My eerste skooldag…

Ek was vir my eerste skooljare in ‘n plaasskool.  Ons was ‘n besonder groot Sub A-klas (ongeveer 7 of 8 leerlinge). Die skool was daardie stadium in ‘n groei-fase en die 2 klaskamers was te min. Ons het dus in die kerksaal skool gegaan, terwyl die Departement besig was om ‘n houtgebou op te sit, wat toe ons nuwe klas sou word. Splinternuut! Met nuwe tafeltjies en stoele, ‘n nuwe groen swartbord, ALS NUUT!!!  En Juffrou Paula se groot Houtkis waarin Husse-met-langore gebly het, was ook in daardie klas. Die Sub A’s en Sub B’s was saam in een klas. Goeie dae! Ons het sommer in Sub A al die Sub B werk ook geken!

Wat op my eerste skooldag by die skool gebeur het, kan ek glad nie meer onthou nie. (Ek dink my broers sou my spot met Flappie …)    Maar … Daardie dag het ‘n NUWE skoolbus begin ry! Voorheen moes my pa en ander ouers in daardie deel van die kontrei self hulle kinders skool toe neem. Dit was die begin van ‘n heel nuwe avontuur/kultuur.

Teen die tyd wat die bus by ons huis gekom het, het hy al by ‘n hele klomp plase aangedoen en kinders opgetel. My ma het rooi kreukelpapier linte gemaak en so oor die motorhek gespan en die bus het toe deur die rooi linte gery!!!    Ag!! Hoe wonderlik!!!!   Dit maak my NOU NOG OPGEWONDE!!!   Toe die busdeur oopgaan, was daar so ‘n kort bankie waar twee kinders kon sit. Wilfred (ook ‘n sub A-tjie) het toe alreeds daar gesit en ek het langs hom gaan sit. (Natuurlik is ek toe erg gespot daaroor!!)

My broer het een keer geskryf in die wasem teen die ruit. Toe het die busbestuurder hom amper van die bus afgegooi!! Net terloops. My pa was in dieselfde skool en het in sy dae nog te perd skool toe gegaan, en soms met ‘n perdekar. Ons het so 6 km van die skool af gewoon.

Wie van julle was in plaasskole? Hoe het julle by die skool gekom???

Helaas, hierdie plaasskool het in Desember 2015 sy deure finaal toegemaak. In ons harte sal hy egter altyd bly voortlewe.

Groetnis

Toortsie

Ns. Moet jy ‘n opstel skryf oor ‘My eerste skooldag’? Kliek HIER vir riglyne.

Toortsie se Bantingboerekosboek Facebook page

Toortsie se  Facebook page

Finesse Blogger of the week

Finesse: Skryf jou stories!

Toortsie by Pinterest

21 thoughts on “My eerste skooldag…

  1. Ek was ook in ‘n plaasskooltjie, maar dit was seker ‘n hele paar jaar voor jou. Ons het nie ‘n skoolbus gehad nie en moes stap, so om en by 6 kilometer op ‘n dag, maar ons het nie omgegee nie, want almal het dit gedoen. Terwyl my eie kinders op skool was, veral in die laerskool, het ek baie keer gewens dat hulle soos ek, die eenvoud en sorgeloosheid van ‘n plaasskool kon ken. Heerlike dae gewees.

    Like

    1. Was dit 6 km altesaam of 6 in die oggend en 6 in die middag?? Toe ek later in die hoërskool was, was die skool ‘n myl van die koshuis af. Teen ‘n bult uit. Maar 6 km per dag? Sjoe!!

      Like

  2. Met Ma se Taxi. Die hoërskool was 3.5 km weg gewees. Dit was heeltemaal aan die ander kant van die dorp – stap was buite die kwessie. Ons het wel op ‘n stadium fietsgery – seker so vir 2 weke lank. 😉

    Baie stadsskole sal my skool seker as ‘n plaasskool sien. 🙄 Ironies hoe die “plaasskole” wat eintlik ‘n dorp skool is, hulle nogal die loef kan afsteek met fasiliteite.

    Like

      1. By ons hoërskool was daar 4 of 5 rugby velde; 2 hokkievelde; 4 tennisbane, ten minste 4 netbalvelde, ‘n swembad en ‘n gim. Die hoof rugbyveld / atletiekveld het twee paviljoene gehad, altwee met ‘n gedeelte onderdak. Dit is meer as wat ek al by die meeste stadskole gesien het.

        Laerskool het minder fasiliteite gehad, maar kon altyd die hoërskool s’n gebruik as die nood druk. Wat nooit gebeur het nie.

        Ons was seker bevoorreg, maar ons fasiliteite was van die beste. Ek verstaan deesdae het elke kind toegang tot ‘n rekenaar met internet. Wanneer hulle dit ookal benodig. Beste van alles is dat die skool se fooie steeds ‘n fraksie is van die stads skole.

        😉 Perdry? Ek? Byt hulle dan nie?

