawe antie wat kom kuier jou teenwoordigheid versoek en jou met vrae bestook en as dit familie is (oumas/tannies/niggies). Ek verwag van ‘n kind van gemiddelde intelligensie om die verskil te ken en te verstaan. Ek sal jou dalk soms uithelp met ‘n “kyk”, indien hulle dalk twyfel. Maar dis oor die algemeen nie nodig nie.
    Ek klink soos ‘n draak 😕 ek is nie. Ek is net werklik van altyd af ‘consistent’ (ai, wáár’s my woordeboek tog??). Ek het ‘n wonderlike verhouding met al 3 my kinders. Ek is trots op hulle en hoef my nooit te skaam vir hulle optrede. As dit wel gebeur het toe hulle kleiner was, het dit net eenkeer gebeur. en gewoonlik net met een van die drie. Die ander sien en verstaan beslis. (Nie “Monkey see… Monkey do” nie, maar “Monkey see… Monkey DON’T do” :mrgreen: )
    Ek sukkel om die volgende in geheel in Afrikaans te sê – en vra nederig om verskoning!:
    I think that parents’ self-discipline (self-respect) and consistency with regard to discipline, makes disciplining a child a wonderful opportunity to raise a decent human being and therefor a privilege for both the child and parent to be calling each other by that name: “My child”, “My Mom”, “My Dad”. When I say “my child”, I need to FEEL love and pride and joy and when my child says “my Mom” it has to feel exactly like that too. En daai gevoel kom net van selfrespek en wedersydse respek.
    Nog ‘n ding wat my grief en grootmense se opinies rondom ander grootmense. Die kind sien dit en tree dienooreenkomstig jou opinie op!! My peetkind se maniere en optrede laat veel te wense oor. Haar ma laat daardie kind álles toe. (sy was sieklik toe sy klein was…. shame, laat haar maar so ongeskik wees, jong, netnou… 😕 ) Wel, dis so erg, dat ek al amtelik ‘skeiding’ oorweeg het. Kan/mag ‘n mens jou peetkind skei?? 🙄

    Like

  5. Ek dink ek moet net hier noem dat dissipline en lyfstraf nie noodwendig by my dieselfde ding beteken nie. Ek self kan die pakke slae wat ek as kind gehad het op die vingers van my een hand tel en my eie kinders sal presies dieselfde kan se. Lyfstraf, in my boekie, word net toegepas wanneer die gedrag van die kind hom of ander in gevaar gestel het, en dit was maar min. Konsekwensie en voorbeeld het ek gevind was die effektiefste. Daar was duidelike reels en daar is by die reels gehou, ek en Pa ook. So ja, ek keur lyfstraf nie totaal af nie, maar ek glo dit moet net in die uiterste gevalle toegepas word.

    Like

    1. Dis vir my te oulik dat, omdat ek nou ‘n artikel geskryf het oor 2 woorde wat my pla, is ALMAL nou so versigtig met hulle taalgebruik!!! Ek is nie ‘n taalkenner nie, hoor! Maar wat, kom ons werk so ‘n bietjie aan ons taal!! Dankie vir die “respekte” wat ek so kry!!

      Like

  6. Ek maak my kinders self groot en dit is nie nodig om hulle te slaan nie. Leer hulle liefde en hulle respekteer jou. Ek kry elke dag drukkies van my kinders. Hulle weet nie wat geweld is nie. Die een kry nou karate klasse. Bewaar die donder wat hom oor ‘n paar jaar wil slaan. Hy weet nie van geweld nie, maar wel van self-verdediging.

    Like

    1. Geweld is ‘n ander ding. My kinders het ook baie drukkies gekry, die seuns soms ‘n wiks op die boud, die dogter het dit nie nodig gehad nie. Dalk het die seuns dit ook nie nodig gehad nie, ek was nog net te jonk en onervare?

      Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!