Daar’s drie susters…

 

Hulle sê daar’s 3 susters… maar ek sê daar’s 3 tiendes.

Besparing bly maar ‘n probleem. En blykbaar het ons Suid-Afrikaners ‘n baie swak spaar-kultuur. Volgens statistiek spaar ons maar ongeveer 1.5% van ons inkomste! En as DIT waar is, is hier ‘n RAMP op pad!! Want as ons nie spaar nie, waarvan gaan ons leef ná ons aftrede? Mense tree al hoe vroëer af. En word al hoe ouer??

Almal van ons voel maar of ons nie met ons inkomste uitkom nie, maar baie keer is dit die ouens wat die meeste kla, wat die meeste geld het vir luukses. As jy dan nie kos in die huis het nie, hoe is dit dat jy geld het vir die Huisgenoot, sigarette, drank? Dis nie dat ek mense hulle plesiertjies misgun nie, en baie keer is dit ál plesier wat hulle kan bekostig, of drink en rook die persoon dalk om die hongerpyne weg te steek. Alhoewel, ek wonder wat is die duurste – ‘n bottel sterk drank of ‘n brood??

Die feit van die saak is dat ons moet voorsiening maak vir ons oudag, of ons dit wil weet of nie. En ekonome wêreldwyd sê dat as jy jou leefstyl wil volhou ná jou aftrede, moet jy minstens 10% van jou inkoste spaar VAN JOU EERSTE SALARISTJEK af. En soveel van ons doen dit nie. So, as ons op ‘n later stadium eers begin, moet ons nog BAIE MEER as die aanbevole 10% spaar! Ag sies tog, en dan hoor ons so dikwels van ou mense wat wel hulle lewe lank gespaar het, en nou is die rentekoerse so laag en het hulle ook nie genoeg om van te leef nie. Tog voel ek dat hulle darem nog steeds beter af is as die persoon wat nie voorsiening gemaak het nie.

Ek hoor in die Oosterse lande is dit algemeen dat mense ongeveer 30%! van hulle inkomste spaar. Al wat ek wil voorstel is, begin VANDAG! SIT GELD WEG! In aandele, op die geldmark of WAAR OOK AL, maar DOEN DIT NET! En as jy dit nog nooit gedoen het nie en 10% klink te baie, begin met minder en vermeerder elke maand die bedrag totdat jy by ‘n goeie spaarbedrag uitkom. Jy SKULD DIT VIR JOUSELF!!!

Die een 10e is daardie geld wat jy spaar wat jy NOOIT aan mag raak nie, ook nie aan hulle rente nie. Die ander 10e is korttermynbesparing. Die geld wat jy spaar vir die wis en die onwis. Vir vakansies, of iets spesiaals of doktersonkoste, ens. Ek moet erken dat ek nog nie regkry om ALTWEE die tiendes te diens nie, maar ek werk daaraan.

Die derde tiende is vir my die heel belangrikste van almal. Daardie tiende wat jy vir die kerk gee! Ek was nog nooit spyt dat ek dit doen nie. God betaal vir my met rente terug!

Sterkte! Ek weet dis nie maklik nie! Maar hier is baie wat sommer baie geld spaar. Wil julle nie vir ons vertel wat julle doen, en hoe julle spaar nie?

Doen jouself die guns! Daardie 10% wat jy spaar is 10% wat jy VIR JOUSELF BETAAL!

Groete

Toortsie

Toortsie se Faceboekblad

10 thoughts on “Daar’s drie susters…

  1. More

    Gelukkig kan ‘n mens darem nie te veel spaar nie.

    Dit is nogal waar. ‘n Mens is op jou weerlooste op jou oudag en dit is dan ook die tyd wat dit die moeilikste is om iewers geld vandaan te kry. Inflasie hou nie op nie en rente koerse maak van ons almal gekke.

    Wag ek babbel. Wat ek eintlik wou sê. Gestel nou jy gaan vir 30 jaar in die arbeidsmark wees. Daar is al bewys dat jy (danksy saamgestelde rente) dat as jy net in die eerste 10 jaar van jou werkslewe spaar, jy waarskynlik beter af sal wees as wanneer jy net die laaste 20 jaar ‘n poging aanwend.

    Like

  2. Vir Anna was spaar, soos in elke maand ‘n bedraggie iewers wegsit nog nooit suksesvol nie. Net sodra daar ‘n bedraggie is, kom daar groot behoefte of nood en daar is die bedraggie daarmee heen. Nou “spaar” Anna maar in ‘n baie goeie pensioenfonds, uitkeer-polisse (lyk my dit is in vandag se dae nie meer beskikbaar nie) en haar huisverbandrekening. Die huisverband is nogal lekker, want met ‘n paar rande ekstra ‘n maand, spaar sy sommer baie op rente, die huis is baie gouer afbetaal en sy weet, sou die wiele van iets afval dan is daar ‘n neseiertjie wat onttrek kan word.

    Like

    1. Wat is ‘n goeie pensioenfonds anders as spaar? en uitkeer-polisse? Dit IS spaar!!! Lyk my Anna is HEELTEMAL op die regte pad! (Ek weet nie of EK aldag op die regte pad is nie, maar wel….) Ek skryf mos hierdie goed vir myself ook!!!

      Like

Gesels saam, asseblief!