        Like

  3. Ek was in ‘n plaasskooltjie, sowat 3km van ons plaas af, reg teen die teerpad. Ons was 32 kinders in twee klasse. Gr1-st2 saam en dan 3-5 saam. Die onnie langsaan, Oom Gert [soos ons hom genoem het], was ‘n boer ook en my sus-hulle het gekla dat hy “boerdery” met die seuns praat. My onderwyseres was BAIE goed, die skooltjie het toegemaak toe ek st1 was en moes ons dorpskool toe en sy was my st2 klasjuffrou en ek het soos in onlangs foto’s van haar gesien waar sy 80 geword het. Sy was ‘n PUIK onderwyseres. – Daardie waterval-foto’s wat jy op my blog gesien het, het haar seun juis vir my gestuur, hy het my blog raakgelees juis oor die plaasinskrywing en ons is in email kontak ens. In elk geval, ek onthou hoe ek vir die ander in my groep die somme op die losstaande bord [eenkant] moes skryf en dan het ons ons werk ge-“check”. Sy het ‘n hond gehad [Voete] en hy was altyd by die skool. [sy het reg langs die skool gebly]. Voete was almal se gunsteling. Ons het atletiek/konsert als gehad. Ek was ook meeste Vrydae in die skool die jaar voordat ek skool begin het en omdat ek gebrei het, het die groter dogters dit snaaks gevind en my altyd op hul skote gehad en moes ek al die r-woorde agter hulle aansê. haha…ek wens ek het daardie brei-r gehou, want ek hou so van mense wat brei! lol! Ek onthou ook ‘n groot tafel met allerlei speelgoed soos ‘n baan vir karretjies om te ry en speelkarretjies in die klas ens. Dit was HEERLIKE tye daardie. Een maatjie [FB vriendin vandag!] se ma het aan die ander kant van die skool [reg langsaan] gebly en koue dae is sop oorgestuur vir ons almal. Ai…waar is daardie goeie ou dae.

    Like

    1. Regoor ons skooltjie was die winkel. Dit was weerskante van die pad (die grootpad). Ons mag slegs op Vrydae 1e pouse gaan lekkers koop het. Dit was nog die instelling toe my eie kinders 23 jaar later daar skoolgegaan het. Vrydae het ons ‘n geldjie saamgeneem. Een so ‘n Vrydag hardloop ons toe winkel toe. maar daar was so ‘n effense afdraende en ek val my knieë stukkend. En my swart skoolkouse vol gate. Na 2e pouse het ons sang gehad en toe moes ons huppel, so al in die rondte. En omdat ek dit toe kon regkry, moes ek met my bene en kouse vol gate toe vir die kinders demonstreer hoe om te huppel. Ek wou net huil! Ek is nou nog so, dis beter dat niemand aandag gee as ek hartseer is nie, anders loop die trane sommer. Ek wonder nou nog – het die juffrou dit nie raakgesien nie? Of het sy dit JUIS raakgesien en wou my dalk troos? Toemaar wat, dit maak nie saak nie. Maar dit was lekker. Tog was dit vir my lekkerder toe ek later dorp se skooltoe was. Kinders kan maar wreed wees en as daar minder as ‘n handjievol kinders is om mee te speel, beteken dit dat jy vandag ‘n maat het en more weer nie!!

      Like

  4. Ulco ‘n klein kalkmyn / sementfabriek dorpie reg teen die Ghaap se rand was die plek waar ek eerste skool gegaan het. Dit was ;n klein dubbel medium skooltjie. Jufftou in sub A was Rina Collens.Die klas was een van daardie vooraf vervaardigde opslaan geboue. Vrek koud in die winter en lekker warm in die somer.

    Eertste pak ? Toe ek die sandbak se sand op die koolstofie wou kook!

    Wat ek later as groot voordeel sou vind was dat jy Sub B se Engels hoor terwyl jy in sub A is (dit is basies wat die Engelse sub a gedoen het.)

    Like

  5. Ek sit nou en wonder oor twee goed. Hoe kom dit dat ek deur Fb hier lees, maar as ek net na ons webblad toe gaan is jou laaste skrywery oor soen. En dan wil ek weet hoekom hardloop jy vooruit met die stokkie? Scrapy het nog nie oor skoolgaan geskryf nie…. of het sy? Sal my nie verbaas as ek pot misgesit het nie.

    Like

  6. Ek kan nie so ver terug onthou nie! 😉
    Nee.. ek wou nie skool toe nie maar ‘n tannie van my het op Springfontein skool gegee. Sy het my saam gesleep soentoe.
    Ek was die eenigste sub A-tjie in die koshouis… dit was ‘n geneuk… ek belowe!!
    Kamer inspeksies was nie iets om oor te lag nie… my gaai het dikwils gebrand!
    Daar was ‘n klong wat my nie gelaaik het nie. Hy het gewag to net voor die inpekteur by ons kamer gekom het… dan spring hy op my bed en ek kry die skuld! Ai… those were the days, my friend! 😉

    Like

Gesels saam, asseblief!